Die avonture van Kuifie
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die avonture van Kuifie (Frans: Les Aventures de Tintin et Milou) is een van die gewildste Europese strokiesverhale van die twintigste eeu, met 'n oplaag van meer as 200 miljoen boeke, wat in sowat sestig tale verskyn het. Die hooffigure van die verhale is die jong verslaggewer Kuifie en sy metgesel, die hond Spokie.
Die eerste verhaal van Kuifie verskyn op 10 Januarie 1929 as 'n bylae van die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle. Hergé skryf en teken in die tydperk tussen 1929 en 1976 23 strokiesverhale (die laaste verhaal bly onvoltooi). Die eerste Afrikaanse uitgawes is in 1974 deur Human & Rousseau in Kaapstad vrygestel.
Die skepper van Kuifie, die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Remi oftewel Hergé (1907–1983), staan bekend as die vader van die moderne strokiesprent en kry erkenning vir sy styl van ligne claire, wat sy strokiesprente van ander werke onderskei, en sy meesterlike vertelkuns. Vir sy latere werke doen hy uitgebreide navorsing om die verhale so outentiek moontlik te maak. Hy hou steeds die maatskaplike ontwikkelinge dop en werk hulle in sy verhale in.
Die avonture van Kuifie dek 'n aantal genres soos fantasie, misdaad, politieke tema's en wetenskapsfiksie, maar staan ook bekend vir hulle humor, gesofistikeerde satiriese inslag en politieke of kulturele aanmerkings. Die Afrikaanse uitgawes wat deur Protea Boekhuis gepubliseer is, is (net soos die Asterix-strokiesprente) vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois wat by die Universiteit Stellenbosch gestudeer en 'n meestersgraad in Frans behaal het. Sy bly tans in Parys.[1]
Kuifie is 'n jong Belgiese verslaggewer (en ook 'n vername vegvlieënier). Hy raak gereeld betrokke in gevaarlike ondersoeke en moet dan heldhaftig inspring om sake te beredder. Hy word meestal geskets as hard aan die werk in sy veld as joernalis. Sy lewenswaardes is neutraal, en hy is 'n minder kleurvolle karakter as die res van sy ondersteunende byspelers.
Kaptein Sardyn is Kuifie se beste vriend. Hy is 'n skeepskaptein en die leser ontmoet hom die eerste keer in die Die krap met die goue knypers. Oorspronklik is Sardyn uitgebeeld as 'n alkoholis met 'n swak karakter, maar in latere werke word hy meer eerbiedwaardig en 'n ware held. Sy growwe natuur en sarkasme is 'n goeie teenvoeter vir die soms onwaarskynlike geesdriftigheid van Kuifie; hy reageer dikwels blitsvinnig en droogweg wanneer die jong mannetjie te optimisties raak.
Professor Fosfatus is 'n verstrooide, hardhorende professor. Talle voorwerpe wat in die Kuifie-reeks gebruik word, soos 'n eenmanduikboot, die vuurpyl na die Maan en 'n sonarwapen, is deur hom ontwerp. Fosfatus hoop altyd om die mensdom te bevoordeel met behulp van sy uitvindings.
Sy doofheid is 'n gereelde bron van humor, siende dat hy weier om te erken dat hy doof is -- anders as halfdoof in die een oor -- en dan frases herhaal, maar soos wat hy dink hy gehoor het. In die "Maan"-boeke kry hy 'n gehoorapparaat, en het dwarsdeur die storie feitlik perfekte gehoor, solank die woord "bok" nie in sy geselskap gebesig word nie. Deur die verloop van latere avonture verloor hy sy gehoorapparaat, en word weer sy dowe self.
Fosfatus glo vas aan waterwiggelary en dra daarom altyd 'n pendule.
Spokie, 'n besonderse wit foksterriër, is Kuifie se konstante vierpotige metgesel. Hulle is onlosmaaklik van mekaar, en het die een die ander talle kere van riskante situasies gered. Hy geniet dit, nes Kaptein Sardyn, om whiskey te drink, en sy oormatige gedrinkery en geweldige arachnofobie laat hom soms in die pekel beland.
Uys en Buys is twee onbeholpe speurders. Alhoewel hulle nie familie van mekaar is nie, lyk hulle soos 'n identiese tweeling, met die vorm van hulle snorre as die enigste sigbare verskil. Hulle is die bron van die meeste van die komiese verligting van die reeks. Hulle is geheel en al onbekwaam, kry dit altyd reg om die verkeerde persoon te arresteer, maar ten spyte daarvan kry hulle dit altyd reg om aan sensitiewe projekte toegewys te word. As hulle oorsee is, dring hulle daarop aan om anders as hulle gewone hoedjies, wandelstawwe en besigheidspakke, die nasionale volksdrag te dra, sodat hulle met die bevolking kan saamsmelt. Al wat hulle gewoonlik daarmee regkry, is om in die proses soos seer vingers uit te steek.
Die speurders is deels gebaseer op Hergé se vader en oom. Hulle was 'n identiese tweeling.
In 2006 is Kuifie en Spokie saam met die Suid-Afrikaanse aartsbiskop Desmond Tutu deur die Tibetaanse Dalai Lama vereer. Volgens Sy Heiligheid het die strokiesprent Kuifie in Tibet 'n belangrike bydrae gelewer om Tibet, wat in 1949 deur die Volksrepubliek China beset is, aan 'n nuwe leserspubliek bekend te stel.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Die avonture van Kuifie. |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.