![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/3/3b/What_is_to_be_Done.jpg/640px-What_is_to_be_Done.jpg&w=640&q=50)
Wat moet gedoen word?
From Wikipedia, the free encyclopedia
Wat moet gedoen word? (Russies: Что делать?, Sjto djélat?) is 'n roman van 1863 wat geskryf is deur die Russiese filosoof, skrywer en letterkundige kritikus Nikolai Tsjernisjefski. Dit is geskryf na aanleiding van Vaders en Seuns (1862) deur Iwan Toergenef. Die hoofkarakter is 'n vrou, Wera Pawlowna, wat beheer oor haar deur haar familie asook haar huwelik ontvlug, ten einde geldelik onafhanklik te wees. Die roman bepleit die skepping van klein sosialistiese koöperasies wat gebaseer is op die Russiese plattelandse kommunes, maar gerig is op industriële produksie. Die skrywer het die idee bevorder dat dit die intellektuele se plig was om die werkende massas in Rusland op te voed en op die baan na sosialisme te plaas, wat kapitalisme sou omseil. Een van die karakters in die roman genaamd Rachmetof het, ondanks sy geringe rol, 'n rolmodel geword van die filosofiese materialisme en Russiese radikalisme. Die roman gee ook tydens 'n droom van een karakter gestalte aan 'n samelewing wat 'n "ewige vreugde" van die aardse tipe verkry. Die roman is al "die handboek van radikalisme" genoem [1] en het gelei tot die stigting van die Land- en vryheid genootskap in Rusland. [2] Wat moet gedoen word? het verskeie generasies van rewolusionêre in Rusland geïnspireer, waaronder populiste, nihiliste en marxiste.
Wat moet gedoen word? | |
---|---|
![]() | |
Skrywer | Nikolai Tsjernisjefski |
Land | Russiese Ryk |
Taal | Russies |
Genre | Roman |
Uitgewer | |
Uitgegee | 1863 |
Toe hy die roman geskryf het is die skrywer self in die Fort van Petrus en Paulus in Sint Petersburg gevange geneem, en sou hy jare in Siberië deurbring. Tsjernisjefski het toestemming ontvang om die roman in die gevangenis te skryf, en die owerhede het die manuskrip deurgegee aan die koerant Sowremennik, sy voormalige werkgewer. Wladimir Lenin, Georgi Plechanof, Pjotr Kropotkin, Alexandra Kollontai, Rosa Luxemburg en ook die Sweedse skrywer August Strindberg [3] was almal baie beïndruk met die boek, en dit is amptelik beskou as 'n Russiese klassieke werk in die Sowjet-tydperk. [4] [5]