From Wikipedia, the free encyclopedia
Potjiekos is 'n verwysing na 'n eg Suid-Afrikaanse kooktegniek wat 'n ysterpot as hoofkookinstrument gebruik. Die ysterpot is ook bekend in ander dele van die wêreld as 'n dutch-oven, en word ook ysterpot, swart pot of net potjie genoem. Die pot word gemaak uit gietyster en het 'n los deksel. Daar is verskillende groottes wat begin by 1/4 tot so groot as nommer 25. Vir die gemiddelde gesin van 4 tot 6 mense is 'n nommer 3-pot voldoende.[1] Die pot is verkrygbaar met 'n ronde bodem met drie pote, of met 'n plat bodem sonder pote.
Hierdie is 'n lys van moontlike bestanddele van 'n potjie. Daar hoef natuurlik nie van alles in te gaan nie, dis die sjef se eie keuse!
'n Tipiese potjiekosresep het een of ander vleis as die basis van die gereg en groente en sous wat saam gekook en bedien word. 'n Vuur word gewoonlik gemaak apart van die kookgebied. Soos wat daar kole vorm, word dit onder, en somtyds bo op die ysterpot gepak om die optimale temperatuur te verkry. Dit kan enige iets van twee tot agt ure vat om potjiekos te maak, afhangende van die soort vleis en ander bestanddele wat gebruik word. Verskillende tegnieke word gebruik, maar die algemeenste is om die bestanddele in lae te plaas, en glad nie te roer nie. Om te bedien word daar dan met 'n groot lepel in een skep van onder tot bo 'n bietjie van alles geskep. Potbrood word ook gemaak in 'n pot, maar is gewoonlik 'n bygereg vir 'n braaigeleentheid.
Potjiekoskompetisies is baie gewild in Suid-Afrika en Namibië onder die Afrikaners, maar ook in lande waar Suid-Afrikaners hervestig het oor die afgelope jare soos Nederland, Engeland, Australië en Nieu-Seeland. Potjiekos word in dieselfde asem as boerewors, biltong, droëwors, melktert, koeksisters, afval en bobotie genoem as eg-tradisionele Afrikaanse geregte, en daarmee vorm dit 'n sosiale band tussen Afrikaners regoor die wêreld. Om iemand oor te nooi vir potjiekos is soos om te sê dat die genooide persoon deel van jou vriendekring is, en jy graag saam wil kuier en gesels. Die bekende sanger Anton Goosen bring hulde aan Potjiekos met sy trefferliedjie van dieselfde titel. 'n Deel van die Voortrekkerkultuurorganisasie se armembleemvereistes is om te leer kook met 'n swart pot.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.