Zürich
hoofstad of Kanton Zürich, Switserland / From Wikipedia, the free encyclopedia
Zürich (Züridüütsch/Zürich-Duits: Züri, [ˈt͡sʏrɪ]; Frans: Zurich, [zyʁik]; Italiaans: Zurigo, [tsuˈriːɡo, dzu-]; Romansch: Turitg, luister (hulp·inligting)) is die grootste stad en ekonomiese sentrum van Switserland met 'n bevolking van 421 878 (soos in 2020) binne die stadsgrense. Sowat 1,9 miljoen of byna 'n kwart van die totale Switserse bevolking is in die groter metropolitaanse gebied van Zürich (Metropolraum Zürich) saamgetrek.[2]
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Switserland |
Kanton | Zürich |
Koördinate | 47°22′N 08°32′O |
Stigting | 1ste eeu v.C. |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 87,93 vk km |
Hoogte bo seevlak | 408 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2020) | 421 878 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 798/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat[1] | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 7,8 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | -1,2 / 16,9 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 1 020 mm |
Stadspresident | Corine Mauch (SP) |
Internasionale lughawe | Zürich Lughawe |
Amptelike webwerf | Stadt Zürich |
Zürich is die ekonomiese, wetenskaplike en maatskaplike spilpunt van Switserland. Die stad is in die oostelike Switserse Middelland-streek geleë en fungeer as die hoofstad van die gelyknamige kanton. Die belangrikste internasionale lughawe van Switserland, Zürich-Kloten, is naby die stad geleë en maak van die stad, net soos sy hoofstasie, 'n internasionale vervoerspilpunt. Danksy sy ligging aan die Zürichmeer, sy goed bewaarde historiese stadskern, sy ryk kultuurlewe en sy polsende naglewe is Zürich ook 'n eersterangse toeristetrekpleister in Switserland.
In die Romeinse tydperk het die stad onder sy Latynse naam Turicum bekend gestaan, terwyl dit in die plaaslike Duits-Alemanniese dialek Züri genoem word. Zürich het van 'n Romeinse militêre basis tot 'n belangrike nedersetting gegroei wat in 1262 die status van "Vrye Ryksstad" verwerf het en in 1351 by die Switserse Konfederasie aangesluit het. In die tydperk van die Protestantse Hervorming het die kerkhervormer Ulrich Zwingli sy invloed op die godsdienstige lewe laat geld. So het die Reformasie in Switserland sy aanvang in 1523 in Zürich geneem.
In die 19de eeu het die nywerheidsomwenteling van Zürich die ekonomiese metropool van Switserland gemaak. Die eerste Switserse spoorlyn, wat die stad met Baden verbind het, is hier in 1847 ingewy. Dertig jaar later het Zürich se effektebeurs, tans een van die vernaamstes ter wêreld, sy deure geopen. Danksy talle groot banke (waaronder UBS en Credit Suisse) en versekerings (Zürich Insurance Group en Swiss Re) wat hier hulle hoofkwartiere het, het Zürich tot een van die wêreld se voorste finansiële sentrums ontwikkel.
Zürich is daarnaas die tweede belangrikste sentrum van die internasionale goudhandel. 'n Groot getal media-ondernemings, waaronder Switserland se uitsaaikorporasie, het hul hoofkwartiere in Zürich. Ondanks sy relatief klein bevolking word Zürich derhalwe as een van die wêreldstede beskou en al jare lank as een van die stede met die hoogste lewensgehalte gelys, maar sedert 2012 ook as die duurste, nog voor Tokio en Genève.
Die kulturele lewe het sy hoogtepunt tydens die Eerste Wêreldoorlog bereik. Politieke vlugtelinge en kunstenaars van dwarsoor Europa het na die Switserse metropool gestroom, waaronder die Ierse skrywer James Joyce. Joyce het in 1915 vanuit Triest na Zürich verhuis en hier vier jaar lank gebly om die grootste deel van sy roman Ulysses te skryf. In 1940 het hy na Zürich teruggekeer. Hy is in die volgende jaar oorlede en op die plaaslike Fluntern-begraafplaas ter ruste gelê.
Zürich het in die oorlogsjare ook die bakermat van dadaïsme geword – 'n kunsstroming wat in die Cabaret Voltaire in Spiegelgasse ontstaan het.[3]