From Wikipedia, the free encyclopedia
Egiptiese tempels is gebou vir die amptelike aanbidding van die gode en gedenking van die farao's in Antieke Egipte en streke onder Egiptiese beheer. Tempels is beskou as die huise van die gode of konings aan wie hulle gewy is. Hier het die Egiptenare verskeie rituele uitgevoer: offerandes gebring, die gode se mitologiese interaksies nageboots met feeste en die magte van chaos afgeweer. Dié rituele is beskou as noodsaaklik vir die handhawing van maät, die goddelike orde van die heelal.
Dit was die farao's se plig om vir die gode te sorg en hulle het groot bedrae bestee aan die bou en instandhouding van die tempels. Hulle was genoodsaak om die meeste van hul rituele pligte oor te laat aan verskeie priesters, maar die grootste deel van die bevolking was uitgesluit van direkte deelname aan seremonies en toegang tot die heiligste plekke was vir hulle verbode. Tog was die tempel ’n belangrike godsdienstige plek vir Egiptenare van alle klasse; hulle het daar gaan bid, offerandes gebring en leiding van die gode gevra met behulp van ’n orakel.
Die belangrikste plek in die tempel was die heiligdom, wat gewoonlik ’n kultusafbeelding, ’n standbeeld van die god, bevat het. Die kamers buite die heiligdom het mettertyd groter en uitspattiger geword – tempels het dus ontwikkel van klein altare in die laat voordinastiese tydperk (laat 4de millennium v.C.) tot massiewe steengeboue in die Nuwe Ryk (omstreeks 1550–1070 v.C.) en later. Hierdie aanbiddingsplekke was van die grootste en langs oorblywende voorbeelde van die Antieke Egiptiese argitektuur, en die elemente is gerangskik en versier volgens ’n ingewikkelde patroon van godsdienstige simboliek. Hulle het gewoonlik bestaan uit ’n paar toe sale, oop howe en massiewe ingangsuile wat opgelyn het met die pad wat deur feesoptogte gevolg is. Buite die tempel was ’n buitemuur met ’n groot verskeidenheid kleiner geboue.
’n Groot tempel het ook groot stukke grond besit en duisende werkers in diens gehad wat in die tempel se behoeftes voorsien het. Hulle was dus belangrike godsdienstige én ekonomiese sentrums. Die priesters wat hierdie magtige instellings beheer het, het aansienlike invloed gehad en hoewel hulle veronderstel was om ondergeskik aan die farao te wees, het hulle soms sy mag uitgedaag.
Tempels is steeds gebou nadat Egipte sy onafhanklikheid verloor en ’n provinsie van die Romeinse Ryk geword het. Met die koms van die Christendom is volgelinge van die Egiptiese gode al hoe meer vervolg en die laaste tempel is in 550 n.C. gesluit. Die geboue is eeue lank verniel en verwaarloos, maar aan die begin van die 19de eeu het belangstelling in Antieke Egipte weer opgevlam en gelei tot die ontstaan van Egiptologie. Duisende mense het Egipte besoek om die antieke beskawings se oorblyfsels te sien. Tientalle tempel het behoue gebly en van hulle het beroemde toeriste-attraksies geword wat baie bydra tot die ekonomie van moderne Egipte. Egiptoloë bestudeer steeds die tempels en oorblyfsels van verwoeste tempels omdat hulle belangrike bronne van inligting is oor die Antieke Egiptiese beskawing.
