Remove ads
Amerikaanse sakeman en medestigter en hoof- uitvoerende beampte (HUB) van Apple Inc. From Wikipedia, the free encyclopedia
Steven Paul Jobs (24 Februarie 1955 – 5 Oktober 2011) was 'n Amerikaanse sakeman en medestigter en hoof- uitvoerende beampte (HUB) van Apple Inc. Hy was voorheen ook die HUB van Pixar Animation Studios.
Steve Jobs | |
---|---|
Steve Jobs in 2007 | |
Gebore | Steven Paul Jobs 24 Februarie 1955 |
Sterf | 5 Oktober 2011 (op 56) Palo Alto, Kalifornië |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | Medestigter, voorsitter en hoof uitvoerende beampte van Apple Inc. Primêre belegger en hoof uitvoerende beampte van Pixar Stigter en hoof uitvoerende beampte van NeXT |
Bekend vir | Pionier van die Persoonlike rekenaar-rewolusie saam met Steve Wozniak |
Eggenoot | Laurene Powell (1991–2011; sy dood) |
Kinders | Lisa Brennan-Jobs (met Chrisann) Reed (met Laurene) Erin (met Laurene) Eve (met Laurene) |
Ouer(s) | Paul en Clara Jobs (aanneemouers) Joanne Schieble Simpson en Abdulfattah Jandali (biologiese ouers) |
Handtekening | |
In die laat 1970's het Jobs saam met Apple-medestigter Steve Wozniak die eerste kommersieel suksesvolle persoonlike rekenaars geskep, die Apple I en Apple II. In die vroeë 1980's was Jobs onder die eerstes wat die kommersiële potensiaal van die muisgedrewe grafiese gebruikerkoppelvlak raakgesien het.[1] Nadat Jobs in 1985 'n beheerstryd met die raad van direkteure verloor het, het hy by Apple bedank en NeXT, 'n rekenaarplatform-ontwikkelingsmaatskappy, gerig op die hoëronderwys- en besigheidsmarkte, gestig. NeXT se daaropvolgende oorname deur Apple Computer Inc. in 1997 het Jobs terug na die maatskappy gebring wat hy gehelp stig het, en hy het sedertdien as HUB daarvan opgetree. In 2007 is Steve Jobs as Fortune Magazine se Magtigste Sakeman vir daardie jaar aangewys.[2] In 2009 is Jobs deur Forbes as die 57ste magtigste persoon ter wêreld aangewys.[3]
In 1986 het Jobs die rekenaargrafika-afdeling van Lucasfilm Bpk. verkry, wat as Pixar Animation Studios afgestig is.[4] Hy het HUB en hoofaandeelhouer gebly totdat dit in 2006 deur Walt Disney Company verkry is.[5] Jobs was tot met sy dood nog lid van Walt Disney Company se raad van direkteure.[6][7]
Op 24 Augustus 2011 het Jobs sy bedanking by Apple aangekondig. Net meer as 'n maand later op 5 Oktober 2011 het sy familie sy dood weens kanker aangekondig.[8]
Steven Paul Jobs is op 24 Februarie 1955 gebore aan Abdulfattah Jandali en Joanne Schieble, en is aangeneem deur Paul en Clara Jobs (née Hagopian).
Sy biologiese pa, Abdulfattah 'John' al-Jandali, het in Homs, Sirië, grootgeword en is in 'n Arabiese Moslemhuishouding gebore. Terwyl Abdulfattah 'n voorgraadse student aan die Amerikaanse Universiteit van Beiroet in Libanon was, was hy 'n studente-aktivis en het tyd in die tronk deurgebring vir sy politieke aktiwiteite. Hy het later 'n PhD aan die Universiteit van Wisconsin gevolg, waar hy Joanne Carole Schieble, 'n Katoliek van Switserse en Duitse afkoms, ontmoet het. As 'n doktorale kandidaat was Jandali 'n onderwysassistent vir 'n kursus wat Schieble gevolg het, hoewel albei dieselfde ouderdom was. Mona Simpson, Steve Jobs se biologiese suster, merk op dat haar grootouers aan moederskant nie gelukkig was dat hul dogter met 'n Moslem uitgegaan het nie. Walter Isaacson, skrywer van Steve Jobs se biografie, verklaar ook dat Schieble se pa "gedreig het om Joanne heeltemal af te sny" as sy die verhouding sou voortsit. Baba Steve Jobs is gevolglik aangebied vir aanneming.
