From Wikipedia, the free encyclopedia
Sint Dmitri Iwanowitsj Donskoi (Russies: Дми́трий Донско́й) of Dimitri van die Don (12 Oktober 1350, Moskou - 19 Mei 1389, Moskou), seun van Iwan II Krasni, het van 1359 as grootprins van Moskou regeer en van 1363 as die grootprins van Wladimir tot met sy dood. Hy was die eerste grootprins van Moskou wat die Tartaarse oorheersing openlik uitgedaag het. Sy bynaam Donskoi (van die Donrivier) verwys na sy groot oorwinning teen die Tartare in die Slag van Koelikowo in 1380 wat aan die Don plaasgevind het.[1]
Dmitri Donskoi | |
---|---|
Grootprins van Moskou | |
Periode | 1359-1389 |
Voorganger | Iwan II van Moskou |
Opvolger | Wasili I van Moskou |
Huis | Rjoerik |
Vader | Iwan II van Moskou |
Moeder | Alexandra Ivanovna Velyaminova |
Gebore | 12 Oktober 1350 |
Oorlede | 19 Mei 1389 |
Eggenote | Eudoxia Dmitriyevna |
Dmitri het op negejarige ouderdom grootprins van Moskowië geword. Terwyl hy minderjarig was, het metropolitaan Aleksei van Rusland eintlik aan die hoof van die regering gestaan. In 1360 is die hoogste eer onder Russiese prinse van daardie tyd, dié van grootprins van Wladimir, deur die khan van die Goue Horde aan Dmitri Konstantinowitsj van Nizjni Nowgorod toegeken. In 1363, toe dié prins van die troon gesit is, is Dmitri Iwanowitsj eindelik in Wladimir gekroon. Drie jaar later het hy vrede gemaak met Dmitri Konstantinowitsj en het hy met dié se dogter Ewdoksia getrou.
Die belangrikste gebeurtenis tydens die vroeë bewind van Dmitri was die bou van die eerste klip-Kremlin in Moskou. Dit is in 1367 voltooi. Danksy die nuwe fort het die stad twee aanvalle deur Algirdas van Litaue afgeweer, in 1368 en 1370. In 1375 het Dmitri sy konflik met Twer in sy guns bygelê. Ander prinse van Noord-Rusland het ook sy mag erken en het troepe gestuur om hom te help in sy stryd teen die Horde. Teen die einde van sy bewind het hy Moskowië se grondgebied meer as verdubbel.
Dmitri se bewind was die begin van die einde van die Mongoolse oorheersing van wat nou Rusland is. Die Goue Horde is aansienlik verswak deur interne struwelinge en burgeroorlog. Dmitri het die verswakking van die Mongoolse mag tot sy voordeel gebruik en hulle openlik uitgedaag.
Terwyl hy die khan se vergunning om belasting in die hele Rusland in te samel, behou het, was Dmitri ook beroemd daarvoor dat hy die eerste Russiese militêre oorwinning oor die Mongole behaal het. Mamai, ’n Mongoolse generaal en aanspraakmaker op die troon, wou Dmitri straf omdat hy sy mag probeer vergroot het. In 1378 het Mamai ’n Mongoolse leër gestuur, maar Dmitri se magte het dit verslaan. Twee jaar later het Mamai persoonlik ’n groot mag teen Moskowië gelei. Dmitri het hulle verslaan met die Slag van Koelikowo.
Die verslane Mamai is daarna onttroon deur ’n mededingende Mongoolse generaal, Tochtamisj. Dié het Mongoolse heerskappy weer in groot dele van die huidige Rusland herstel en het Moskowië oorrompel weens Dmitri se weerstand teen Mamai. Dmitri het egter trou aan Tochtamisj en die Goue Horde beloof en is herstel in sy posisie as die hoofbelastinggaarder vir die Mongole en as grootprins van Wladimir. Met sy dood in 1389 was Dmitri die eerste grootprins wat sy titels aan sy seun, Wasili, nagelaat het sonder om eers die khan te raadpleeg.
Hy was getroud met Ewdoksia van Nizjni Nowgorod. Sy was die dogter van Dmitri van Soezdal en Wasilisa van Rostof. Hulle het minstens twaalf kinders gehad.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.