From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Klein Magellaanse Wolk (KMW) is ’n satellietsterrestelsel van die Melkweg.[4] Dit is ’n onreëlmatige stelsel en het ’n deursnee van sowat 7 000 ligjare.[3] Die KMW bevat honderdmiljoene sterre[4] en het ’n totale massa van sowat 7 miljard sonmassas (M☉).[5] Die stelsel het ’n sentrale staaf en was vermoedelik eers ’n spiraalsterrestelsel met ’n staaf wat deur die Melkweg versteur is en so ’n onreëlmatige stelsel geword het.[6] Op ’n afstand van sowat 200 000 ligjare is dit een van die naaste sterrestelsels aan die Melkweg; dit is ook een van die verste voorwerpe wat met die blote oog van die Aarde af sigbaar is.
Klein Magellaanse Wolk | ||||
Sterrebeeld | Toekan en Suidelike Waterslang | |||
Tipe | SB(s)m pec[1] | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 00h 52m 44.8s[1] | |||
Deklinasie | -72° 49′ 43″[1] | |||
Skynmagnitude (m) | 2,7[1] | |||
Besonderhede | ||||
Afstand (ligjaar) | 201 000 ligjare (61 700 parsek)[2] | |||
Skynbare grootte | 7 000 ligjare (deursnee)[3] | |||
Ander name | SMC,[1] NGC 292,[1] PGC 3085,[1] | |||
Lugkoördinate | ||||
00h 52m 44.8s, −72° 49′ 43″ | ||||
|
Die KMW is uit die hele Suidelike Halfrond te sien. Dit is dofweg in die sterrebeelde Toekan en Suidelike Waterslang sigbaar en lyk soos ’n ekstra, los stuk van die Melkweg. Die KMW het ’n gemiddelde skynbare deursnee van sowat 4,2° (8 keer dié van die Maan) en dek dus ’n gebied van 14 vierkante grade (70 keer soveel as die Maan).
Omdat die voorwerp baie dof is, is dit die beste te sien op ’n donker, wolklose nag ver weg van ligbesoedeling. Dit vorm ’n paar met die Groot Magellaanse Wolk (GMW), wat 20° oos daarvan lê, en is nes die GMW lid van die Plaaslike Groep. Dit was waarskynlik vroeër ’n satellietstelsel van die GMW.
Die Magellaanse Wolke is waarskynlik in die voorgeskiedenis reeds deur vroeë mense waargeneem. Die Persiese sterrekundige Al Soefi het die Groot Magellaanse Wolk Al Bakr, die "Wit Os", genoem. Europese matrose het die "wolke" waarskynlik in die Middeleeue gesien. Portugese en Nederlandse matrose het hulle die "Kaapse Wolke" genoem, ’n naam wat verskeie eeue lank gebruik is. Tydens die Portugese ontdekkingsreisiger Ferdinand Magellaan se reis om die Aarde in 1519-'22 het sy reisgenoot Antonio Pigafetta hulle as dowwe sterreswerms beskryf.[7] In Johann Bayer se steratlas Uranometria, wat in 1603 gepubliseer is, het hy die kleiner wolk Nubecula Minor genoem.[8] In Latyn beteken nubecula "klein wolk".[9]
Tussen 1834 en 1838 het John Herschel die suidelike naghemel in Kaapstad deur sy 36 cm-reflektorteleskoop bespied. Hy het die KMW beskryf as ’n wolkerige massa lig met ’n ovaal vorm en helder kern. In dié streek het hy ’n konsentrasie van 37 newels en sterreswerms aangeteken.[10]
Volgens metings deur die Hubble-ruimteteleskoop wat in 2006 aangekondig is, beweeg die Magellaanse Wolke dalk te vinnig om om die Melkweg te wentel.[11]
’n Brug gas verbind die Groot en Klein Magellaanse Wolk, wat dui op getywisselwerkings tussen dié sterrestelsels.[12] Die twee stelsels het ’n gesamentlike omhulsel van neutrale waterstof, wat daarop dui dat hulle lank reeds swaartekraggebonde is. Die gasbrug is ’n stervormingsgebied.[13]
In 2017 is ’n digte wolk in die KMW ontdek wat moontlik ook die gevolg is van die wisselwerkings met die GMW.[14]
Die astrofisici D.S. Mathewson, V.L. Ford en N. Visvanathan het voorgestel dat die KMW eintlik in twee gedeel is, met ’n kleiner deel wat sowat 30 000 ligjare agter die hoofdeel lê soos van die Aarde af gesien. Hulle glo wisselwerkings met die GMW in die verlede het die KMW in twee gekloof en dat die twee dele al hoe verder van mekaar af beweeg. Hulle het die kleiner deel die "Mini- Magellaanse Wolk" gedoop.[15][16]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.