Kamtsjatka-krai

federale deelgebied van Rusland From Wikipedia, the free encyclopedia

Kamtsjatka-krai

Kamtsjatka-krai (Russies: Камчатский край, Kamtsjatski krai) is ’n deelgebied van Rusland wat op 1 Julie 2007 ná ’n referendum gevorm is deur die samesmelting van Kamtsjatka-oblast en Korjak- Outonome Okroeg. Dit lê in die Verre-Oosterse Federale Distrik en die hoofstad is Petropawlofsk-Kamtsjatski. Dié stad is die tuiste van meer as die helfte van die krai se bevolking van 322 079 (2010).[1]

Kitsfeite
Kamtsjatka-krai
Камчатский край
Thumb
Die ligging van Kamtsjatka-krai in Rusland.
Politieke status
Land Russiese Federasie
Federale distrikVerre-Oosterse
Ekonomiese streekVerre-Oosterse
Stigting1 Julie 2007
Regering
HoofstadPetropawlofsk-Kamtsjatski
LeierWladimir Iljoechin (waarnemend)
AmpGoewerneur
WetgewerWetgewende Raad
Bevolking
Sensus2010
Totaal322 079
Volgorde76ste
Digtheid0,68/km2
Stedelik77,35%
Plattelands22,65%
Statistiek
Oppervlakte472 300 km2
Volgorde10de
TydsoneUTC+12:00
Registrasienommer91
Amptelike taleRussies
Webtuistehttp://www.kamchatka.gov.ru/
Wapen en vlag
Thumb

Thumb
Portaal    Rusland
Sluit

Die naam Kamtsjatka word ook gebruik vir die skiereiland waarop die krai geleë is.

Geografie

Kamtsjatka-krai beslaan die Kamtsjatka-skiereiland, die aangrensende deel van die vasteland, die Karaginski-eiland en die Kommandeureilande. Dit word in die ooste begrens deur die Beringsee van die Stille Oseaan (’n kuslyn van meer as 2 000 km) en in die weste deur die See van Ochotsk (ook ’n kuslyn van sowat 2 000 km).

Bergreekse sluit in die Sredinni (sowat 900 km lank), Oosreeks (sowat 600 km lank), Wetweiski, Penzjinski, Pahatsjinski en Oljoetorski.

Skiereilande sluit in (kloksgewys van noordwes): Gawena, Ilpinski, Ozernoi, Kamtsjatska, Sjipoenski en Jelistratowa.

Eilande is (kloksgewys van noordwes): Werchotoerof, Karaginski, Kommandeureilande, Ptitsji, Konoes, Zoebtsjati, Rowni, Dobrzjanskowo, Ftoroi, Kraini en Treti. Al is die Koerile so na aan die krai, is hulle nie deel daarvan nie; hulle val onder Sachalin-oblast.

Kamtsjatka val in ’n sone van vulkane – daar is sowat 300 groot en mediumgroot vulkane, waarvan 29 aktief is. Kloetsjefskaja is die grootste vulkaan in Eurasië; dit is 4 750 m hoog.

Al lê Kamtsjatka op dieselfde breedtegraad as Skotland, is die klimaat hoofsaaklik subarkties – dit is meer kontinentaal in die binneland en meer maritiem aan die kus, met moesonwinde.

Natuur

Thumb
Kronotskoje-meer.
Thumb
Kambalni-stratovulkaan.
Thumb
Korjakski-vulkaan.
Thumb
Die Korjakski-vulkaan toring bo Petropawlofsk-Kamtsjatski uit.

Die grootste deel van die skiereiland is bedek met goudberke, terwyl witelse en Siberiese dwergdennebome algemeen op groter hoogtes aangetref word. In sentrale gebiede, veral in die Kamtsjatkariviervallei, kom woude van lorke en sparre algemeen voor. Op vloedvlaktes groei woude van geurige populiere, else, Chosenia en Sachalin-wilgers. Daaronder word plante soos meidoring, kersiebome, Kamtsjatka-vlierbessies, Kamtsjatka-kanferfoelie, vleirosies en baie ander spesies aangetref.

Meer as 14,5% van die Kamtsjatka-streek word beskerm. Daar is onder meer ses bewaringsgebiede van federale belang, vier natuurparke van streeksbelang, 22 reservate en 116 natuurmonumente.

Die Kronotski-natuurreservaat is ’n natuurgebied aan die kus van die Kamtsjatka-skiereiland wat gereserveer word vir die studie van natuurwetenskap in die afgeleë Russiese Verre Ooste.[2] Dit is in 1934 geskep en beslaan tans ’n oppervlakte van 10 990 km2.[2] Dit bevat ook Rusland se enigste geiserbekken, asook verskeie bergreekse met talle vulkane wat óf aktief óf uitgedoof is. Vanweë die streek se dikwels strawwe klimaat en sy mengsel van vulkane en geisers, word dit dikwels beskryf as "die land van vuur en ys".[3]

Die reservaat is hoofsaaklik toeganklik vir wetenskaplikes, maar toeriste kan ook op helikoptervlugte gaan.[3] Unesco het die Kronotski-natuurresevaat tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar.[4]

Demografie

Oosters-Ortodoks
 
31.2%
Ortodoks (ander)
 
0.8%
Protestants
 
0.6%
Ander Christene
 
5.2%
Islam
 
1.2%
Inheemse gelowe
 
2.4%
Spiritueel, maar nie       godsdienstig
 
22.8%
Ateïsties
 
21.0%
Ander of geen
 
14.8%
Godsdiens in Kamtsjatka-krai

Etniese samestelling

Volgens die 2010-sensus[1] is 85,9% van die bevolking Russe, 3,9% Oekraïners en 2,3% Korjakke. Ander etniese groepe (almal minder as 1%) is: Tatare, Itelmens, Belarusse, Ewens, Kamtsjadals, Tsjoektsji's en Koreane.

Altesaam 28 084 mense kon nie hulle etnisiteit verskaf nie; daar word aangeneem hulle verspreiding is dieselfde as dié wat wel hulle etnisiteit aangedui het.[5]

Ekonomie

Grondstowwe sluit in steenkool, goud en aardgas. Die meeste mense woon in die hoofstad en werk hoofsaaklik in die vissery-, houtkap- en toerismebedryf asook vir die weermag. Daar is nog ’n groot militêre aanwesigheid op die skiereiland.

Verwysings

Skakels

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.