Antieke Egiptiese tempels was veronderstel om plekke te wees waar die gode op aarde kon bly. Die woord wat die Egiptenare algemeen vir die tempelgebou gebruik, is juis ḥwt-nṯr, "huis van ’n god".[1] ’n God se teenwoordigheid in die tempel het die menslike en goddelike ryke verbind en mense in staat gestel om deur middel van rituele met die gode te kommunikeer. Daar is geglo hierdie rituele het die gode onderhou en in staat gestel om sy rol in die natuur vol te hou. Hulle was dus ’n belangrike deel van die handhawing van maät, die ideale orde van die natuur en menslike gemeenskap volgens die Egiptiese geloof.[2] Die handhawing van maät was die hele doel van die Egiptiese godsdiens,[3] en dit was ook die doel van die tempel.[4]
Omdat geglo is die farao het self goddelike mag, was die farao se goddelike natuur ’n sleutelelement van die Egiptiese tempel.[5] Die farao is as ’n heilige koning beskou as Egipte se verteenwoordiger by die gode.[6] Dit was dus sy plig om die tempelrituele uit te voer. Dit is nie seker hoe dikwels hy aan dié rituele deelgeneem het nie, want die verspreiding van tempels oor die hele Egipte het dit onmoontlik vir hom gemaak om dit in alle gevalle te doen en die meeste van dié pligre is oorgelaat aan priesters. Die farao was egter verantwoordelike vir die instandhouding en uitbreiding van die tempels in sy ryk.[7]
Elke tempel het ’n hoofgod gehad; die meeste is ook aan ander gode gewy.[8] Alle gode het egter nie tempels gehad wat aan hulle gewy is nie. Die meeste van die gode wat wel tempels van hul eie gehad het, is net in sekere streke van Egipte aanbid.[9] Baie van hulle was verbind met sekere stede, byvoorbeeld Ptah met Memphis. Baie van dié gode is verbind met die skepping van die heelal uit die oerheuwel en daarom is elke tempel verbind met die plek waar die skepping begin het.[10]
Farao's het ook tempels laat bou om hul gees in die hiernamaals te huisves, en dit was dikwels naby die plek van hal graftombers. Dit was dus eintlik dodetempels, en anders as die goddelike tempels. Daar is egter dikwels nie ’n duidelike onderskeid tussen die twee nie en Egiptenare het nie aparte woorde vir die twee soorte tempels gehad nie.[11] Die rituele was ook nie uitsluitlik vir óf die afgestorwenes óf die gode nie.[12]
Tempels was nie net plekke van aanbidding nie, maar ook ekonomiese sentrums. Hulle het duisende priesters, ambagsmanne en werkers in diens gehad.[13] Die ekonomie van ’n tempel was soortgelyk aan dié van ’n Egiptiese huishouding, met bediendes wat die tempelgod gedien het soos wat hulle met die eienaar van ’n landgoed sou gedoen het. Die verband word weerspieël deur die Egiptiese woord vir die tempeleiendom en -administrasie: pr, wat beteken "huis" of "landgoed".[14]
Van die tempel se voorraad het direk van die farao af gekom. In die Nuwe Ryk was dit dikwels buit van militêre veldtogte of belasting wat deur afhanklike state betaal is.[15] Die farao kon ook ’n belasting instel wat direk na die tempel gegaan het.[16]
’n Groot deel van die inkomste van die tempels was selfgegenereer. Groot stukke grondgebied langs die tempel, of soms in ’n heel ander gebied, het aan die tempel behoort. Die belangrikste hiervan was plase wat graan, vrugte of wyn geproduseer het of met vee geboer het. Tempels het veldtogte na die woestyn geloods wat bronne soos sout, heuning of wild ontgin het of edelgesteentes gemyn het.[17] Sommige het vlote gehad wat by handel buite Egipte se grense betrokke was.
