Remove ads
'n vlagontwerp wat deur die Raad van Europa geskep is, toe aangeneem as een van die amptelike simbole van die Europese Gemeenskappe en later van die Europese Unie From Wikipedia, the free encyclopedia
Die vlag van Europa bestaan uit ’n sirkel van twaalf vyfpuntige goue (geel) sterre op ’n asuur (blou) agtergrond. Dit is die vlag en embleem van die Raad van Europa (RvE) en die Europese Unie (EU). Dit word dikwels ook gebruik om die lande van die Eurosone te vertoon, en, meer losweg, om die kontinent van Europa of die lande van Europa onafhanklik van enige van hierdie instellings te verteenwoordig. Die getal van die sterre wissel nie volgens die aantal lidlande van albei organisasies nie omdat hulle bedoel is om al die mense van Europa te verteenwoordig, selfs diegene buite die EU, maar binne die RvE.[3]
Die vlag is in 1955 ontwerp deur Arsène Heitz en Paul M.G. Lévy as simbool vir die RvE en die organisasie het die aanvaarding van die vlag deur ander organisasies aangemoedig. In 1985 het die EU, destyds bekend as die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), op die inisiatief van die Europese Parlement, dit aanvaar as sy eie vlag (omdat dit geen eie vlag gehad het nie). Die vlag word nie in die EU se verdrae genoem nie, sy inlywing sou saamval met die Europese grondwet, maar volgens wet is dit formeel aangeneem.
Ondanks die feit dat die vlag deur twee afsonderlike organisasies gebruik word, word dit dikwels meer verbind met die EU as gevolg van die EU se hoër profiel en hul gereelde gebruik van die embleem. Die vlag word ook gebruik om Europa in sportbyeenkomste te verteenwoordig en as ’n pro-demokrasie vaandel buite die Unie.[4][5] Die vlag van Europa het as inspirasie gedien vir ander Europese organisasies en vir lande waar die EU baie betrokke was (soos Bosnië en Herzegowina en Kosowo).
Die soeke na ’n simbool het in 1950 begin met die oprigting van ’n komitee wat die kwessie van ’n Europese vlag sou ondersoek. Daar was talle voorstelle, maar ’n duidelike tema vir die sterre en sirkels het te voorskyn gekom.[6] Richard Nikolaus von Coudenhove-Kalergi het voorgestel dat hulle die vlag van sy Internasionale Paneuropese Unie sal aanvaar, wat ’n blou agtergrond was met, in die middel, ’n geel skyf waarin ’n rooi kruis was, wat hyself pas tevore aanvaar het vir die Europese Parlementêre Unie.[7] As gevolg van die kruis simboliek, is dit deur Turkye (sedert 1949 ’n lid van die Raad van Europa) verwerp.[8] Kalergi het toe die toevoeging van ’n halfmaan op die kruis se ontwerp voorgestel om die Moslems se besware te oorkom.[9] ’n Ander organisasie se vlag was dié van die Europese Internasionale Beweging, wat ’n groot groen "E" op ’n wit agtergrond het.[10][11] ’n Verdere ontwerp was gebaseer op die Olimpiese ringe: agt silwer ringe op ’n blou agtergrond. Dit is verwerp omdat die ringe met “inbel”, “ketting” en “nulle” geassosieer is. Een voorstel het ’n groot geel ster op ’n blou agtergrond gehad, maar dit is verwerp as gevolg van sy ooreenkoms met die sogenaamde Burnet-vlag en die vlag van die Belgiese Kongo.[8]
