From Wikipedia, the free encyclopedia
Mimosa (ook bekend as Beta Crucis, β Cru of Becrux) is ’n dubbelster; die tweede helderste ster in die sterrebeeld Suiderkruis, naas Acrux (Alpha Crucis); en die 19de helderste ster in die naglug. Dit is deel van die prominente asterisme wat ook as die Suiderkruis bekend is.
Mimosa
| ||||
Mimosa se ligging (in die rooi sirkel). | ||||
Sterrebeeld | Suiderkruis | |||
Bayer-naam | Beta Crucis | |||
Spektraaltipe | B0,5 III[1] / B2 V[2] | |||
Soort | Dubbelster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 12h 47m 43.26877s[3] | |||
Deklinasie | -59° 41′ 19.5792″[3] | |||
Skynmagnitude (m) | 1,25[4] (1,23 – 1,31)[5] | |||
B-V-kleurindeks | -0,23[4] | |||
U-B-kleurindeks | -0,98[4] | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 16 / 10[2] | |||
Radius (R☉) | A: 8,4 ± 0,6[1] | |||
Ligsterkte (L☉) | A: 34 000[1] | |||
Ouderdom (jaar) | 8 tot 11 miljoen[1] | |||
Temperatuur (K) | A: 27 000 ± 1 000[1] | |||
Rotasiespoed (km/s) | A: 35[1] | |||
Metaalinhoud [Fe/H] | A: -0,08 deks[6] | |||
Eienskappe | ||||
Veranderlikheid | A: β Cep[1] | |||
Veelvoudigheid | Dubbelster | |||
Ander name | ||||
Mimosa,[7] Becrux,[8] HR 4853, CPD−59°4451, HD 111123, FK5 481, SAO 240259, HIP 62434 | ||||
|
Mimosa is vermoedelik die warmste ster van die eerste magnitude; dit het ’n skynbare magnitude van 1,25. Volgens parallaksmetings is dit sowat 280 ligjare van die Son af. In 1957 het die Duitse sterrekundige Wulff-Dieter Heintz ontdek dit is ’n spektroskopiese dubbelster met komponente wat te na aan mekaar is om met ’n teleskoop van mekaar te onderskei.[9] Die twee sterre wentel elke vyf jaar om mekaar op ’n afstand wat wissel van sowat 5,4 tot 12 AE.[2] Die stelsel is net 8 tot 11 miljoen jaar oud.[1]
Die primêre ster, Beta Crucis A, is ’n groot ster met ’n massa van sowat 16 keer dié van die Son. Sy geprojekteerde rotasiespoed is sowat 35 km s-1.
Dit is ’n bekende Beta Cephei-veranderlike, maar met ’n effektiewe temperatuur van sowat 27 000 K is dit aan die hoë kant van die onstabiele strook waar sulke sterre voorkom. Dit het drie verskillende pulseringsperiodes, waarvan nie een radiaal is nie. Al die pulseringsperiodes is tussen omtrent 4,03 en 4,59 uur. Die ster het ’n sterreklassifikasie van B0,5 III – die ligsterkteklas van "III" dui aan dis ’n reusester wat die waterstof in sy kern opgebruik het. Dit is sy hoë oppervlaktemperatuur wat die ster die blouwit skynsel van ’n B-tipe ster gee.[10] Dit het ’n sterk sterwind en verloor moontlik sowat 10-8 keer die Son se massa per jaar, of die Son se volle massa elke 100 miljoen jaar. Die wind verlaat die stelsel teen ’n snelheid van 2 000 km s-1 of meer.[1]
Die sekondêre metgesel is dalk ’n hoofreeksster met ’n klassifikasie van B2 V.[2] In 2007 is ’n derde metgesel bekendgemaak; dit is dalk ’n voorhoofreeksster met ’n lae massa. Die X-straaluitstralings van die ster is deur die Chandra-X-straalsterrewag opgespoor. Nog twee sterre, teen ’n hoekskeiding van onderskeidelik 44 en 370 boogsekondes, is moontlik optiese metgeselle wat nie fisiek met die stelsel verbind is nie. Die Beta Crucis-stelsel is dalk lid van die Laer Centaurus-Crux-subgroep van die Scorpius-Centaurus-assosiasie;[11] dit is ’n assosiasie van sterre wat dieselfde oorsprong het.[1]
Die ster se Bayer-naam is "Beta Crucis". Die tradisionele name is "Mimosa" en die geskiedkundige naam "Becrux". Mimosa is die Latynse woord vir "akteur" en kan kom van die blom met dieselfde naam.[12] Becrux is ’n moderne verkorting van die Bayer-naam.[8]
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Mimosa" vir die ster goedgekeur.[13]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.