Soms is tempels ook gelas om ander uitgawes te dek. Die dodetempels van Thebe het byvoorbeeld voorraad verskaf aan die grafkelderbouers by Deir el-Medina.[18] ’n Tempel se grondgebied kon ook landwyd herversprei word en dit kon die ekonomiese landskap van Egipte verander.[19] Die tempels was dus belangrike instrumente van die farao om die land se hulpbronne en mense te bestuur.[20] Tog het die priesters van die tempels groot mag gehad, en soms het hulle die farao se mag uitgedaag of selfs gekniehalter.[21]
Tempels is regdeur Bo- en Benede-Egipte gebou, asook in die Egipties beheerde oases in die Libiese Woestyn en op die Sinai-skiereiland. In tydperke waarin Egipte Nubië oorheers het, is ook daar tempels gebou tot so ver suid as Djebel Barkal.[22] Die meeste Egiptiese dorpe het een gehad,[23] maar soms, soos met die dodetempels in Nubië, is die tempels in die oopte gebou.[24] Die presiese ligging is dikwels om godsdienstige redes gekies, soos die mitiese geboorte- of begraafplek van ’n god. Die tempel se as kon ook oplyn met plekke van godsdienstige betekenis, soos die ligging van ’n naburige tempel, die plek waar die son opkom of spesifieke sterre. Die Groot Tempel van Aboe Simbel is byvoorbeeld so gebou dat die son twee keer per jaar op die standbeelde van die gode in die heiligdom skyn. Die meeste tempels het met die Nylrivier opgelyn en hul as was min of meer oos-wes.[25] Dit is egter ook beïnvloed deur die vloei van die rivier op ’n spesifieke plek.
’n Uitgebreide stel fondamentrituele het die bouwerk voorafgegaan, en nog rituele is uitgevoer as die bouwerk voltooi was om die tempel aan ’n sekere god te wy. Die bouwerk kon jare of selfs dekades duur.[26]
Die gebruik van klipstene vir die bou van latere Egiptiese tempels het hulle uitgesonder as die ewige huise van gode, in teenstelling met mense se huise wat met modderstene gebou is.[27] Die hoofstene was van kalk- en sandsteen, wat volop in Egipte was; stene wat harder was en dus moeiliker om te bewerk, soos graniet, is in kleiner hoeveelhede vir individuele elemente soos obeliske gebruik.[28] Die stene moes van naby die bouplek gekry word of is van ander plekke op die Nyl na die bouperseel vervoer.[29]
Tempels is gebou op fondamente van steenblokke wat in sandgevulde slote gelê is.[30] Mure en ander strukture is met blokke van verskillende groottes gebou.[31] Die stene is in rye geplaas, gewoonlik sonder sement. Elke blok het by die ander om hom aangepas sodat dit perfek gepas het.[32] Die binnemure is gewoonlik met minder sorg gebou en stene van ’n swakker gehalte is gebruik.[33] As die tempel voltooi was, is die stene afgewerk om ’n gladde oppervlak te verkry. Om dit te versier, is reliëfs uitgebeitel of as die stene van swakker gehalte was, is dit eers gepleister.[34] Die reliëfs is dan verder versier met verf, inlegwerk of verguldsel.[35]
Soos met alle Egiptiese geboue het die ontwerp van tempels klem gelê op orde en simmetrie, en dit gekombineer met geometriese patrone met gestileerde organiese motiewe.[36] Die grondplan is gewoonlik aangepas by ’n as wat van die heiligdom tot by die hoofingang geloop het. In latere tempels, byvoorbeeld uit die Nuwe Ryk en later, het die pad wat in feesoptogte gebruik is, die as gevorm. Die pad tussen die heiligdom en hoofingang was bedoel vir gebruik deur gode; mense het meestal kleiner ingange gebruik.[37] Die tipiese dele van die tempel, soos die suile, sale, binnehowe en hoë ingangspilare, is met dié pad langs gerangskik in ’n tradisionele, maar buigsame orde. Die mure om die tempel het talle kleiner geboue bevat.[38]
Baie tempels is uit rotse gekap, soos by Aboe Simbel, of die binneste kamers is uit rotse gekap met bykomende strukture langsaan gebou, soos by Wadi es-Seboea. In sommige tempels, soos die dodetempels by Deir el-Bahari, het die hoofpad met terrasse opgeloop na bo.
