Voël
From Wikipedia, the free encyclopedia
Voëls (klas Aves) is tweevoetige, warmbloedige, eierlêende, gewerwelde (Latyn: Vertebrata) diere, wat hoofsaaklik gekenmerk word deur vere en voorste ledemate wat vlerke genoem word, asook bene wat hol van binne is. Voëls het geëvolueer van theropoda-dinosourusse tydens die Juratydperk en die eerste bekende voël is die Laat-Jurassiese Archaeopteryx. Voëls wissel in grootte van klein swaeltjies tot groot loopvoëls soos volstruise en emoes. Daar is tussen 9 000 en 10 000 bekende voëlspesies in die wêreld en die klas Aves is dus die mees diverse klas van gewerwelde landbewoners.
Voëls | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klade: | Sauropsida |
Klade: | Avemetatarsalia |
Klade: | Ornithurae |
Klas: | Aves Linnaeus, 1758[5] |
Bestaande klades | |
| |
Sinonieme | |
|
Moderne voëls word gekarakteriseer deur vere, 'n bek of snawel sonder tande, die lê van eiers met harde doppe, 'n vinnige metabolisme, 'n hart met vier kamers en 'n ligte dog sterk skelet. Die meeste voëls het voorste ledemate wat as vlerke aangepas is en kan dus vlieg, alhoewel loopvoëls en verskeie ander, veral endemiese eilandspesies, nie daartoe in staat is nie.
Baie voëlspesies onderneem jaarlikse langafstand-migrasies en baie meer nog voer korter, meer onreëlmatige swerfbewegings uit. Voëls is sosiale diere en kommunikeer deur visuele seine en deur aanwending van roepe en sang. Ander sosiale gedrag sluit ondermeer gemeenskaplike jag, broei en vlug in. Voëls is hoofsaaklik sosiaal monogaam, maar dit is by sommige spesies die geval dat hulle met ander individue as hul maats sal paar; in ander spesies weer is totale poliandrie of poligamie aan die orde van die dag. Eiers word gewoonlik in 'n nes gelê en een of albei die volwasse voëls broei daarop. Sommige voëls (bv. koekoeke) is broeiparasiete wat hulle eiers in die neste van ander voëls lê en hierdie gasheervoëls broei die kuikens uit en maak hulle groot. Die meeste voëls spandeer 'n korter of langer periode aan ouersorg nadat die kuikens uitgebroei het.
Voëls is op verskillende wyses van nut vir die mens: die meeste is belangrike bronne van voedsel en word gewoonlik gejag of geteel en dan kommersieel beskikbaar gestel. Sommige spesies, veral sangvoëls en papegaaie, is gewild as troeteldiere. Ghwano (voëlmis) word van eilande versamel om as misstof vir landboudoeleindes te gebruik. Voëls figureer in bykans alle aspekte van menslike kultuur, hetsy geloof, die digkuns, mode of musiek. Ongeveer 120-130 voëlspesies het sedert 1600 uitgesterf as gevolg van menslike aktiwiteite en honderde meer vóór dié tyd. Daar is tans talle voëlspesies wat bedreig word deur uitsterwing as gevolg van menslike aktiwiteite en pogings word aangewend om hulle te beskerm.