Vrouesendingbond
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Vrouesendingbond was 'n Afrikaanse vrouevereniging wat amptelik van 21 Maart 1890[1] af in Kaapland, mettertyd in al vier die destydse provinsies van Suid-Afrika asook uiteindelik in Suidwes-Afrika (1970) en Rhodesië (1957, as die Midde-Afrikaanse Sendingvereniging) takke gestig het wat vrouelidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk die geleentheid gebied het om by die sending betrokke te raak, nie alleen op die Afrika-vasteland nie, maar ook wêreldwyd. Ná byna 'n eeu van prysenswaardige diens is die vereniging in 1983 ontbind en het lede deel geword van die NG Kerk se Vroueaksie, later genoem Vrouediens. 'n Mannesendingbond is in 1908 gestig, terwyl daar uit die Vrouesendingbond 'n Medesendingarbeidsters vir jonger vroue ontstaan het en 'n Kinderkrans vir die jeug.