Wikimedia lysartikel / From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Lys van al die gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk ingelyf by ander gemeentes, ingedeel volgens die huidige tien sinodes van die kerk, asook Midde-Afrika, wat nie meer 'n afsonderlike sinode is nie, maar bestaan het uit gemeentes in Zimbabwe, Zambië, Kenia en Tanzanië.
Die getal NG gemeentes het van 1985 tot begin 2012 met 93 afgeneem van 1 246 tot 1 153 en tot begin 2014 met nog 15 tot 1 138. In 2019 was dit nagenoeg 1 115.
Amper 200 gemeentes het egter ophou bestaan omdat heelwat nuwe gemeentes van bestaande gemeentes afgestig het of nuwe gemeentes deur die samesmelting van bestaande gemeentes ontstaan het. Deur die loop van 2011 het die pas waarteen gemeentes ingelyf, saamgesmelt of ontbind het, oënskynlik toegeneem vergeleke met vorige jare toe meer as 10 gemeentes ophou bestaan het. Van dié wat ingelyf is of ontbind het, was De Aar-Suid, Vryburg-Oos, Boksburg, Bloemhof-Oos, Lichtenburg-Noord en -Wes (saamgesmelt), Reitzpark (Welkom), Eloffsdal, Eloffsdal-Wes en Magaliesfort (Pretoria, al drie saamgesmelt), Claremont (Johannesburg) en Ogies.
In 2013 en 2014 het nog twee ou moedergemeentes aan die Rand verdwyn toe Springs (1920) by Springs-Noord ingelyf is en Benoni (1914) by Farrarmere (met die nuwe naam Jubilaté). Teen 2015 is dus reeds die volgende agt moedergemeentes by dogtergemeentes ingelyf: Alberton (1916), Benoni (1914), Boksburg (1894), Germiston (1899), Krugersdorp (1890), Randfontein (1939), Turffontein (1906) en Springs (1920). Die enigste van die groot dorpe en stede aan die Rand wat nog 'n moedergemeente oorgehad het, was Johannesburg (1887), Roodepoort (1905), Brakpan (1917) en Kempton Park (1943).
Gemeentes in kursief weergegee, bestaan nie meer nie. By besonder ou gemeentes (binne die verband van hul sinode) wat ingelyf is, word die stigtingsjaar tussen hakies aangedui.