Die Raadplegende Vergadering het hul keuse tot twee ontwerpe verklein. Een was deur Salvador de Madariaga, stigter van die Kollege van Europa, wat ’n konstellasie van sterre op ’n blou agtergrond voorgestel het (geposisioneer volgens hoofstede, met ’n groot ster vir Straatsburg, die setel van die Raad).[12] Hy het sy vlag in baie Europese hoofstede laat vertoon en die konsep het is gunstig ontvang.[13] Die tweede, deur Arsène Heitz[12] wat by die Raad se posdiens gewerk het en talle ontwerpe voorgelê het,[14] was ’n variant van De Madariaga se vlag; sy ontwerp, wat deur die Vergadering aanvaar is, was soortgelyk aan Salvador de Madariaga s’n, maar in plaas van ’n konstellasie is die sterre in ’n sirkel geplaas.[12] Die Raadplegende Vergadering het Heitz se ontwerp verkies. Die vlag wat egter deur die Vergadering gekies is, het vyftien sterre, wat die aantal lidlande van die Raad van Europa reflekteer. Die Raadplegende Vergadering het hierdie vlag gekies en aanbeveel dat die Raad dit moet aanvaar.[15]
Die Komitee van Ministers (die Raad se hoofbesluitnemingsliggaam) het met die Vergadering ooreengekom dat die vlag ’n sirkel van sterre moet wees, maar die getal dertien was ’n oorsaak van twis.[6] Daar is op twaalf besluit en Paul M.G. Lévy het die presiese ontwerp van die nuwe vlag soos dit vandag daar uitsien, ontwerp.[6] Die Raad van Europa se parlementêre vergadering het dit op 25 Oktober 1955 goedgekeur. Op 8 Desember 1955 is die vlag aanvaar en is dit onthul by die Château de la Muette in Parys op 13 Desember 1955.[2][12]
Na aanleiding van die Expo 58 in Brussel, het die vlag trefkrag gevind en die Raad van Europa het by ander Europese organisasies bepleit om die vlag as kenteken van Europese eenheid te aanvaar.[12] Die Europese Parlement het die inisiatief geneem in die soeke na ’n vlag wat deur die Europese Gemeenskappe aanvaar sou word. Kort na die eerste direkte verkiesings van 1979 is ’n konsepresolusie oor die kwessie na vore gebring. Die resolusie het voorgestel dat die Gemeenskap se vlag dié van die Raad van Europa s’n sou wees[2] en dit is op 11 April 1983 deur die parlement aanvaar.[12]
Die Europese Raad van Junie 1984 (die Gemeenskap se leiers) wat in Fontainebleau vergader het, het die belangrikheid van die bevordering van ’n Europese beeld en identiteit aan die burgers en die wêreld beklemtoon. Die volgende jaar, tydens die vergadering in Milaan, het die Europese Raad op 28–29 Junie ’n voorstel van die Komitee vir ’n Europa van die Mense (Adonnino-komitee) ten gunste van die vlag goedgekeur en dit aanvaar. Na aanleiding van die Raad van Europa se goedkeuring,[2] het die gemeenskappe vanaf 1986 begin om dit te gebruik, en is dit vir die eerste keer op 59 Mei 1986 buite die Berlaymont-gebou (die setel van die Europese Kommissie) gehys.[16] Die Europese Unie, wat deur die Verdrag van Maastricht van 1992 opgerig is om die EG te vervang en sy funksies oor te neem, het ook die vlag aanvaar. Sedertdien word die gebruik van die vlag gesamentlik deur die Raad van Europa en die Europese Unie beheer.[2]
Voor die ontwikkeling van politieke instellings, was vlae wat Europa verteenwoordig beperk tot unifikasiebewegings. Die gewildste was die Europese Beweging se groot groen “E” op ’n wit agtergrond en die “Pan Europese vlag”.[12] Met die ontwikkeling van instellings, behalwe vir die Raad van Europa, het ander embleme en vlae ontstaan. Geeneen was egter bedoel om ’n wyer Europa te verteenwoordig nie en is sedertdien vervang deur die huidige vlag van Europa.
