From Wikipedia, the free encyclopedia
Die FSB (voormalige KGB) is die binnelandse intelligensiediens van Rusland. FSB staan vir Federale Veiligheidsdiens van die Russiese Federasie (Федеральная служба безопасности Российской Федерации: Federalnaja sloezjba bezopasnosti Rossijskoi Federatsii). Die diens beveg onder meer korrupsie, terrorisme en georganiseerde misdaad.
Die FSB is in 1995 gestig as opvolger van die FSK (Federale Teenintelligensiediens), wat weer op sy beurt die KGB in 1991 vervang het. In 1995 het die FSB ook groter bevoegdhede gekry, wat hom byna net soveel mag gee as wat die destydse KGB gehad het. Sy hoofkwartier is in die Loebjanka op Loebjanka-plein in Moskou, net soos dié van die KGB.
Tussen Julie 1998 en Augustus 1999 was Wladimir Poetin, tot 7 Mei 2008 president van die land, hoof van die FSB. Die hoof sedert 2008 is Aleksandr Bortnikof.
Die FSB oefen steeds ’n betekenisvolle invloed op die vinnig groeiende ekonomie van die Russiese Federasie uit, en ’n groot aantal hoof- uitvoerende beamptes van belangrike Russiese ondernemings is voormalige lede en medewerkers van die FSB.
Die FSB is in verskeie departemente ingedeel, onder meer:
Die FSB is verantwoordelik vir die binnelandse sekuriteit van die Russiese staat, teenspioenasie en die stryd teen georganiseerde misdaad, terrorisme en onwettige dwelmhandel. Teenstanders beweer egter dat dit betrokke is by die onderdrukking van andersdenkendes, dat dit die hele bevolking probeer beheer en belangrike politieke aangeleenthede beïnvloed, nes die KGB in die verlede gedoen het. Om hierdie doelwitte te bereik, gebruik die FSB onder meer massa-monitering, disinformasie, propaganda deur die staatsbeheerde massamedia en die vervolging van politici van die opposisie en ondersoekende joernaliste.[1][2][3][4][5][6][7][8]
Die FSB het die mag om enige huis of besigheid sonder ’n lasbrief binne te gaan as daar genoegsame rede is om te glo "dat ’n misdaad daar gepleeg is of gepleeg word".[9][10]
Menseregte-aktiviste het al beweer dat die FSB nie baie gretig is om sy KGB-mantel af te gooi nie en daar is ook al beweer dat dit sake teen vermeende andersdenkendes gefabriseer het en dreigemente gebruik om agente te werf.
Baie Russiese opposisie-wetgewers en ondersoekende joernaliste het al in sluipmoordaanvalle gesterf terwyl hulle korrupsie en beweerde misdaad deur die FSB en staatsowerhede ondersoek het: Sergei Joesjenkof, Joeri Sjtsjekotsjichin, Galina Starowoitowa, Anna Politkofskaja, Alexander Litvinenko, Paul Klebnikof, Nadezjda Tsjaikowa, Nina Jefimowa en baie ander.[11][12] Die voormalige KGB-offisier Oleg Gordijefski glo dat die moorde op die skrywers Sjtsjekotsjichin ("Slaves of KGB"[13]) en Politkofskaja asook op Litvinenko wys dat die FSB weer betrokke is by politieke sluipmoorde,[14] wat in die verlede uitgevoer is deur die Dertiende Departement (KGB).[15] Net voor sy dood het Litvinenko Wladimir Poetin daarvan beskuldig dat hy persoonlik opdrag gegee het vir die moord op Politkofskaja.[16]
Van 1917 af het die Sowjet- en Russiese geheime agentskappe verskeie name gehad:
Datum | Afrikaanse naam | Russiese naam |
Desember 1917 | Tsjeka, ook bekend as die Wetsjeka, Geheel-Russiese Spesiale Kommissie vir die Bevegting van Teenrewolusie en Sabotasie | ЧК, ВЧК, Всероссийская Чрезвычайная Комиссия по Борьбе с Контрреволюцией и Саботажем (Wserossijskaja Tsjrezwitsjainaja Komissija po Borbe s Kontrrewoljoetsiei i Sabotazjem) |
Februarie 1922 | Ingelyf by die NKWD (Volksadministrasie vir Binnelandse Sake) as GPOe, Politieke Staatsadministrasie | ГПУ, Государственное Политическое Управление (Gosoedarstwennoje Polititsjeskoje Oeprawlenije) |
Julie 1923 | OGPOe, Gesamentlike Politieke Staatsadministrasie | ОГПУ, Объединённое Государственное Политическое Управление при СНК СССР (Obedinnjonnoje Gosoedarstwennoje Oeprawljennije pri SNK SSSR) |
Julie 1934 | Ingelyf by NKWD as GOeGB, Hoofadministrasie vir Staatsveiligheid | ГУГБ, Главное Управление Государственной Безопасности (Glawnoje Oeprawljenije Gosoedarstwennoi Bezopasnosti) |
Februarie 1941 | NKGB, Volksadministrasie vir Staatsveiligheid | НКГБ, Народный Комиссариат Государственной Безопасности (Narodni Komissariat Gosoedarstwennoi Bezopasnosti) |
Julie 1941 | Heringelyf by die NKWD as GOeGB | ГУГБ |
April 1943 | NKGB | НКГБ |
Maart 1946 | MGB, Ministerie van Staatsveiligheid | МГБ, Министерство Государственной Безопасности (Ministerstwo Gosoedarstwennoi Bezopasnosti) |
Maart 1953 | MGB smelt saam met MWD (Departement van Binnelandse Sake) om ’n groter MWD te vorm | МВД, Ministerstwo Внутренних Дел (Ministerstwo Wnoetrennich Del) |
Maart 1954 | KGB, Komitee vir Staatsveiligheid | КГБ, Комитет Государственной Безопасности (Komitet Gosoedarstwennoi Bezopasnosti) |
November 1991 | FSK, Federale Teenintelligensiediens | ФСК, Федеральная Служба Контрразведки (Federalnaja Sloezjba Kontrrazwedki) |
April 1995 | FSB, Federale Veiligheidsdiens | ФСБ, Федеральная Служба Безопасности (Federalnaja Sloezjba Bezopasnosti) |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.