Venesië
hoofstad van die administratiewe gewes van Veneto in Italië / From Wikipedia, the free encyclopedia
Venesië (Italiaans: Venezia, [veˈnɛttsja], luister (hulp·inligting); Venesiaans: Venexia, Venèsia of Venezsia,[3] [veˈnessi̯a]) is die hoofstad van die administratiewe gewes van Veneto in Italië, vorm saam met die stad van Padua die Metropolitaanse gebied van Padua en Venesië, en dra die bynaam La Serenissima (Die Deurlugtigste).[4] Die ou stad (Centro Storico) is op 'n paar groot eilande in die halfmaanvormige strandmeer van Venesië geleë. Op die vasteland het die uitgestrekte residensiële en nywerheidsbuurte van Mestre ontstaan wat tans die oorgrote meerderheid Venesiane huisves.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Italië |
Gewes | Veneto |
Provinsie | Venesië (VE) |
Koördinate | 45°26′N 12°20′O |
Stigting | Antieke oudheid |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 414,57 vk km[1] |
Hoogte bo seevlak | 1 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2018) | 260 520[2] |
- Bevolkingsdigtheid | 628,4/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde seeklimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 13,5 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 3,0 / 23,1 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 770 mm |
Burgemeester | Luigi Brugnaro (CI) |
Amptelike webwerf | comune.venezia.it |
Oor die eeue heen het Venesiane hier 'n unieke wêreld van hul eie geskep wat in baie opsigte – leefstyl, taal, argitektuur, kookkuns, modes en volkskarakter – merkbaar van ander Italiaanse stede en streke verskil. Hul leefwêreld bestaan uit 'n labirint van klein en groot kanale, met 118 bewoonde en onbewoonde eilande wat oor die loop van tyd 'n verskeidenheid funksies vervul het – as skuilplekke, vestings, kloosters, lasarette, kampe vir melaatses, kwarantyn-stasies vir slagoffers van die pes, groentetuine of werkswinkels vir tradisionele ambagte soos glasvervaardiging. Die eerste vaste verbinding per spoor met die vasteland het eers in 1846 ontstaan, maar bote bly steeds die belangrikste vervoermiddel. Motors is uit die historiese kernstad verban.
Die historiese beginpunt van die Venesiaanse wêreld val saam met die ineenstorting en ondergang van 'n ander. In die 5de eeu n.C. het die Romeinse paaie, wat die welvarende gebiede van Noord-Italië met ander dele van die Romeinse Ryk verbind het, maklike toegangsroetes geword vir barbaarse veroweraars wat verwoesting gesaai het – Vandale en Oos-Gote op hul pad na Rome, Hunne onder Attila (vanaf 452) en Germaanse Langobarde (vanaf 568). Toe die Romeinse administratiewe en militêre strukture in 'n stormloop van invallers verbrokkel het, het die Venesiaanse strandmeer 'n skuilplek geword vir agtereenvolgende golwe van vlugtelinge wat hier 'n eenvoudige bestaan gevoer het as vissers, soutmakers, groenteboere en skeepvaarders.
Vanaf die legendariese stadstigting in 421, en met die Bisantynse Ryk as vroeë beskermheer, het Venesië deur die eeue algaande gegroei tot een van vier stadstate in Italië (naas Genua, Pisa en Amalfi) wat as Repubbliche Marinare of historiese Seerepublieke mekaar die heerskappy ter see en die daarmee gepaard gaande handel en politieke invloed in die Middellandse Seegebied betwis het. Die Seerepublieke het hul bloeitydperk gedurende die Middeleeue beleef.
Venesië was tot 1797 die hoofstad van die Republiek Venesië, een van die belangrikste politieke en ekonomiese rolspelers in die destydse Europa, en was ook met sy meer as 180 000 inwoners een van die grootste Europese stede. Tot en met die 16de eeu was dit een van die grootste handelspilpunte vir die hele vasteland; met sterk handelsbetrekkinge tussen Wes-Europa en die oostelike Middellandse See. Venesië het ook oor die meeste handel- en oorlogskepe beskik. Die adelklas het munt geslaan uit die handeldryf met weeldegoedere, kruie en speserye, sout en koring.
Venesië het ontpop tot die grootste geldmagsentrum en (saam met Florence) die bakermat van moderne kapitalisme wat met sy nuutontwikkelde bankstelsel ekonomiese aktiwiteite deur lenings gestimuleer het. Venesië was heerser oor 'n koloniale ryk langs sy handelsroetes, die Stato da Màr, wat tot by Kreta gestrek het en vir 'n tydjie lank ook Siprus,[6] en uitgestrekte besittings op die Italiaanse vasteland, die Terraferma, met 'n bevolking wat in taal, kultuur en geloof nou verwant was aan die Venesiane.
Na afloop van die Franse en Oostenrykse oorheersing tussen 1798 en 1866 word die stad deel van Italië. In 1929 word die nywerheidskompleks Mestre-Marghera by die Comune di Venezia ingelyf. Tydens die Tweede Wêreldoorlog word die Jode vervolg en verdelg. In die jare 1965 tot 1970 sit die stad met byna 370 000 stadsinwoners, die hoogste in die geskiedenis. Sedertdien het hierdie getal met meer as 100 000 siele verminder. Venesië en sy strandmeer is in 1987 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.[7]
Al is Venesië se historiese sentrum ’n eersterangse toeristebestemming, trek veral groot internasionale en Italiaanse ondernemings uit die toerismesektor, wat nie hul setel in die stad het nie en min bydra tot sy belastinginkomste, die grootste voordeel uit die besoekerstroom wat in 2018 tot 33 miljoen gegroei het. Terwyl Venesië die benodigde infrastruktuur vir massatoerisme moet verskaf (soos vullisverwydering), het dit 'n negatiewe uitwerking op Venesiane se daaglikse lewe. So word talle woonstelle op onwettige wyse as toeristeverblyf verhuur, terwyl daar intussen 'n gebrek aan nodige infrastruktuurgeriewe vir die krimpende permanente bevolking soos winkels, skole en mediese sorg is.
Vanaf Mei 2019 sal toeriste, wat met openbare vervoermiddels in Venesië aankom, €3 ekstra saam met hul kaartjie betaal. Hierdie belasting sal stapsgewys verhoog word tot tussen €5 en €10, afhangende van die kategorie waarin ’n toeris geplaas word. Gaste met hotelverblyf sal minder belasting hoef te betaal as dagbesoekers.[8] Die provinsiale Lega Nord-regering is gekant teen hierdie belasting en pleit vir 'n beperking van die besoekerstroom.
Die nywerheidsentrum is meer op die vasteland in die weste gekonsentreerd, veral rondom Mestre en Marghera. Hier het petrochemiese aanlegte ontstaan wat 'n konstante bedreiging vir die strandmeer se gevoelige ekostelsel inhou.
In die Centro storico het die grootskaalse privatiseringsbeleid, waarin 'n groep bou-ondernemings (waaronder maatskappye waarin die invloedryke Benetton-familie belange het) 'n sentrale rol speel, aan Venesië onder die vorige stadsregering die bynaam Benettown besorg.