Die eerste groot organisasie wat ’n eie vlag aanvaar het, was die Europese Gemeenskap vir Steenkool en Staal (EGKS), wat met die Europese Gemeenskappe saamgesmelt het. Die EGKS is in 1952 gestig en die vlag van die EGKS is in 1958 by die Expo in Brussel onthul.[17]
Die vlag het twee bane, blou bo en swart onder met ses goue (silwer vanaf 1973) sterre, drie op elke baan, vertoon. Blou het staal voorgestel, swart steenkool en die sterre die ses aanvanklike lidlande. Die sterre het toegeneem met die aantal lede tot 1986 toe die sterre se aantal vasgestel is op twaalf. Met die verstryking van die EGKS-verdrag in 2002, is die vlag buite die Europese Kommissie in Brussel gestryk en vervang met die Europese vlag.[17][18][19]
Die Europese Parlement het ook sy eie vlag van 1973 gebruik, maar dit is nooit formeel aanvaar nie. Dit het in 1983 in onbruik verval met die aanvaarding van die twaalf-sterre-vlag deur die parlement. Die vlag het die geel-en blou kleurskema gevolg, maar in plaas van twaalf sterre was daar die letters EP en PE (voorletters van die Europese Parlement in die destydse ses gemeenskaplede se tale) omring deur ’n krans.[20]
In 2002 het die Nederlandse argitek Rem Koolhaas en sy argitektuurmaatskappy Office for Metropolitan Architecture (OMA) ’n nuwe vlag ontwerp in reaksie op ’n aansoek van Romano Prodi, die Kommissie se president, om maniere te vind vir die herposisionering van die Unie op ’n manier waarin Europa se “diversiteit en eenheid” verteenwoordig sal word. Die voorgestelde nuwe ontwerp is “strepieskode” genoem, soos dit die kleure van elke Europese vlag (van die destydse 15 lidlande) as vertikale bane vertoon. Sowel as die strepieskode-vergelyking, is dit ongunstig vergelyk met muurpapier, ’n TV-toetskaart en seilstoelstof. In teenstelling met die huidige vlag sou dit al die lidlande vertoon.[21]
Dit is nooit amptelik deur die EU of enige organisasie aanvaar nie; dit is egter gebruik as die logo van die Oostenrykse EU-presidentskap van 2006. Dit is opgedateer met die kleure van die 10 lidlande wat sedert die ontwerp aangesluit het, en is ontwerp deur Koolhaas se maatskappy. Sy beskryfde doel is om “na Europa te verwys as die gemeenskaplike poging van verskillende nasies, met die behoud van elkeen se unieke kulturele identiteit”.[22] Daar was aanvanklik sommige klagtes omdat die bane van die vlag van Estland verkeerdelik vertoon is.
In April 2004 is die vlag vir die eerste keer in die ruimte vertoon deur die ESA-ruimtevaarder André Kuipers, terwyl hy aan boord van die Internasionale Ruimtestasie was.[23]
België, Bulgarye, Duitsland, Griekeland, Spanje, Italië, Siprus, Litaue, Luxemburg, Hongarye, Malta, Oostenryk, Portugal, Roemenië, Slowenië en Slowakye verklaar dat die vlag met ’n sirkel van twaalf goue sterre op ’n blou agtergrond, die volkslied gebaseer op die ‘Lofsang aan die vreugde’ van die negende simfonie deur Ludwig van Beethoven, die leuse ‘In verskeidenheid verenig’, die Euro as die geldeenheid van die Europese Unie en Europadag op 9 Mei vir hulle as simbole sal dien om die gevoel van die gemeenskap van die mense in die Europese Unie en hulle trou daaraan uit te druk.
Die oorspronklike beplanning was om aan die vlag amptelike status in die voorgestelde Europese Grondwet te gee. Sedert die bekragtiging daarvan misluk het, het die leiers staatagtige elemente soos die vlag uit die plaasvervangende Verdrag van Lissabon verwyder. Die Europese Parlement het egter die insluiting van simbole ondersteun en het in reaksie ’n voorstel soos dat die vlag meer dikwels in die parlement gebruik sal word, ondersteun. Die parlementslid Jo Leinen het daarop gewys dat die parlement weer die inisiatief in die gebruik daarvan sal oorneem.[25] Later, in September 2008, het die parlement se Komitee oor Grondwetlike Sake voorgestel dat ’n formele verandering in die reglement gemaak sal word wat ’n beter gebruik van die simbole toelaat. Spesifiek sou die vlag in alle vergaderingskamers (nie net die halfrondvergadersaal nie) en op alle amptelike geleenthede teenwoordig wees.[26] Die voorstel is op 8 Oktober 2008 met 503 teen 96 stemme (15 geen-stemme) aanvaar.[27]
Daarbenewens is ’n verklaring deur sestien lidlande oor die simbole, insluitende die vlag, ingesluit in die finale akte van die Verdrag van Lissabon wat verklaar dat die vlag, die volkslied, die leuse, die geldeenheid en Europadag “vir hulle sal voortgaan as simbole van die gemeenskapgevoel van die mense in die Europese Unie en hulle trou aan die Unie uit te druk”.[24]
