Industriële Revolusie
Omstreeks 1750 begin toe goedere minder met die hand gemaak is, maar eerder met masjiene / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Industriële Revolusie (ook bekend as die Nywerheidsrevolusie of Nywerheidsomwenteling) het omstreeks 1750 begin in Engeland, toe nog die magtigste ryk op aarde. Dit het behels dat goedere al hoe minder met die hand gemaak is, maar eerder met masjiene in groot fabrieke. Die Industriële Revolusie het later ook na baie ander lande versprei en kan uiteindelik ’n "revolusie" (enorme omwenteling) genoem word omdat dit die hele wêreld en die doen en late van alle mense vir altyd verander het.
Die Industriële Revolusie het Engeland so magtig gemaak dat dit ekonomies, en soms ook militêr, ’n stewige greep op Europa gekry het. Engeland se militêre mag was gegrond op ’n ontploffende ekonomie en het onder meer daartoe gelei dat die land ’n reusevoorloper in die wedloop om kolonies was. Die Industriële Revolusie het Engeland ook gehelp om Frankryk onder die bewind van Napoleon Bonaparte militêr teen te staan.
'n Geïndustrialiseerde gemeenskap is deur die revolusie geskep – ’n gemeenskap waarin ’n gemeganiseerde vervaardigingsbedryf die landbou vervang het as die belangrikste verskaffer van werkgeleenthede. Talle mense het na geïndustrialiseerde gemeenskappe verhuis in die soeke na ’n werk met ’n bevredigende loon wat hulle in staat sou stel om kos en ander noodsaaklikhede te koop. Hierdie migrasieverskynsel het gelei tot enorme stedelike ontwikkelings en die wegkwyning van plattelandse gemeenskappe.
Sedert die Industriële Revolusie die wêreld begin verander het, het tegnologiese ontwikkelings en nywerheidsgroei feitlik nooit stoom verloor nie. Trouens, sedert 1900, en veral sedert die Tweede Wêreldoorlog, het dit in ’n enorme mate toegeneem. In ’n sekere sin het die revolusie wat teen nagenoeg 1750 begin het, nooit geëindig nie.