Dadaïsme
From Wikipedia, the free encyclopedia
Dadaïsme (of kortweg dada) was ’n Europese kuns- en literatuurbeweging in die vroeë 20ste eeu waardeur kunstenaars en skrywers mense probeer skok het deur doelbewus aanvaarde idees te verwerp en met vreemde, onverwagse beelde vorendag te kom. Dié kulturele beweging het tydens die Eerste Wêreldoorlog in Zürich in die neutrale Switserland begin. Dadaïsme was die vernaamste invloed op Surrealisme, wat in die 1920’s daaruit ontwikkel het.[1] Die naam is van die Franse woord dada afgelei, wat speelgoedperd beteken.
Die beweging het min of meer tussen 1916 en 1920 sy hoogtepunt bereik. Die dada-kunstenaars het mengvorme van beeldende kuns, poësie, teater en grafiese ontwerp gebruik. Die beweging toon 'n geestelike verwantskap met nihilisme, deur die opsetlike irrasionele en ondergrawing van algemeen aanvaarde standaarde.