From Wikipedia, the free encyclopedia
Plantluise is klein sapdrinkende insekte en lede van die familie Aphididae.[1] Hulle is van die vernietigendste plae op plante in gematigde streke.[1] Die skade wat hulle aanrig, het hulle wêreldwyd die vyande van boere en tuiniers gemaak, hoewel hulle uit ’n dierkundige oogpunt ’n hoogs suksesvolle groep organismes is.[2]
Sowat 4 400 spesies kom voor.[3] Van hulle is sowat 250 spesies ’n ernstige plaag vir landbou en bosbou en ’n las vir tuiniers. Hulle wissel in lengte van 1 tot 10 mm.
Hul natuurlike vyande sluit in lieweheersbesies en sekere soorte larwes, perdebye en spinnekopppe.
Plantluise kom wêreldwyd voor, maar minder in die trope. Hulle kan oor groot afstande migreer en word meestal deur die wind gedra.
Die meeste plantluise het sagte lywe wat groen, swart, bruin, pienk of kleurloos kan wees. Hulle het voelers met tot ses segmente,[1] lang, dun pote en ’n stertagtige uitsteeksel aan hul agterlyf.[4] Hulle drink plantsap deur suigende monddele bekend as stilette.[5]
Plantluise kom meestal net op een soort plant voor. Hulle drink die sap van bladweefselvate in plante. Nadat die vaat stukkend gebyt is, spuit die sap, wat onder hoë druk is, in die plantluis se voedselkanaal in.
Sommige spesies miere "boer" met plantluise. Hulle beskerm hulle teen hul aanvallers en eet die heuningdou wat die plantluise afskei. Die miere "melk" die plantluise deur hulle met hul voelers te streel.[6]
Sommige miere stoor die luiseiers in hul nes vir die winter, en dra die pas uitgebroeide plantluise in die lente terug na die plante.
Plante met plantluise kan verskeie simptome toon, soos beperkte groei, gevlekte blare, vergeling, opgekrulde blare en verlepping. Die plante kan selfs vrek. Die sap wat die plant gesond hou, word verwyder en die spoeg is skadelik vir die plant. Die plantluise kan ook virusse aan die plant oordra wat dit kan doodmaak.
Die heuningdou wat die plantluise agterlaat, kan die verspreiding van swamme aanhelp.[7][8] Heuningdou kan ook die doeltreffendheid van swamdoders verminder.[9]
Die bladvlooie (superfamilie Psylloidea) is insekte met ’n lengte van 2 tot 5 mm wat baie soos klein sonbesies lyk, maar wat onderskei kan word op grond van die kleiner oë, die langer antennae en die 2 segmente van die tarsi. Die dye van die agterpote is baie vergroot en stel die bladvlooie in staat om ver te spring. Slegs een familie, die Psyllidae, met 2 subfamilies word onderskei.
Ongeveer 1 300 spesies van hierdie familie is reeds beskryf, maar daar is moontlik baie meer. Bladvlooie leef aan die onderkant van blare en jong takkies, waar hulle sap uit die vaatbondels suig. Die meeste spesies het bepaalde gashere. Die eiers word met klein steeltjies aan die groeipunte en jong blare vasgeheg, waarvandaan die uitgebroeide larwes geskikte vassuigplekke soek. Soos ander plantluise produseer hulle groot hoeveelhede vloeibare suiker (heuningdou) en soms wit, wasagtige drade waaronder die hele larwe kan skuil.
Plante reageer gewoonlik op die aanwesigheid van bladvlooie deurdat hulle verkleur en/of die weefsel vervorm, en dikwels word egte galle gevorm. Een van die bekendste Suid-Afrikaanse voorbeelde van hierdie bladluise is die gewone sitrusbladluis (Trioza erytreae), wat reg deur Afrika suid van die Sahara op lemoenbome en 'n paar verwante bome aangetref word.
Die volwassenes is slegs ongeveer 2 mm lank, aanvanklik groen, maar word later amper swart. Waar die larwes aan die blare vassuig, vorm klein holtes en wanneer daar baie larwes aanwesig is, raak die blare heeltemal misvorm. Die larwes vervel 5 keer en raak na 3 tot 4 weke volwasse.