Die vlag is oorspronklik ontwerp deur die Raad van Europa[2] en daarom hou die RvE die kopiereg vir die vlag. Die Raad van Europa het egter ingestem dat die Europese Gemeenskappe die vlag kan gebruik en die gebruik van die vlag is sedert die ontstaan deur ander plaaslike organisasies bevorder. Die Raad van Europa deel nou die verantwoordelikheid met die Europese Kommissie om te verseker dat die gebruik van die simbool die waardigheid van die vlag eerbiedig – deur maatreëls om die misbruik daarvan te voorkom.[2]
Behalwe die gebruik van die vlag gebruik die Raad ook ’n gewysigde weergawe van die vlag as sy embleem: dit is die bestaande ontwerp met ’n gestileerde, groen “e” oor die sterre.[2]
Die vlag simboliseer die EU as ’n geheel.[28] Alle instellings, liggame en agentskappe van die EU het hul eie logo of embleem, hoewel hulle dikwels deur dié vlag se ontwerp en kleure geïnspireer is.[29] Omdat die vlag deur die EU gebruik word, verskyn dit op die Euro-banknote.[30] Die Euro se munte vertoon ook die twaalf sterre van die vlag op beide die nasionale en gemeenskaplike kante[31] en die vlag word soms gebruik as aanduiding vir die geldeenheid of die eurosone (’n kollektiewe naam vir die lande wat die Euro gebruik). Die vlag verskyn ook op talle bestuurslisensies en nommerplate wat in die Unie uitgereik word.[32]
Die gebruik van die vlag by elke amptelike toespraak deur die president van die Europese Raad is verpligtend en dit word dikwels gebruik by amptelike vergaderings tussen leiers van ’n EU-lidland en ’n nie-EU-lidland (die nasionale vlag en die Europese vlag word bymekaar vertoon).[32] Hoewel nasionale vlae in die nasionale konteks voorkeur geniet, verskil dit soms by vergaderings tussen EU-leiers. Die Italiaanse vlagkode gee bv. uitdruklik voorkeur aan die Europese vlag wanneer hoogwaardigheidsbekleërs van ander EU-lande dié land besoek – die EU-vlag, eerder as die Italiaanse vlag sal in die middel van drie vlae vertoon word.[33]
Die vlag word gewoonlik vertoon deur die regering van die land wat die roterende presidentskap van die Ministers se Raad het, maar in 2009 het die Tsjeggiese president Václav Klaus, ’n euroskeptikus, geweier om die vlag op sy kasteel te vertoon. In reaksie hierop het Greenpeace ’n beeld van die vlag op die kasteel geprojekteer en probeer om die vlag op die gebou self te vertoon.[34]
Sommige lidlande het ook hul eie reëls ten opsigte van die gebruik van die vlag saam met hul nasionale vlag by binnelandse geleenthede, byvoorbeeld die verpligte gebruik langs nasionale vlae buite polisiestasies of plaaslike regeringsgeboue. Die vertoon van die Europese vlag langs die Italiaanse vlag is bv. volgens Italiaanse wette vir die meeste openbare kantore en geboue verpligtend (Wet 22/2000 en Presidensiële besluit 121/2000). Buiten amptelike gebruik mag die vlag nie gebruik word nie vir doelwitte wat onversoenbaar is met die Europese waardes nie.[32]
In nasionale gebruik vereis nasionale protokol gewoonlik dat die nasionale vlag voorkeur oor die Europese vlag geniet (wat gewoonlik van die nasionale vlag se regterkant van die waarnemer se perspektief vertoon word). Op geleenthede waar die Europese vlag langs alle nasionale vlae vertoon word (byvoorbeeld by ’n vergadering van die Europese Raad), word die nasionale vlae in alfabetiese volgorde geplaas (volgens hul naam in die land se hooftaal) met die Europese vlag óf aan die hoof óf heel regs van die vlagrangskikking.[35][36]
Buitengewone vertoon van die vlag is algemeen op die EU se vlagdag, bekend as Europadag, wat jaarliks op 9 Mei gevier word.[37][38][39] Tydens Europadag in 2008 is die vlag vir die eerste keer bo die Duitse Reichstag gehys.[40]
Bykomend tot die gebruik van die vlag deur regerings en mense word die vlag ook tydens die EU se militêre operasies gebruik;[41] maar dit word nie as ’n burgerlike vaandel gebruik nie. In 2003 het ’n lid van die Europese Parlement tydens ’n tydelike komitee van die Parlement voorgestel dat die nasionale burgerlike vaandels met die Europese vlag beklad sal word. Hierdie voorstel is in 2004 deur die Parlement verwerp en sedertdien word die Europese vlag nie as ’n Europese burgerlike vaandel gebruik nie.[42]
Ondanks die feit dat die EU nie ’n burgerlike vaandel het nie, vertoon die EU se vissery-inspeksiespanne ’n blou en geel wimpel. Die wimpel word vertoon deur inspeksievaartuie binne EU-water. Die vlag is driehoekig met kwarte in blou en geel, en is volgens EEG Regulasie #1382-1387 op 20 Mei 1978 aanvaar.[43] Daar is geen ander variante of alternatiewe vlae wat gebruik word deur die EU nie (in teenstelling met lande wat presidensiële, vloot en militêre variante gebruik).
