From Wikipedia, the free encyclopedia
Jean Raspail (5 Julie 1925 – 13 Junie 2020) was 'n Franse skrywer en reisiger. Verskeie van sy boeke handel oor historiese persoonlikhede en eksplorasie. Die luisterryke Grand Prix du roman de l'Académie française en Grand prix de littérature de l'Académie française pryse is deur die Franse akademie aan hom toegeken. Hy is veral bekend om sy opspraakwekkende roman uit 1973 getitel Omsingel die laer van die heiliges, wat oor massa-immigrasie uit die Derde Wêreld na Europa handel.
Raspail is gebore op 5 Julie 1925 in Chemillé-sur-Dême, Indre-et-Loire. Hy was die seun van 'n fabrieksbestuurder, Octave Raspail, en sy vrou Marguerite Chaix. Hy het private katolieke skole bygewoon (die Saint-Jean de Passy in Parys, die Institution Sainte-Marie d'Antony in Antony, Hauts-de-Seine en die École des Roches in Verneuil-sur-Avre).
Gedurende die eerste twintig jaar van sy loopbaan reis Raspail deur die wêreld en ontdek bevolkings wat bedreig word vanweë hul konfrontasie met modernisme. Hy lei van 1950 tot 1952 'n ekspedisie vanaf Tierra del Fuego tot Alaska en in 1954 'n Franse navorsingstog na die land van die Inkas. Raspail was konsul-generaal van die Koninkryk van Araucanía en Patagonië.[1] In 1981 wen sy roman Moi, Antoine de Tounens, roi de Patagonie die Grand prix du roman de l'Académie française (romanprys) van die Franse akademie.
Sy tradisionele Katolisisme dien as inspirasie vir baie van sy utopiese werke, waarin die ideologieë van kommunisme en liberalisme as mislukkings aangetoon word, en 'n Katolieke monargie herstel word. In sy roman uit 1990 getitel Sire word 'n Franse koning (die 18-jarige Philippe Pharamond de Bourbon, 'n direkte afstammeling van die laaste Franse konings) in Februarie 1999 in Reims gekroon.
In sy bekendste werk, Omsingel die laer van die heiliges (1973), voorspel Raspail die ineenstorting van die Westerse beskawing as gevolg van 'n oorweldigende "getygolf" van Derde Wêreldse immigrasie. Die "hordes" van die wêreld rys, en "vernietig die blanke ras", in die woorde van die dramaturg Ian Allen.[2] Die boek is vertaal in Afrikaans, Nederlands, Engels, Duits, Spaans, Italiaans, Tsjeggies, Pools en Portugees. Met ingang 2006 is reeds meer as 500, 000 eksemplare daarvan verkoop.[3] Na sy opspraakwekkende Omsingel die laer van die heiliges skryf Raspail verdere romans soos Septentrion, Sire en L'Anneau du pêcheur. Raspail herhaal hierdie sienings as medeskrywer in 'n artikel uit 1985 ("Will France Still Be French in 2015?") Vir die tydskrif Le Figaro, waar hy dit stel dat "Frankryk se nie-Europese immigrantebevolking in so 'n mate sal groei dat die voortbestaan van die tradisionele Franse kultuur, waardes en identiteit in gevaar gestel sal word".[4]
Raspail is in 2000 benoem as kandidaat vir die Franse akademie. Hy het die meeste stemme ontvang,[5] maar kon egter nie die meerderheid stemme verkry wat vereis is vir verkiesing tot die vakante posisie van Jean Guitton nie.
Op grond van 'n artikel vir Le Figaro wat op 17 Junie 2004 verskyn, getiteld "La patrie trahie par la république" (Afrikaans: "Die Vaderland verraai deur die Republiek",[6] waarin hy die Franse immigrasiebeleid kritiseer, word hy gedagvaar deur die Internasionale Liga Teen Rassisme en Anti-semitisme vir "aanhitsing tot etniese of rassehaat". Die aksie word egter op 28 Oktober deur 'n hof van die hand gewys.
In 1970 ken die Académie française die Jean Walter-prys aan Raispal toe vir sy gehele oeuvre.[7] In 2007 is die Grande Médaille d’Or des Explorations et Voyages de Découverte deur die Société de géographie van Frankryk vir sy gehele oeuvre aan hom toegeken.[8]
Hy het in Neuilly-sur-Seine naby Parys gewoon. Hy sterf op 13 Junie 2020 op 94-jarige ouderdom in die Hôpital Henri-Dunant.[9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.