Die motluise (superfamilie Aleyrodoidea) is 'n betreklik klein groep (ongeveer 200 spesies) insekte wat selde langer as 2 mm is, vlerke het en lyk asof hulle met meel besprinkel is. Die be-aring van die vlerke is baie gereduseer. Die larwes suig gewoonlik aan die onderkant van blare vas en wanneer hulle volwassenheid nader, ondergaan hulle 'n soort papiestadium.
Daar is groot onderlinge verskille tussen die papies van verskillende spesies van hierdie superfamilie. Die klassifikasie van die motluise is ook grotendeels op die papies gebaseer, omdat die volwassenes te veel na mekaar lyk. Slegs een familie, die Aleyrodidae, word onderskei en die meeste lede van die familie kom in die tropiese wêrelddele voor.
Een daarvan is die berugte kasmotluis (Trialeyroides vaporarium), wat oorspronklik slegs in Suid-Amerika voorgekom het, maar daarvandaan wêreldwyd versprei het en groot skade aan plante soos fuchsias kan aanrig. Een van die metodes wat vandag vir die beheer van kasmotluise of witvlieë gebruik word, is biologiese beheer met behulp van die sluipwespe Encarsia formosa, wat dikwels spesiaal vir daardie doel geteel word. Die sitrusmotluis (Dialeyrodes citri) rig dikwels ook skade aan lemoenbome aan.
Die bekendste en meeste plantluise behoort tot die egte blaarluise (superfamilie Aphidoidea), waarvan die familie Aphididae die grootste is. Die vlerke van blaarluise is meestal volkome deursigtig en die voorste paar vlerke is groter as die agterste paar. Die be-aring van die voorste paar vlerke bestaan uit een groot aar langs die voorrand van die vlerk, waarvandaan al die ander dwarsare uitloop.
By baie van die blaarluise is daar gasheerwisseling, met ander woorde die larwes en die volwassenes leef op verskiltende plantspesies. Een voorbeeld van die talle plantluisspesies wat in Suid-Afrika aangetref word, is die gewone ertjieluis (Aphis craccivora), wat op ’n groot verskeidenheid van peulplante soos boontjies, ertjies en grondboontjies aangetref word. Soos verskeie ander spesies is hierdie plantluise 'n groot ekonomiese faktor omdat hulle die plant meganies beskadig, maar ook omdat hulle 'n grondboontjiesiekte versprei.
Die groenappelblaarluis (Aphis pomi) en die koolblaarluis (Brevicoryne brassicae) is nog 2 lede van die familie Aphididae wat onderskeidelik op appelbome en lede van die koolfamilie aangetref word. Blaarluise het 'n geweldige voortplantingskapasiteit en daar is bereken dat een wyfie wat uit 'n eier uitbroei, aan meer as 16 miljard nakomelinge oorsprong kan gee, wat saam weer meer as 500 x 109 eiers sou kon lê. In die praktyk word hierdie potensiaal nooit verwesenlik nie, maar dit beteken wel dat dit baie moeilik is om plantluise te beheer.
Die biologiese beheer van blaarluise het egter in 'n paar gevalle suksesvol blyk te wees omdat hulle die luisbevolkings op ’n lae vlak hou. Veral die larwes van sweefvlieë (familie Syrphidae), lieweheersbesies en hul larwes en 'n aantal sluipwespes (families Braconidae en Chalcididae) is belangrike natuurlike vyande van plantluise en word daarom in biologiese beheer gebruik. Die lewensiklus van blaarluise is betreklik ingewikkeld. Gedurende die grootste deel van die somer is daar slegs vlerklose wyfies en hierdie wyfies gee gedurig sonder bevrugting oorsprong aan lewendige kleintjies (weer vlerklose wyfies) deur die proses van partenogenese.
Wanneer die gasheerplant oorbevolk raak, vorm sommige van die luise vlerke en vlieg na ander plante, waar die proses herhaal word. Teen die einde van die somer word sowel mannetjies as wyfies gebore wat paar. Die wyfies lê eiers wat gedurende die winter rus tot die volgende lente. In tropiese wêrelddele, waar daar dikwels geen duidelike winter is nie, is daar meestal geen eierstadium nie. Benewens die grootste familie van die superfamilie, die Aphidoidae, is daar nog 7 families wat daartoe behoort.