Die vlag het ’n simbool van Oekraïne se Europese integrasie in die 2010's geword, veral ná Euromaidan. Oekraïne is nie ’n deel van die EU nie, maar die vlag word deur die Oekraïense kabinet, die eerste minister, en die ministerie van buitelandse sake gebruik gedurende amptelike vergaderings.[44]
Die vlag is bedoel om Europa in die wyer sin te verteenwoordig. Behalwe vir drie lande, word die hele Europa deur die Raad van Europa verteenwoordig.[2]
In die besonder het die vlag ’n vaandel vir pro-europeïsme buite die Unie geword, byvoorbeeld in Georgië, waar die vlag sedert Micheil Saakasjwili se ampsaanvaarding op die meeste regeringsgeboue vertoon word,[45] wat die vlag tydens sy inhuldiging gebruik het[46] en waar hy gesê het dat “[die Europese] vlag ook Georgië se vlag is, sover as wat dit ons beskawing, ons kultuur, die essensie van ons geskiedenis en perspektief, en ons visie vir die toekoms van Georgië verpersoonlik.”[47] Dit is later, in 2008, deur pro-Westerse Serwiese kiesers voor ’n verkiesing gebruik.[48]
Dit word ook gebruik as ’n pro-demokrasie-embleem in lande soos Wit-Rusland, waar dit tydens protesoptogte langs die verbande voormalige nasionale vlag en vlae van opposisiebewegings gebruik word.[4][49] Die vlag is wyd gebruik tydens ’n Europese optog in Minsk in 2007 waar betogers ter ondersteuning van demokrasie en die toetreding tot die EU byeengekom het.[50] Eweneens is die vlag tydens die 2013 Euromaidan se pro-demokrasie en pro-EU protes in Oekraïne vertoon.
Die vlag, of kenmerke daarvan, word dikwels in die logo’s van organisasies van maatskappye gebruik wat ’n pan-Europese element beklemtoon, byvoorbeeld Europese drukgroepe of transnasionale rederye.
Die vlag word ook in sekere sportsoorte se gebruik waar ’n verenigde Europese span verteenwoordig word, soos by die Ryderbeker en die Mosconi-sokkertoernooi.
Na afloop van die Olimpiese Somerspele 2004 het president Romano Prodi daarop gewys dat die gekombineerde aantaal medalje van die Europese Unie veel groter was as dié van enige ander land en die EU-atlete genooi om as teken van solidariteit die Europese vlag by die volgende speletjies saam met hul eie vlag te vertoon (dit het nie gebeur nie).[51]
Die ontwerp van die Europese vlag is op die Eiffel-toring in Parys vertoon om die Franse presidentskap van die EU-Raad in die tweede helfte van 2008 te vier.
Die vlag is reghoekig met ’n verhouding van 2:3: die breedte is een en ’n half keer die lengte van die hoogte. Twaalf goue (of geel) sterre is in ’n sirkel gesentreer (die radius daarvan is ’n derde van die hoogte) op ’n blou agtergrond. Al die sterre is regop (een punt regop), het vyf punte en is eweredig gespasieer volgens die uur se posisies op ’n horlosie. Elke ster se radius is gelyk aan een agttiende van die hoogte van die vlag.[52][53]
Die heraldiese beskrywing wat deur die EU gegee is: “Op ’n asuur veld ’n sirkel van twaalf goue vyfpuntige sterre, hul punte nie raak nie.”[54] Die Raad van Europa gee die volgende simboliese beskrywing vir die vlag;
Teen die blou hemel van die Westerse wêreld verteenwoordig die sterre die volke van Europa in ’n sirkel, ’n simbool van eenheid. Hul getal sal altyd ingestel op twaalf wees, die simbool van volledigheid en volmaaktheid.