Die tradisionele patroon van die tempels was hoogs simbolies. Dit was ’n grootliks uitgebreide weergawe van ’n Egiptiese huis, wat die doel daarvan as die huis van ’n god weerspieël het.[14] Die heiligdom is vereenselwig met die oerheuwel waaruit die wêreld volgens die Egiptiese mitologie ontstaan het, en met ’n grafkelder waarheen die god se ba, of gees, gekom het om sy standbeeld te beset, soos gewone mense se gees hul mummie beset het.[39] Hierdie plek moes van die onreine buitewêreld geïsoleer word, dikwels deur ander kamers en gange.[37] Hoe nader ’n mens dus na die heiligdom beweeg het, hoe minder lig het van buite af ingeskyn en hoe meer beperkings was daar op wie daar mag kom.
Die binneste kamers was om die heiligdom gesentreer. In baie dodetempels was standbeelde van die afgestorwe farao in dié kamers, of dit het ’n vals deur bevat waar sy ba sou verskyn het om offerandes te aanvaar.[40] Daar was ook ander kapelle vir die gode wat met die tempelgod verbind is. As die tempelgod manlik was, was die kleiner kapelle gewoonlik gewy aan sy mitiese vrou en kind. In dodetempels was hulle gewoonlik gewy aan gode wat met koningskap verbind word.[41]
In ander kamers is seremoniële toerusting, rituele tekste of kosbaarhede gebêre, of dit het ’n spesifieke rituele funksie gehad. In die buitemuur aan die agterkant van die tempel was dikwels nisse waar mense kon bid tot die tempelgod – dit was die naaste wat hulle aan die heiligdom kon kom.[42]
Sale met groot suile het regdeur die Egiptiese geskiedenis in die tempels voorgekom. Van die Nuwe Ryk af was hulle gewoonlik reg voor die heiligdom-area geleë.[43] Daar was minder beperkings oor wie daar kon kom. Die sale was dikwels ook donker. ’n Tipiese voorbeeld van so ’n saal is die Groot Suilesaal by Karnak, waarvan die suile 21 meter hoog was. Die suile was dikwels in die vorm van plante soos die lotus of papirus, wat simbolies was van die mitologiese moeras wat die oerheuwel tydens die skepping omring het.
Daarbenewens was oop binnehowe, wat oorgangsgebiede was tussen die openbare ruimtes en die meer beperkte ruimtes om die heiligdom. Hier het die mense die priester ontmoet of byeengekom met feeste. Voor elke binnehof was groot pilare, wat veral van die Nuwe Ryk af ’n kenmerkende eienskap van die Egiptiese tempel se fasade geword het.
Om die hele perseel was ’n muur gebou wat die tempel moes beskerm teen wanorde van buite.[44] Soms het hulle ook as beskermingsmure gedien teen invallers soos die Perse.[45]
Teen die mure was verskeie geboue wat verband gehou het met die tempel se funksie. Daar was onder meer kapelle wat aan satellietgode gewy was. Om sommige tempels was mere waar water gekry is vir rituele, waar priesters kon was en wat die water gesimboliseer het waaruit die wêreld geskep is.[38] Sanatoriums in sommige tempels het ’n plek gebied vir siekes wat op helingsdrome van die gode gewag het. Daar was ook kombuise, werkkamers en stoorplekke.[46] ’n Belangrike gebou was die pr-ˁnḫ of "huis van die lewe", waar die priesters die tempel se heilige geskrifte geskryf, gekopieer en geredigeer het. Dit was ook ’n plek van kennis met werke oor niegodsdienstige onderwerpe soos geskiedenis, geologie, sterrekunde en medisyne.[47]
