tweede geologiese eon From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Argeïkum of Argeïese Eon is die tweede geologiese eon in die Aarde se bestaan. Dit het sowat 4 miljard jaar gelede begin met die einde van die Hadeïkum en geduur tot die begin van die Proterosoïkum sowat 2,5 miljard jaar gelede.
Eon | Era | Periode | Ouderdom Ma. |
---|---|---|---|
Proterosoïkum | Paleoproterosoïkum | later | |
Argeïkum | Neoargeïkum | Siderium[1][2] | 2630 -2420 |
Metanium | 2780 – 2630 | ||
Mesoargeïkum | Pongolium | 3020 – 2780 | |
Vaalbarium | 3490 -3020 | ||
Paleoargeïkum | 3810 – 3490 | ||
Eoargeïkum | 4000 – 3810 ? | ||
Hadeïkum | Neohadeïkum | Prometium | vroeër |
Die naam kom van die Antieke Griekse Αρχή (Arkhē; "begin, oorsprong"). Die eon is eers gewoonlik nie op grond van stratigrafie soos ander geologiese tydperke nie, maar chronometries bepaal. Gradstein hulle (2012) het nogtans 'n indeling voorgestel wat vanaf omtrent 3490 Ma stratigrafies gedefinieer word.[1] In sommige geskrifte word die Hadeïkum beskou as deel van die Argeïkum. Die grens tussen Hadeïkum en Aegeïkum is omstrede. Gradstein beskou die Eoargeïkum van 4,0 - 3,8 Ga as die begin van die Argeïkum. Goldblatt hulle noem hierdie tyd Prometium en beskou dit as 'n periode van die Hadeïkum omdat die Groot Bombardement van die Maan nog besig was.[3]
Toe die Argeïkum begin, was die Aarde se hittevloei byna drie keer so groot as vandag, en dit was steeds twee keer so groot met die oorgang na die Proterosoïkum. Die ekstra hitte is veroorsaak deur ’n mengsel van oortollige hitte ná die vorming van die planeet en sy kern en radioaktiewe elemente.
Tektoniese aktiwiteit het waarskynlik verskil van vandag s'n. Sommige wetenskaplikes meen dat omdat die Aarde baie warmer was, tektoniese aktiwiteit groter was. Dit het die vorming van kontinente voorkom totdat die mantel afgekoel en konveksie afgeneem het. Ander meen die oseaniese litosfeer was te lewendig dat tektoniese plate onder mekaar kon inbeweeg en dat die gebrek aan Argeïese rotse die gevolg is van erosie deur daaropvolgende tektoniese aktiwiteit.
Vandag word steeds navorsing gedoen om te bepaal of tektoniese aktiwiteit in die Argeïkum voorgekom het.[5]
Uit die ontwikkeling van die Sm/Nd-isotoopverhouding kom Rosas en Korenaga (2018) tot die gevolgtrekking dat die groei van die aardkors reeds aan die einde van die Hadeïkum volledig was en dat die konveksie in die mantel dalk reeds deur plaattektoniek plaas gevind het. Die tektoniek se styl kan nogtans baie verskil het met vandag en die spoed van die kringloop kan so hoog as 2-4 x 1022 kg/Ga gewees het. [6]
Hoewel uit die Hadeïkum noulik gesteentes bekend is kan uit die Argeïkum heelparty kratons onderskei. Die Kaapvaal-kraton van Suid-Afrika met sy Barberton-groensteengordel is die kraton wat die beste behou is. Daar word gedink dat die kraton soms superkratons gevorm het. Die periode Vaalbarium is na die bekendste voorgestelde superkraton Vaalbara (Kaapvaal+Pilbara) vernoem, hoewel dit nie seker is dat dit reeds in daardie tyd gevorm het nie. Daar het moontlik ook ander superkratons bestaan soos Superia (Superior+Wyoming+Kola-Karelia+Hearne volgens Ernst & Bleeker 2010), Sclavia (Dharwar+Slave volgens French & Heaman 2010) en Zimgarn (Yilgarn+Zimbabwe volgens Smirnov hulle 2013) Dit is nogtans moontlik dat Pilbara en Kaapvaal saam met ander kratons 'n groter superkontinent gevorm het sonder dat hulle aanmekaar gegrens het.[7]
Die Argeïkum se klimaat is 'n omstrede saak. Die δ18O-waardes wat in tjert gevind word, wys 'n baie hoë temperatuur van die aardoppervlak tot 1,5 Ga gelede (Proterosoïkum). Die reduserende aard van die atmosfeer beteken dalk dat die parsiële druk van koolstofdioksied baie hoër gewees het as vandag. Daar is ook biochemiese aanwysings dat die oudste lewensvorme, Archaea en Bakterieë termofiel was en 'n temperatuur van 100 oC kon oorleef het. Aan die ander kant het die son waarskynlik minder sterk geskyn. Daar is ook aanwysings vir 'n ystydperk in die Pongolium.[8]
Wetenskaplike bewyse dui aan dat lewe op Aarde minstens 3,5 miljard jaar gelede begin het.[9][10] Die vroegste bewyse van lewe is grafiet wat biogenies blyk te wees en voorkom in 3,7 miljard jaar oue afsettingsgesteentes wat in Wes-Groenland ontdek is[11] en fossiele in 3,48 miljard jaar oue sandsteen wat in Wes-Australië ontdek is.[12][13]
Fossiele van sianobakteriese lae wat gehelp het met die vorming van suurstof in die atmosfeer[14] het regdeur die Argeïkum voorgekom en veral algemeen geraak laat in die eon.[15] Benewens die domein Bacteria (voorheen bekend as Eubacteria), is mikrofossiele van die domein Archaea ook al ontdek.
Lewe het waarskynlik regdeur die Argeïkum bestaan, maar was beperk tot eenvoudige, eensellige organismes bekend as prokariote. Met die begin van die Vaalbarium word die eerste makroskopiese fossiele gevind, die stromatoliete, matte van kolonievormende sianobakterieë wat vandag nog plek-plek voorkom waar die soutgehalte van seewater so hoog is dat ander organismes wat dit sou vreet daar nie kan voorkom nie.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.