From Wikipedia, the free encyclopedia
Johan Coetzee (1946–1989) was ’n Afrikaanse skrywer van kortverhale oor die grensoorlog.
Johan Coetzee is op 31 Maart 1946 in Johannesburg gebore en matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar. Hy voltooi sy basiese militêre diensplig in 1964, waar hy in Maart ’n offisierskursus aan die Leërgimnasium voltooi en daarna in Julie as tweede luitenant uitgeplaas word na Walvisbaai. Na voltooiing van sy diensplig sluit hy aan by die infanterie-eenheid Regiment Johannesburg as offisier. Hy studeer verder in Johannesburg aan die Universiteit van die Witwatersrand met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke en behaal ’n B.A.-graad. Na universiteit sluit hy by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie aan as nuusman en aktualiteitsaanbieder, waarna hy in 1969 joernalis word by die Sondagkoerant Die Beeld. Intussen woon hy verskeie kampe as offisier in die Burgermag by, onder andere twee op die grens met Rhodesië. Hy lê hom veral op finansiële beriggewing toe en word in die redaksie van Rapport opgeneem toe Die Beeld en Dagbreek saamsmelt. Vir twee jaar is hy Sake-Rapport se eerste en enigste verslaggewer en sluit dan in 1974 by die Sunday Express aan as eiendomsredakteur.
In 1975 werk hy as vryskut en stig kortstondig sy eie uitgewery, Die Onafhanklike Pers van Suid-Afrika (Edms.) Bpk., wat twee uitgawes van ’n nuwe onderwysblad, Tutor, uitgee. Hierdie blad is finansieel onsuksesvol en hy sluit dit, terwyl sy huwelik van nege jaar met Marjanne de Bree terselfdertyd misluk. Twee seuns, Antoine Johan (6 Junie 1970) en Hendré de Bree (13 Januarie 1974), is uit hierdie huwelik gebore. In Januarie 1976 word hy opgeroep vir militêre diens in Angola en veg hy drie maande in hierdie oorlog as gevegsadjudant van een van die gevegsgroepe. By sy terugkeer in Mei 1976 aanvaar hy ’n pos by Huisgenoot in Kaapstad as militêre korrespondent. Hy skei op 4 Junie 1976 en trou dan op 22 Januarie 1977 met die onderwyseres Amoré Pienaar van Kaapstad, vroeër van Cradock. Hy word later redakteur van Jongspan, die jeugafdeling by Huisgenoot, vir wie hy tot met sy dood die rubriek “Karel Poskabouter” skryf. In 1983 word hy die eerste nuusredakteur en ná ’n ernstige hartaanval in 1988 produksiebestuurder. Hy is ook geakkrediteerde Weermagkorrespondent. In Mei 1989 is hy in Kaapstad aan ’n hartaanval oorlede.
Na sy besoek aan die grens begin hy skryf en sy eerste kortverhale word in Junie 1976 in Huisgenoot gepubliseer en in 1978 verskyn die eksperimentele “Huis onder antenne”, wat Huisgenoot se prys vir kortverhaal van die maand verwerf.[1] “Verby die wit brug” [2] is populêre kortverhale oor die grensoorlog wat verskeie kere op skool voorgeskryf word. Meeste van hierdie kortverhale het voorheen in tydskrifte verskyn. Die bundel vorm ’n hegte geheel, met die eerste verhaal wat ’n gesprek met ’n vertrekkende soldaat is en die laaste oor ’n reünie van ses soldate wat saam op die grens was, met verhale oor die gebeure op die grens tussenin. Hierdie boek beleef verskeie herdrukke. Hy is die skepper van die Boetie-karakter van die rolprente “Boetie gaan border toe” en “Boetie op maneuvers” en is medeskrywer van die draaiboeke vir hierdie rolprente. Draaiboeke van Jan Scholtz verwerk hy as romans onder die titels “Die eensame vlug” en “Diamant en die dief”.
Verder skryf hy gedigte oor Angola, ’n basiese konsep vir ’n drama, ’n televisiereeks oor die Weermag wat hy vir oorweging voorgelê het en ook verskeie artikels oor militêre sake vir verskeie tydskrifte.
Jaar | Publikasies |
---|---|
1978 | Verby die wit brug |
1979 | Die eensame vlug (saam met Jan Scholtz) |
Diamant en die dief (saam met Jan Scholtz) |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.