Die tempels was ryklik versier met reliëfs en standbeelde, wat alles ’n godsdienstige betekenis gehad het. Daar is geglo die gode is teenwoordig in die standbeelde en gee aan die tempel ’n heilige mag.[48] Simbole van plekke in Egipte of die heelal het die mitiese elemente van die bouwerk aangevul. Beelde van rituele het klem gelê op die magiese uitwerking daarvan. Omdat die embleme godsdienstig van aard was, het dit ’n geïdealiseerde weergawe van die werklikheid uitgebeeld wat gedui het op die doel van die tempel eerder as op werklike gebeure.[49] Alle beelde het byvoorbeeld gewys dat die koning die rituele uitvoer terwyl die priesters, as hulle uitgebeeld is, ’n sekondêre rol speel. Dit was onbelangrik dat hy selde teenwoordig was by die rituele; dit was sy rol as tussenganger tussen gode en mense wat saak gemaak het.[50]
Die belangrikste vorm van versiering was reliëfs.[51] Dit het mettertyd al hoe meer geword en in latere tempels is die mure, plafonne, pilare en selfs balke alles versier.[52] Die reliëfs is geverf in die basiese kleure – swart, wit, rooi, geel, groen en blou – hoewel verf soms gemeng is om ander kleure te kry.[34] Verguldsels of gekleurde glas kon ook vir inlegsels gebruik word.[35]
Die reliëfs, van tonele sowel as hiërogliewe, is van die belangrikste bronne van inligting oor Antieke Egipte. Hulle bevat kalenders van feeste en die woorde van gesange, vertel van die mites en beeld rituele uit. Farao's het vertel van hul bouwerk en hul militêre veldtogte teen die vyande van Egipte.[51] Die versierings in ’n spesifieke kamer vertel van die rituele wat daar plaasgevind het of wat die simboliese doel van die kamer was, en dit verskaf inligting oor die tempel se aktiwiteite.[53]
Standbeelde, obeliske en pilare het oral in die tempels gestaan. Beelde van farao's was soms enorm: die grootstes was die beeld van Memnon by die dodetempel van Amenhotep III en die beeld van Ramses II in die Thebaanse dodeakker.[54] Daar was ook beelde van gode, dikwels in die vorm van ’n sfinks, wat simbole van beskerming was. Die belangrikste standbeelde was die kultusbeelde, wat gewoonlik versier is met goud en edelstene.[55]
Die daaglikse offeranderitueel was in al die tempels min of meer dieselfde, hoewel die presiese volgorde van gebeure onseker is.[56] Teen sonsopkoms het ’n priester die heiligdom binnegegaan met ’n kers om lig te verskaf. Hy het voor die altaar met die beeld van die tempelgod gekniel en sy lof met gesange besing. Nadat hy die vertrek met water en wierook gereinig het, het hy ’n beeldjie van die godin Maät voor die god gesit. Hy het die god dan van die altaar af gehaal, sy klere vervang en die beeld gesalf.[57] Die een of ander tyd sou die priester ook ’n maaltyd voorsit wat ’n verskeidenheid vleis, groente, vrugte en brood sou insluit.[56] Daar is geglo die god nuttig net die spirituele essensie van die maaltyd. Dus kon die kos ook aan ander standbeelde in die tempel aangebied word, en daarna na plaaslike dodekapelle geneem word vir nuttiging deur die afgestorwenes voordat die priesters eindelik die kos self geëet het.[58]
Ander offeranderituele het smiddae en met sonsondergang plaasgevind, hoewel die heiligdom nie weer oopgemaak is nie.[57] Ander seremonies het ook daagliks plaasgevind, insluitende dié wat met ’n sekere god verband gehou het. In die kultus van die songod, Ra, is gesange byvoorbeeld dag en nag gesing vir elke uur van sy reis deur die lug.[59] In baie seremonies is die gevegte teen die magte van chaos nageboots.
