Belgravia, Johannesburg
From Wikipedia, the free encyclopedia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.
Belgravia is ’n eens spogbuurt in die ooste van Johannesburg, wat ’n onderafdeling vorm van die voorstad Jeppestown. Dit kan beskou word as Suid-Afrika se eerste beveiligde woonbuurt omdat toegang tot 1903 deur hekke, wat snags gesluit is, beperk is.
Belgravia | |
---|---|
Die destydse NG kerk Belgravia in Blorestraat. Nadat die gemeente in 1980 by die NG gemeente Malvern ingelyf is, het dit 'n tyd lank die Engelstalige NG gemeente Andrew Murray gehuisves. | |
Koördinate: 26°12′16″S 28°04′32″O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Munisipaliteit | Stad Johannesburg |
Hoofplek | Johannesburg |
Poskode (strate) | 2094 |
Poskode (posbusse) | 2043 |
Belgravia is in 1894 deur die eiendomsmaatskappy Jeppe & Ford (volgens ’n ander bron deur die Jeppe-Abe Bailey-myngroep) aangelê as Johannesburg se tweede gegoede woongebied. Geen winkels of handelsake is toegelaat nie, elke huis mag slegs deur een gesin bewoon word en daar was hekke (wat in 1903 verwyder is) by die ingang na die buurt wat snags gesluit is om ongewenste elemente uit te hou en waar tolgeld gehef is om die buurt se strate in stand te hou.
In Belgravia het sir J.B. Robinson en sir Abe Bailey luukse herehuise bewoon (sir Julius Jeppe het sy herehuis Friedenheim aan hom verkoop). In 1901 het lord Kitchener Jeppe se woning as sy hoofkwartier tydens die Tweede Vryheidsoorlog beset. Dié huis het van 1916 af as ’n koshuis van die Hoër Seunskool Jeppe gedien, maar het mettertyd verval tot dit in die 1960’s onveilig verklaar en gesloop is.
Toe Parktown aangelê word volgens moderne stadsbeplanningsbeginsels met kontoerpaaie, het talle gesinne uit Belgravia en Doornfontein daarheen verhuis sodat Belgravia sy eertydse glorie verloor en nooit herwin het nie.
Belgravia is omstreeks die middel van die 20ste eeu reeds as afsonderlike voorstad uitgefaseer. In 1934 het die stadsraad nog sy munisipale kiesers afsonderlik aangedui toe 679 Afrikaans- en 2 225 Engelssprekend was. In 1949 het albei getalle min of meer halveer tot 341 en 1 115, maar dit word in die bron tussen hakies aangedui. In 1961 het net twee en vyf oorgebly.[1]