From Wikipedia, the free encyclopedia
Die nasionale vlag van Koeweit (Arabies: علم الكويت) is op 7 September 1961 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon drie ewewydige horisontale bane in groen, wit en rooi met ’n swart trapesium aan die vlagpaalkant.
Die kleure van die vlag is afgelei van ’n gedig deur Safie Al-Deen Al-Halie. Die kleure het die volgende betekenis: wit stel die mens se dade voor, swart stel die slagvelde voor, groen stel die landerye voor en rooi stel swaarde voor wat rooi is van die bloed van die vyand.
Skema | Tekstielkleur |
---|---|
Groen | ons landerye |
Wit | ons dade |
Rooi | ons swaarde |
Swart | ons gevegte |
Die horisontale bane is almal ewe hoog. Die swart trapesium kom van die hoeke op die vlagpaalkant tot waar die wit baan met die groen en rooi onderskeidelik byeenkom. Die trapesium kom tot een kwart in die breedte van die vlag in.[1]
Voor 1961 was die vlag van Koeweit rooi en/of wit, soos talle ander state in die Persiese Golf in daardie tyd (’n rooi agtergrond met wit teks of simbole daarop). Tot 1899 was die vlag van Koeweit ’n eenvoudige rooi baan. Van 1899 tot 1915 was die vlag ’n rooi agtergrond met ’n wit ster en sekelmaan en, ook in wit, die woord “كويت” (Koeweit) gestileer om nie die hoofletter K te beklemtoon nie; van 1899 tot 1909 was die twee simbole ewe groot in hoogte maar tussen 1909 en 1915 het die ster en sekelmaan voorrang geniet en die landsnaam is verklein en geskuif na die boonste hoek op die wapperkant. Tussen 1915 en 1956 is die ster en sekelmaan totaal verwyder en is die naam vergroot en teruggeskuif na die middel van die vlag. Tussen 1956 en 1961 is die ster en sekelmaan steeds weggelaat, die naam is op ’n ander manier gestileer om groter klem te plaas op die hoofletter K, die vlagpaalkant van die vlag het ’n wit golwende fraiing bygekry en die Sjahada is vertikaal langs die fraiing geskryf om van bo na onder gelees te word. Die huidige vlag is in die Pan-Arabiese kleure.
In 2005 het die vlag van Koeweit die grootste vlieër ter wêreld geword met ’n grootte van 1019 m². Dit is deur Peter Lynn in Nieu-Seeland gemaak en vir die eerste keer in Julie 2004 in die Verenigde Koninkryk aan die publiek vertoon, voordat dit amptelik in 2005 in Koeweit bekendgestel is.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.