Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Leo XII was die 252ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk vir 5 jaar, 4 maande en 14 dae, van 1823 tot 1829. As kandidaat van die Zelanti het hy 'n konserwatiewe politiek gevoer.
Pous Leo XII | |
---|---|
Geboortenaam | Annibale Sermattei della Genga |
Pontifikaat begin | 28 September 1823 |
Pontifikaat eindig | 10 Februarie 1829 |
Voorganger | Pius VII |
Opvolger | Pius VIII |
Gebore | 22 Augustus 1760 Genga, Kerklike Staat |
Sterf | 10 Februarie 1829 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Leo |
Pous Leo XII[1][2] is gebore as Annibale Sermattei della Genga (ook Annibale Francesco Clemente Melchiore Girolamo Nicola Sermattei della Genga) op 22 Augustus 1760 in Genga, Kerklike Staat (of dalk Ancona of Spoleto). Hy is een van tien kinders van graaf Flavio Sermattei en gravin Maria Luisa Periberti di Fabriano en die oom van kardinaal Gabriele della Genga Sermattei. Genga het sy skoolopleiding aan die Accademia dei Nobili Ecclesiastici gekry en is as priester gewy op 14 Junie 1783. In 1792 stel Pous Pius VI hom aan as sy private sekretaris en op 21 Februarie 1794 as titulêr aartsbiskop van Tirus en nuntius in Lucerne. Op 14 Maart 1794 word hy verplaas na Keulen maar weens die oorlog neem hy sy intrek in Augsburg. Gedurende sy verblyf in Duitsland kom hy in aanraking met die howe van Dresden, Wene, München en Württemberg. Hy ontmoet ook Napoleon Bonaparte. Nadat Napoleon die Kerklike Staat afgeskaf het word hy deur die Franse gevange gehou. Op 22 Julie 1814 dra Genga die pous se gelukwensing oor aan koning Lodewyk XVIII van Frankryk na die val van Napoleon. Op 8 Maart 1816 word hy kardinaal-priester met die titelkerk S. Maria in Trastevere. Later op 10 Februarie 1821 word hy aartspriester van die basiliek S. Maria Maggiore. Op 12 Mei 1820 stel Pous Pius VII hom aan as vikaris-generaal van Rome. Op 28 September 1823 volg hy Pous Pius VII op en word gekroon op 5 Oktober 1823 deur kardinaal Fabrizio Ruffo. Hy regeer tot sy dood op 10 Februarie 1829 en word opgevolg deur Pous Pius VIII. Die naam ‘Leo’ beteken 'Leeu'.
Pous Leo XII[3] is verkies as kandidaat van die zelanti ten spyte van Franse teenkanting. Die pous se buitelandse politiek is eers gevoer deur Giulio Maria della Somaglia en later deur Tommaso Bernetti. Konkordate is met 'n aantal lande, onder andere met koning Willem I van Nederland, gesluit tot voordeel van die pous.
Die pous se binnelandse politiek in die Kerklike Staat was baie konserwatief. Onder die invloed van die Jesuïte her-organiseer hy die onderwys. In sy bul "Quod divina sapientia" plaas hy onderwys onder beheer van die geestelikheid en alle sekondêre onderwys, sowel as die regspraak is in Latyn gevoer. Jode is verbied on vaste eiendom te besit en baie van hulle het uitgewyk na Triëst, Lombardye en Toskane. Hy was ook sterk gekant teen Vrymesselary en rig die pouslike brief "Quo Graviora" teen hulle. Op 26 Junie 1827 publiseer hy die pouslike brief "Dirae Librorum" waarin wêreldse literatuur veroordeel word. Daar word soms beweer dat hy teen inenting teen pokke was, maar geen bewys kon daarvoor gevind word nie. Pous Leo het die pouslike hof verhuis van die Quirinaal na die Vatikaan.
Pous Leo XII het 25 nuwe kardinale aangestel in 8 konsistories.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.