Die Egiptenare het geglo alle rituele het ’n uitwerking gehad deur middel van towerkrag.[60] Vir hulle was towerkrag (heka) ’n basiese mag wat met rituele gemanipuleer is. Deur die gebruik van towerkrag is mense, voorwerpe en aksies gelykgestel met eweknieë in die goderyk en daarom sou dit ’n uitwerking hê op gebeure onder die gode.[61] In die daaglikse offerandes is die kultusstandbeeld byvoorbeeld gelykgestel met die god Osiris, ongeag van watter god die standbeeld was. Die priester wat die ritueel uitgevoer het, is gelykgestel met Horus, die lewende seun van Osiris wat in die mitologie offerandes aan sy pa bring. Dit was die standaard vir die verhouding tussen lewende mense en die afgestorwenes aan wie hulle offerandes bring, en eindelik het dit die standaard geword vir alle verhoudings tussen die lewendes en die dooies.[62] Deur homself gelyk te stel met ’n god in ’n mite, kon die priester dus in wisselwerking tree met die tempelgod.[61]
Op dae wat ’n besondere godsdienstige betekenis gehad het, is die daaglikse rituele vervang met feestelike seremonies. Die meeste feeste was jaarliks, hoewel nie altyd nie.[63] Hulle het plaasgevind volgens die Egiptiese kalender, wat selde ooreengestem het met die werklike tyd van die jaar. Hoewel baie feeste dus hul oorsprong in die seisoene gehad het, het die tye waarop hulle gevier is nie meer met dié seisoene ooreengestem nie.[64] Die meeste feeste is by een tempel gehou, maar soms is meer tempels of ’n hele streek se tempels betrek; ’n paar feeste is regdeur die land gevier. In die Nuwe Ryk en later het die tempelkalenders tientalle feeste ingesluit, en dus is sommige dalk net deur die priesters gevolg.[65] Op feeste waar optogte gehou is, het die bevolking egter ook deelgeneem. Dan is gesange gesing en het musikante opgetree.[66]
Feeste het ook ingesluit die uitbeelding van mitiese gebeure of ander simboliese aksies, soos die sny van ’n koringgerf tydens oesfeeste wat gewy was aan die god Min.[67] Baie sulke seremonies het net op die tempelterrein plaasgevind, maar soms het dit ’n besoek van die tempelgod aan die tempel van ’n ander god behels. Dan het die priesters die kultusstandbeeld in sy boot uit die tempel gedra. Die boot kon heelpad oor land gedra wees, of in ’n regte boot geplaas word om op die rivier te reis. Die doel van die gode se besoeke het gewissel; soms was vrugbaarheid ter sprake: in die Ptolemeïese Tydperk is die beeld van Hathor jaarliks van die Dendera-tempel vervoer na Edfoe, die tempel van haar mitologiese man, Horus, en die beelde van die twee gode het dan verskeie nagte saam deurgebring om die geboorte van hul kind Harsomptus te vier.[65]
Ander feesreise het verband gehou met die ideologie van koningskap. Een van hulle was die Opetfees, ’n baie belangrike seremonie tydens die Nuwe Ryk waarin die beeld van Amoen by Karnak die beeld van Amoen by Luxor besoek het om die koning se goddelike bewind te bekragtig.[68] Ander het weer ’n begrafnis-aard gehad, soos die Mooi Fees van die Vallei, wanneer Amoen van Karnak na Medinet Haboe gereis het om begrafnisrituele uit te voer vir die agt gode van die Ogdoad, wat daar begrawe sou gewees het.[65] Die gemeenskaplike doel van die verskeie feeste was om die lewe onder die gode en in die kosmos te hernu.[69]
