Koerde
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Koerde (Koerdies: کورد, Kurd) is 'n Irannese etniese groep inheems aan Irak, Iran, Sirië en Turkye en hulle praat Koerdies, 'n Irannese taal asook Gorani en Zazaki. Koerde leef hoofsaaklik in die streek van Koerdistan wat oor die noorde van Irak, die noordweste van Iran, die noordooste van Sirië en die suidooste van Turkye strek.[50]
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Koerdies.
Wêreldwyd leef tussen 30 en 32 miljoen Koerde, waarvan tussen 12 en 16 miljoen in Turkye (15–25% van die bevolking), 4 tot 6,5 miljoen in Irak (15–23%), 3,35 tot 8 miljoen in Iran (5–10%) en 1,3 tot 2,5 miljoen in Sirië (6–15%). Hulle vorm die belangrikste etniese minderheid in drie van die vier lande; in Iran vorm Koerde die tweede belangrikste etniese minderheid naas die Azerbeidjanners. Daarbenewens vorm Koerde inheemse minderhede in die drie lande van die Kaukasus: Armenië, Azerbeidjan en Georgië. Behalwe die Turkse suidooste leef belangrike groepe van Koerde nog in groot stede soos Ankara en Istanboel, waar hulle naas Turke die belangrikste bevolkingsgroep vorm.
Die meeste Koerde is aanhangers van die Soennitiese Islam met minderhede van Sjiïsme en Soefisme. Jesiede vorm 'n eie etnies-godsdienstige groep wat soms as Koerde beskou word met hul eie geloof.
As gevolg van politiese konflikte in die Midde-Ooste het 'n Koerdiese diaspora van sowat 2 miljoen in lande van Wes-Europa soos Duitsland, Noord-Amerika en Oseanië gevestig. Koerdiese nasionaliste maak sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog en die ondergang van die Ottomaanse Ryk aanspraak op 'n eie Koerdiese staat in Koerdistan.