Net soos die twaalf tekens van die diereriem die hele heelal verteenwoordig, staan die twaalf goue sterre vir al die volke van Europa – insluitend diegene wat nie kan of wil deelneem aan die EU-projek nie.[verwysing benodig]
Kleurskema | Vlootblou | Goud | ||
---|---|---|---|---|
RGB | 0, 51, 153 | 255, 204, 0 | ||
CMYK | C100-M67-Y0-K40 | C0-M20-Y100-K0 | ||
Heksadesimaal | 003399 | FFCC00 |
Die basiskleur van die vlag is ’n donkerblou (refleksblou, ’n mengsel van siaan en magenta), terwyl die goue sterre in geel uitgebeeld word. Die kleure word volgens die Pantone se kleurstelsel gereguleer (sien tabel vir spesifikasies).
’n Groot aantal ontwerpe[12] is vir die vlag voorgestel voordat die huidige vlag aanvaar is. Die voorstelle wat verwerp is word in die argief van die Raad van Europa bewaar. Een hiervan bestaan uit ’n ontwerp van wit sterre op ’n ligblou veld, as ’n gebaar vir die vrede en internasionalisme van die Verenigde Nasies.[8] ’n Amptelike webwerf verwys na blou en goud as die oorspronklike kleure van Graaf Richard Nikolaus von Coudenhove-Kalergi, wat in 1923 ’n Paneuropese Unie voorgestel het, en ’n aktiewe voorstander van die vroeë gemeenskap was.[17]
Die aantaal sterre op die vlag is vasgestel op twaalf en hou nie verband met die aantal lidlande van die EU nie (hoewel die EU tussen 1986 en 1994 twaalf lidlande gehad het). Dit is omdat dit oorspronklik die Raad van Europa se vlag was.[28] In 1953 het die Raad van Europa 15 lede gehad; dit is voorgestel dat die toekomstige vlag een ster moet hê vir elke lid en sou nie verander word volgens toekomstige lede nie. Wes-Duitsland het beswaar gemaak teen hierdie feit aangesien een van die lede die betwiste gebied Saarland was en sy eie ster sou soewereiniteit vir die streek impliseer.[13] Twaalf is uiteindelik ’n getal met geen politieke konnotasies nie en as ’n simbool van eenheid aanvaar.[28] Die twaalf is ook teenwoordig in verskeie ander kontekste:
|
|
Terwyl twaalf die korrekte getal van die sterre is, kan vlae of embleme gevind word wat soms foutiewelik 15 sterre vertoon (soos op die voorstel wat verwerp is) of 25 (soos voorgestel deur sommige na die uitbreiding van die EU tot 25 lidlande in 2004).[56][57] Maar die vlag is nog steeds dié van die Raad van Europa, wat tans 47 lidlande het.
Die ontwerp van die Europese vlag is in ’n variasie gebruik, soos dié van die Raad van Europa en ook in ’n groter mate soos die vlag van die Wes-Europese Unie (WEU; nou ontbind), wat dieselfde kleure en die sterre gebruik, maar met die aantal sterre wat gebaseer is op lidmaatskap en in ’n halfsirkel eerder as in ’n sirkel aangebring is. Dit is ook met die voorletters van die voormalige Wes-Europese Unie in twee tale (Engels en Frans) beklad.[59]
Die vlag van Bosnië en Herzegowina het nie so ’n sterk verbintenis as die WEU-vlag nie, maar is deels geïnspireer deur die Europese betrokkenheid in, en aspirasies van, Bosnië en Herzegowina. Hoewel in verskillende aantal en kleur word die sterre asook die blou en geel gebruik, wat ’n direkte verwysing na dié van die Europese vlag is.[60]
So gebruik die Republiek Kosovo ook ’n blou, geel en sterre op sy vlag om na die Europese vlag te verwys, wat sy Europese ambisies simboliseer (lidmaatskap binne die Europese Unie). Kosovo het, soos Bosnië en Herzegowina, streng Europese betrokkenheid in sy sake beleef, met die Europese Unie wat ’n toesighoudende rol aanvaar het ná sy onafhanklikheidsverklaring in 2008.[61][62]
Die vlag van die Brusselse Hoofstadstreek bestaan uit ’n geel iris met ’n wit fraiing op ’n blou agtergrond. Sy kleure is gebaseer op die kleure van die vlag van Europa,[verwysing benodig] omdat Brussel as die nie-amptelike hoofstad van die EU beskou word.