Teen die begin van die Nuwe Ryk, of moontlik vroeër, was die feesseremonie ook ’n geleentheid waar mense orakels van die gode kon vra. Hul vrae het gegaan oor van verlore voorwerpe tot die beste aanstelling in ’n regeringsposisie. Die bewegings van die boot waarin die god gedra is, het die god se antwoorde aangedui met ’n "ja" of "nee", deur oor te kantel na een van ’n paar tablette waarop moontlike antwoorde geskryf is of deur in die rigting van ’n spesifieke mens in die skare te wys. Teen die Derde Oorgangstydperk is orakels uitgebrei na buite feestye sodat mense meer gereeld die gode se raad kon vra. Priesters het die beweging van heilige diere geïnterpreteer of die antwoorde namens die gode verskaf.[70] Die priesters se veronderstelde vermoë om namens die gode te praat of hul tekens te interpreteer, het aan hulle groot politieke invloed gegee en dit onder meer vir die hoëpriesters van Amoen moontlik gemaak om Bo-Egipte tydens die Derde Oorgangstydperk te oorheers.[71]
Nadat die Antieke Egiptiese godsdiensbedrywighede gestaak is, het die tempels algaande vervalle geraak. Baie is deur Christene verniel of afgebreek in ’n poging om die oorblyfsels van heidense gebruike te vernietig. Plaaslike mense het die stene begin wegdra om vir nuwe geboue te gebruik.[72] Wat nie deur die mens verniel is nie, was oorgelaat aan wind en weer. Tempels in woestyngebiede is toegewaai met sand en dié naby die Nyl, veral in Benede-Egipte, is soms heeltemal onder die rivier se slik begrawe. Baie groot tempelterreine soos Memphis en Heliopolis is in puin gelê, terwyl kleiner terreine ver weg van die digbevolkte gebiede grootliks onaangeraak gebly het. Met die begrip van hiërogliewe wat verlore geraak het, het inligting oor die Antieke Egiptiese kultuur en geloof onverstaanbaar opgesluit gelê in die tempels wat wel behoue gebly het.[73]
Die situasie het grootliks verander met die Franse militêre veldtog in 1798 in Egipte, waartydens talle geleerdes na die land gekom het om die antieke monumente te bestudeer. Dit het in Europa ’n groot belangstelling in die land gewek. In die vroeë 19de eeu het al hoe meer Europeërs na Egipte begin reis om die monumente te sien en Egiptiese oudhede te versamel.[74] Baie voorwerpe, klein en groot, is deur ander regerings en private versamelaars verwyder. Dit het gelei tot die herontdekking van terreine soos Aboe Simbel, maar artefakte en soms hele tempels is ongeërg behandel.[75] Die ontdekkings van dié tyd het egter gelei tot die ontsyfering van die hiërogliewe en die begin van Egiptologie as ’n wetenskap.[76]
Die vroeë Egiptoloë het die tempels intensief bestudeer, maar hul fokus was op die versameling van artefakte om na hul onderskeie lande te stuur, en hul opgrawingsmetodes het soms verdere skade aangerig.[77] Mettertyd het die idee posgevat dat die artefakte eerder bewaar moes word. Die Egiptiese regering het beheer van die argeologiese bedrywighede oorgeneem namate die land onafhankliker geraak het. Selfs in onlangse tye was daar egter bedreigings. Een daarvan was die bou van die Aswandam in die 1960's, toe van die tempels in Laer Nubië, onder meer Philae en Aboe Simbel, oorvloei sou word deur die nuutgevormde Nassermeer. Danksy ’n poging van die Verenigde Nasies is van die bedreigde tempels op hoër grond herbou,[78] maar verskeie ander het onder die meer verdwyn.[79]
Vandag is daar tientalle terreine met aansienlike tempeloorblyfsels.[80] Baie meer het egter bestaan, en geen van die groot tempels in Benede- of Middel-Egipte het bewaar gebly nie.[81] Dié wat wel bewaar gebly het, soos by Karnak, Luxor en Aboe Simbel, lok toeriste van oor die wêreld en die toerismebedryf maak ’n groot deel uit van die Egiptiese ekonomie.[82] Die Egiptiese regering probeer ’n balans handhaaf tussen die eise van toerisme en die behoefte om die antieke monumente te beskerm teen skade deur toeriste.[83]
Argeologiese werk duur ook steeds voort, want baie tempels is nog begrawe en van die bestaande tempels is nog nie goed bestudeer nie. Van die verwoeste tempels, soos dié van Achenaten, word selfs herbou. Hierdie pogings help begrip van die tempels aan, wat weer help om die Antieke Egiptiese kultuur as ’n geheel beter te verstaan.[84]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.