Benewens die reeds genoemde spesies van die familie Aphididae behoort ook die katoenluis (Aphis gossypii) en die groenperskeluis (Myzus persicae) tot hierdie familie. Die galluis (familie Pemphigidae) veroorsaak galle op die gasheer en verskeie spesies, soos die wollerige appelluis of appelbloedluis (Eriosoma lanigerum), vorm wasdrade. Die appelbloedluis vorm wit, watte-agtige kolle op die takke en stamme van appelbome. Die luise self is bruin van kleur en hul bytplekke veroorsaak diep, kankeragtige wonde.
Die klein blaarluise van die familie Adelgidae leef uitsluitend op naaldbome (afdeling Coniferophyta). Ook lede van die familie Lachnidae word op naaldbome aangetref. Hierdie luise het duidelik ontwikkelde sifons op hulle agterlywe en vorm geen galle nie. Die wyn- of druifluis (Viteus vitifoliae) is een van die lede van die familie Phylloxeridae wat in die vorige eeu verantwoordelik was vir die byna algehele ineenstorting van die Europese wynbou. Deur die inenting op minder gevoelige onderstamme is die Europese wynrasse van uitwissing gered. Die wynluis kom ook in Suid-Afrika voor.
Die skildluise (superfamilie Coccoidae) is in die landbou, en veral in die tropiese landbou, van nog groter belang as die blaarluise. Die wyfies is altyd sonder vlerke en lyk soos larwes, terwyl die mannetjies, wat 'n papiestadium deurmaak, meestal wel vlerke het. Die agterste paar vlerke is egter gereduseer tot kolfvormige orgaantjies. Die wyfie produseer eiers of larwes wat vir 'n rukkie lank onder die liggaam in ’n wasagtige sak saamgedra word.
Daarna soek sy ’n jong gedeelte van 'n gasheerplant waar sy haar vassuig. Na die volgende vervelling verloor die larwes geleidelik hul ledemate en bedek hulle met 'n stewige skild. Tien families word onder hierdie superfamilie gegroepeer, waarvan veral die bloed- of wolluise (familie Pseudococcidae) bekend is. In die tropiese wêrelddele is hulle ’n algemene plaag op kakao, koffie en sitrusplante. Die reuseluise (familie Margarodidae) lyk baie soos die luise van die vorige familie, maar is heelwat groter en mooier. Sommige spesies wat in die droë wêrelddele op plantwortels leef, vorm siste wat soos pêrels lyk en in Suid-Afrika en elders as sogenaamde "ground pearls” verhandel word.
Uit die spesie Margerodes polonicus is vroeër 'n kleurstof verkry. ’n Australiese lid van hierdie familie, Icerya purchasi, is per ongeluk in 1872 in Suid-Afrika ingevoer en het heelwat ernstige skade aan sitrusbome, rose, akasias en ander plante veroorsaak, maar is later beheer deur die invoer van ʼn Australiese lieweheersbesie, Rodolia cardinalis. ’n Lid van die familie Dactylopiidae wat veral in Australië en Suid-Afrika belangrik is, is Dactylopius opuntiae.
Hierdie spesie is in Australië baie suksesvol gebruik in die bestryding van turksvye en is toe ook na Suid-Afrika ingevoer. Hier is hul verspreiding beperk deur lieweheersbesies, ’n swamsiekte, hael, swaar reën en ryp en gevolglik was die beheer van turksvye nie so suksesvol nie, maar heelwat land is steeds vir die landbou herwin. Die dopluise (familie Coccidae) vorm plat of bolronde skildjies wat aan die agterrand ’n inkeping het en waaronder die eiers gelê word.
Die lakskildluise (familie Lacciferidae) was en is soms nog die bron van sekere grondstowwe wat in die vervaardiging van vernis nodig is. Die belangrikste en grootste familie van die skildluise is die skilferluise (Diapididae) met meer as 1 000 spesies. Na herhaalde vervellings bestaan hul skildjie uit 2 of 3 konsentriese ringe. Die rooiskilferluis (Aonidiella aurantii) is een van die algemeenste en lastigste lede van die familie in Suid-Afrika. Die spesie is nie inheems in Afrika nie en is waarskynlik reeds meer as 'n eeu gelede na Suid-Afrika ingevoer.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.