Jobs se aanneempa, Paul Reinhold Jobs, was 'n werktuigkundige by die kuswag. Nadat hy die kuswag verlaat het, is Paul Jobs in 1946 met Clara Hagopian getroud. Hulle pogings om 'n gesin te begin is gestaak nadat Clara 'n ektopiese swangerskap gehad het, wat daartoe gelei het dat hulle in 1955 aanneming oorweeg het. Clara Hagopian se ouers was oorlewendes van die Armeense volksmoord.[9][10] [11][12][13].
In Oktober 2003 is Jobs met kanker gediagnoseer. Middel 2004 kondig hy aan dat hy 'n kankergewas in sy pankreas het. Die voorspelling vir pankreaskanker is gewoonlik baie swak[14]. Jobs het gesê dat hy 'n seldsame, baie minder aggressiewe tipe het, bekend as 'n neuro-endokriene pankreatiese gewas.[15]
Ondanks sy diagnose, het Jobs nege maande lank sy dokters se aanbevelings vir mediese behandeling weerstaan [16] en eerder op alternatiewe medisyne vertrou om die siekte te stuit. Volgens 'n navorser by Harvard, Ramzi Amri, het Jobs se keuse van alternatiewe behandeling "gelei tot 'n onnodige vroeë dood". Ander dokters is dit eens dat Jobs se dieet onvoldoende was om sy siekte die hoof te bied. Die kankernavorser en kritikus vir alternatiewe medisyne, David Gorski, het egter geskryf dat "dit onmoontlik is om te weet of en hoeveel hy sy kans om sy kanker te oorleef, verminder het deur sy flirtasie met [alternatiewe medisyne]. My beste raaiskoot was dat Jobs sy kanse waarskynlik van oorlewing, net 'n bietjie verminder het."[17][18]
Barrie R. Cassileth, die hoof van die Memorial Sloan Kettering-kankersentrum se afdeling vir integrerende medisyne,[19] het gesê: "Jobs se geloof in alternatiewe medisyne het hom waarskynlik sy lewe gekos .... Hy het die enigste soort pankreaskanker gehad wat behandelbaar en geneesbaar was ... Hy het in wese selfmoord gepleeg."[20] Volgens Jobs se biograaf, Walter Isaacson, het Jobs "nege maande lank geweier om 'n operasie te ondergaan vir sy pankreaskanker - 'n besluit waaroor hy later spyt was omdat sy gesondheid agteruitgegaan het ".[21] "In plaas daarvan het hy 'n veganistiese dieet, akupunktuur, kruiemiddels en ander behandelings probeer wat hy aanlyn gevind het, en selfs 'n psigiese medium geraadpleeg. Hy is ook beïnvloed deur 'n dokter wat 'n kliniek bestuur wat sapvas, kolonreiniging en ander onbewese benaderings aanbeveel het, voordat hy uiteindelik in Julie 2004 geopereer is."[22]
Hy het uiteindelik 'n pankreatikoduodeenektomie in Julie 2004 ondergaan, wat blykbaar die gewas suksesvol verwyder het.[23] Jobs het nie chemoterapie of bestraling ontvang nie.[15][24] Tydens Jobs se afwesigheid het Tim Cook, hoof van die wêreldwye verkope en bedrywighede by Apple, die maatskappy bestuur.[15]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.