Die nasionale vlag van Kaap Verde toon ook ooreenkomste met die vlag van die Europese Unie. Die vlag bestaan uit ’n blou agtergrond met ’n rooi baan met wit fraaiings in die onderste helfte en tien geel sterre in ’n sirkel. Die sterre verteenwoordig die hoofeilande van die nasie (’n ketting van eilande langs die kus van Wes-Afrika). Die blou verteenwoordig die see en die lug. Die band van wit en rooi verteenwoordig die pad na die bou van die nasie en die kleure staan vir vrede (wit) en moeite (rooi). Die vlag is op 22 September 1992 aanvaar.
Produketikette gebruik gereeld die Europese vlag, soos die EU se organiese voedseletiket, wat gebruik maak van die twaalf sterre, maar hulle in die vorm van ’n blaar op ’n groen agtergrond vertoon. Die oorspronklike logo van die Europese Uitsaai-unie gebruik die twaalf sterre op ’n blou agtergrond met die toevoeging van straalbalke om die lande te verbind.
In 1987, na aanleiding van die goedkeuring van die vlag deur die EEG, het Arsène Heitz (1908–1989) — een van die ontwerpers wat voorstelle vir die vlag se ontwerp ingedien het — ’n godsdienstige inspirasie vir die ontwerp voorgestel. Hy het beweer dat die sirkel van die sterre op die ikonografiese tradisie van wat die Heilige Maagd Maria as die vrou van die Openbaring uitbeeld, gebaseer is, geklee in ’n “kroon van twaalf sterre”.[63][65] Die Franse satiriese tydskrif Le Canard enchaîné het op Heitz se stelling met ’n artikel getiteld L’Europe violée par la Sainte Vierge (“Europa verkrag deur die Heilige Maagd”) in die uitgawe van 20 Desember 1989 gereageer. Heitz het ook ’n verbinding met die vlag se datum van aanvaarding, 8 Desember 1955, wat met die Katolieke fees van die onbevlekte ontvangenis van die Heilige Maagd Maria saamval getoon.
Paul M.G. Lévy, destydse Direkteur van Inligting by die Raad van Europa verantwoordelik vir die ontwerp van die vlag, het in ’n verklaring van 1989 volgehou dat hy nie bewus was van enige godsdienstige konnotasies nie.[66]
In ’n onderhoud op 26 Februarie 1998 het Levy nie net bewustheid van die “Maria”-verband ontken nie, maar hy het ook ontken dat die finale ontwerp van ’n sirkel van twaalf sterre Heitz s'n was. Op die vraag van wie werklik die vlag ontwerp het, het Levy geantwoord:
Carlo Curti Gialdino (2005) het die ontwerpproses gerekonstrueer om die effek van Heintz se verskillende aantal sterre in sy voorstel aan te toon, waaruit die weergawe met twaalf sterre deur die Komitee van Ministers wat op Adjunkvlak in Januarie 1955 vergader het, as een uit twee oorblywende kandidaatontwerpe gekies is.[65]
Levy se onderhoud van 1998 het blykbaar tot ’n nuwe variant van die “Maria”-anekdote gelei. ’n Artikel wat in Die Welt in Augustus 1998 gepubliseer is beweer dat dit Levy self was wat geïnspireer is om ’n “Maria”-element te gebruik toe hy verby ’n standbeeld van die Heilige Maagd Maria gestap het.[67]
’n Artikel in La Raison in Februarie 2000 het die skenking van ’n loodglasvenster aan die Katedraal van Straatsburg deur die Raad van Europa op 21 Oktober 1956 verbind. Dié venster, ’n werk deur die Paryse meester Max Ingrand, toon ’n geseënde Madonna onder ’n sirkel van twaalf sterre op ’n donkerblou agtergrond.[68] Die algehele ontwerp van die Madonna is deur die vaandel van die katedraal se Congrégation Mariale des Hommes geïnspireer en die twaalf sterre is op die standbeeld gevind wat deur hierdie gemeente in die katedraal vereer word (twaalf is ook die aantal van lede van die kerkraad).[69]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.