From Wikipedia, the free encyclopedia
Boris Nikolajewitsj Jeltsin (Russies: Бори́с Никола́евич Е́льцин; 1 Februarie 1931 – 23 April 2007) was van 1991 tot 1999 die eerste president van die Russiese Federasie.
Boris Jeltsin | |
Amptelike portret (omstreeks 1991-'93) | |
1ste President van die Russiese Federasie | |
Ampstermyn 25 Desember 1991 – 31 Desember 1999 | |
Vise | Aleksandr Roetskoi |
---|---|
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Wladimir Poetin |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | 1 Februarie 1931 Boetka, Swerdlofsk-oblast, RSFSR, Sowjetunie |
Sterf | 23 April 2007 (op 76) Moskou, Rusland |
Politieke party | Kommunistiese Party van die Sowjetunie |
Eggenoot/-note | Naina Jeltsina |
Kind(ers) | Tatjana Djatsjenko Jelena Okoelowa |
Professie | Politikus |
Handtekening |
Jeltsin, wat op die dorpie Boetka in die Swerdlofsk-oblast van die Sowjetunie (USSR) gebore is,[1] was aanvanklik ’n ondersteuner van Michail Gorbatsjof, maar was onder die perestroika-hervormings een van sy grootste politieke teenstanders. Op 29 Mei 1990 is hy verkies tot voorsitter van die Russiese Opperste Sowjet. Op 12 Junie 1991 is hy deur die volk verkies in die nuwe amp van president van die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR), in daardie stadium een van die vyftien republieke van die Sowjetunie. Met 57% van die stemme het hy die tweede demokraties verkose leier in die geskiedenis van Rusland geword. Ná die bedanking van Gorbatsjof en die finale ontbinding van die Sowjetunie op 25 Desember 1991, het Jeltsin aangebly in die amp van president van die Russiese Federasie, die opvolgerstaat van die USSR. In 1996 is hy herkies tot president, maar hy was nooit weer so gewild nie ná ’n reeks ekonomiese en politieke terugslae in die 1990's in Rusland.
Hy het onderneem om die Russiese ekonomie in ’n vryemarkekonomie te omskep en het ekonomiese skokterapie, prysvrystelling en privatisasie daarvoor ingespan. Weens die metode van privatisasie het ’n groot deel van die land se rykdom in die hande van ’n klein groepie oligarge beland.[2] ’n Groot deel van die Jeltsin-era is gekenmerk deur korrupsie, inflasie, ekonomiese ineenstorting en enorme politieke en sosiale probleme wat Rusland en die ander voormalige republieke van die Sowjetunie geraak het.
Binne die eerste paar jaar nadat hy president geword het, het baie van Jeltsin se ondersteuners hul rug op hom gekeer en visepresident Aleksandr Roetskoi het die hervormings afgemaak as "ekonomiese volksmoord".[3]
Botsings met die Opperste Sowjet het gelei tot die grondwetlike krisis van Oktober 1993 toe Jeltsin opdrag gegee het vir die onwettige ontbinding van die parlement, wat toe probeer het om Jeltsin uit sy amp te verwyder. Die weermag het hom uiteindelik aan Jeltsin se kant geskaar en die Russiese Withuis beleër en met bomme bestook, wat gelei het tot die dood van 187 mense. Jeltsin het toe die grondwet geskrap, politieke teenstand tydelik verbied en sy ekonomiese eksperiment voortgesit. Daarna het hy ’n nuwe grondwet afgekondig, met groter mag vir die president, en dit is op 12 Desember 1993 deur ’n Russiese referendum goedgekeur met 58,5% van die kiesers wat daarvoor gestem het.
Op 31 Desember 1999 het Jeltsin in ’n verrassende stap sy bedanking aangekondig en die bewind gelaat in die hande van sy verkose opvolger, die destydse premier Wladimir Poetin. Jeltsin was oor die algemeen ongewild toe hy uittree.[4] Volgens sekere skattings was sy gewildheid toe so laag as 2%.[5]
Jeltsin se persoonlike en gesondheidsprobleme het groot aandag in die internasionale pers geniet. Soos die jare aangestap het, is hy toenemend beskou as ’n onstabiele leier, eerder as die inspirerende figuur wat hy eens was. Ná sy bedanking het hy op die agtergrond gebly en geen openbare aankondigings of verskynings gemaak nie.
In September 2005 het hy in Moskou ’n heupoperasie ondergaan nadat hy sy femurbeen tydens 'n vakansie op die Italiaansie eiland Sardinië gebreek het.[6] Op 1 Februarie 2006 het hy sy 75ste verjaarsdag gevier.
Op 23 April 2007 is Jeltsin op 76-jarige ouderdom aan hartversaking oorlede.[7][8][9][10] Hy is in die Nowodewitsji-begraafplaas begrawe[11] nadat sy liggaam in staatsie gelê het in die Katedraal van Christus die Verlosser in Moskou.[12]
Hy was die eerste Russiese staatsman wat in ’n kerkseremonie ter ruste gelê is ná tsaar Aleksander III. President Poetin het die dag van sy begrafnis as ’n nasionale roudag verklaar met vlae wat halfmas gehang het en alle vermaakprogramme wat vir die dag opgeskort is.[13]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.