Wêreldgeskiedenis
opgetekende geskiedenis van die mensdom / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die wêreldgeskiedenis, ook bekend as die menslike geskiedenis, is die beskrywing van die wêreld en die mens se verlede. Kennis word ingewin deur middel van argeologie, antropologie, genetika, linguistiek en ander dissiplines; en vir die tydperke sedert die uitvinding van skryf uit aangetekende bronne en deur sekondêre bronne en studies.
- Hierdie artikel handel oor die algemene geskiedenis van die wêreld en die mensdom. Vir ’n artikel oor die vakgebied, sien Geskiedenis (vakgebied). Vir die volledige geskiedenis van die aarde, sien Geskiedenis van die Aarde. Vir die mens se evolusionêre geskiedenis, sien Menslike evolusie.
Die mens se geskrewe geskiedenis is voorafgegaan deur die voorgeskiedenis, wat begin het met die Palaeolitiese Era (Ou Steentydperk), gevolg deur die Neolitiese Era (Nuwe Steentydperk). Tydens die Neolitikum het die Landbouomwenteling begin, tussen 10000 v.C. en 5000 v.C. in die Nabye Ooste se Vrugbare Halfmaan. In dié tyd het die mens begin met die stelselmatige domestikering van plante en diere.[1] Namate landbou meer gevorderd geraak het, het die mens verander van nomades in boere met ’n gevestigde leefwyse in permanente nedersettings. Die relatiewe sekuriteit en groter produktiwiteit wat landbou teweeggebring het, het gemeenskappe toegelaat om in al hoe groter eenhede te ontwikkel, aangehelp deur die uitvinding van vervoer.
In prehistoriese sowel as historiese tye moes die mens altyd naby betroubare bronne van drinkwater wees. Nedersettings het so vroeg as 4000 v.C. in Iran ontstaan,[2][3][4] die Indusriviervallei,[5] aan die oewers van Egipte se Nylrivier[6][7] en aan die riviere van China.[8][9] Namate landbou ontwikkel het, het graanverbouing moderner geraak en werkers genoodsaak wat voedsel tussen groeiseisoene kon berg. Arbeidsposte het gelei tot die ontwikkeling van ’n hoër stand en stede, wat die fondament vir die beskawing verskaf het. Die groter kompleksiteit van menslike gemeenskappe het eindelik boekhou- en skryfstelsels nodig gemaak.
Met die beskawing wat vooruitgegaan het, het ryke gekom en gegaan tydens die antieke geskiedenis ("laat oudheid", insluitende die klassieke oudheid, [10] tot omstreeks 500 n.C.)[11] In die postklassieke tydperk (Middeleeue, omstreeks 500-1500 n.C.)[12] het die opkoms van die Christendom, die goue era van die Islam (omstreeks 750-1258 n.C.) en die Timoeridiese en die Italiaanse Renaissance (van omstreeks 1300 n.C. af) plaasgevind. Die bekendstelling van drukwerk in Europa[13] het gelei tot ’n omwenteling in kommunikasie en die beskikbaarheid van inligting. Dit het die einde van die Middeleeue en die begin van die Wetenskapomwenteling bespoedig.[14] Die vroeë moderne tydperk, van omstreeks 1500 tot 1800,[15] het die tydperke van die Verligting en van ontdekking ingesluit. Teen die 18de eeu het die versameling van kennis en tegnologie ’n stadium bereik dat dit gelei het tot die Nywerheidsomwenteling[16] en die begin van die laat moderne tydperk, wat omstreeks 1800 begin het en tans voortduur.[12]
Die stelsel van historiese tydperke (wat die geskiedenis indeel in die oudheid, postklassieke, vroeë moderne en laat moderne tydperke) is ontwikkel vir en is van toepassing op die geskiedenis van die Ou Wêreld, veral Europa en die Mediterreense streek. Buite dié gebied, insluitende antieke China en Indië, lyk die historiese tydlyn anders. Teen die 18de eeu het die geskiedenisse van die meeste beskawings danksy uitgebreide wêreldhandel en kolonisasie aansienlik vervleg geraak, ’n proses wat bekend is as globalisering. In die laaste kwartmillennium het die tempo van bevolkingsgroei, kennis, tegnologie, kommunikasie, handel, verwoesting deur wapens en omgewingsagteruitgang grootliks versnel en geleenthede en gevare sonder presedent geskep wat die wêreld se gemeenskappe nou in die gesig staar.[17]