Suid-Afrikaanse regsgeleerde, rolprentmaker en digter From Wikipedia, the free encyclopedia
Piet de Jager (22 Januarie 1953 – 12 Januarie 2023) was ’n Afrikaanse regsgeleerde, wat veral bekendheid verwerf as rolprentmaker en digter.
Piet de Jager is in 1953 in Bethal gebore as die seun van Salmon de Jager, ’n landdros. Weens sy pa se beroep trek hulle baie en hy word groot in Kaapstad, Kimberley en Durban. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth. Sy universiteitsopleiding is aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en hy behaal hier ’n B.A.-graad in die Regte en ’n M.A.-graad in Staatsfilosofie, waarna hy die LL.B.-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Hy word in 1982 as advokaat toegelaat tot die Pretoria-balie, waar hy in 1997 senior status (S.C.) verwerf. In sy regsloopbaan is hy betrokke by verskeie opspraakwekkende sake, waaronder die Trojaanse perd-saak van die middel 1980’s, die Harms-kommissie oor korrupsie en die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) van die 1990’s. Hy het sowel generaal Magnus Malan as president P.W. Botha in die hof verdedig. Hy was getroud met Luitha, ’n gimnastiek-afrigter, wat hy op universiteit in Bloemfontein leer ken het, en hulle het in Bronkhorstspruit gewoon. Hulle het vier kinders, drie seuns (Sallas, Dawie en Pieter) en ’n dogter (Elena). Saam met sy seun Sallas begin hy Bosbok 6 Films, ’n produksiemaatskappy wat genoem is na hulle straatadres in Bronkhorstspruit. Op Bronkhorstspruit bedryf hy ook ’n kwekery.
Sy gedigte word gebundel in “Ouhout”, wat deur Zerk de Villiers geïllustreer word. Hy vertaal Albert Camus se “La peste” as “Die pes[1]” in Afrikaans. In hierdie boek word die stad Oran deur ’n epidemie vernietig, maar Camus se werk is allegories van aard en verwys enersyds na die Nazi-besetting van Frankryk en andersyds na die menslike kondisie, waar die pes nooit verdwyn nie.
Piet vervaardig ook rolprente en staan so aan die hoof van die vervaardiging van “Roepman” van Jan van Tonder en die fliek oor die Anglo-Boereoorlog, “Verraaiers”, wat deur Albert Blake se boek “Boereverraaiers” geïnspireer is. Hierna volg “Stuur groete vir Mannetjies Roux”, waarin die bekende liedjie van Laurika Rauch ’n groot rol speel, en “Musiek vir die agtergrond. Sy eerste rolprent in Engels is “Losing Molly”, wat gegrond is op die ware verhaal van die struggle-advokaat Bram Fischer se tragiese verval nadat sy vrou in ’n fratsongeluk oorlede is.
Jaar | Publikasie |
---|---|
2005 | Ouhout |
Vertaling | |
2012 | Die pes- Albert Camus |
Rolprente | |
2010 | Roepman |
2013 | Verraaiers |
2014 | Musiek vir die agtergrond |
Stuur groete vir Mannetjies Roux |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.