Perm-Trias-uitwissing
die grootste uitwissingsvoorval in die Aarde se geskiedenis / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Perm-Trias-uitwissing (P-Tr) het sowat 252 miljoen jaar gelede plaasgevind[1] en vorm die grens tussen die geologiese periodes Perm en Trias, sowel as tussen die geologiese eras Paleosoïkum en Mesosoïkum. Dit was die grootste uitwissingsgebeurtenis in die Aarde se geskiedenis, met tot 96% van alle seespesies[2] en 70% van gewerweldes op land wat uitgesterf het.[3] Dit is die enigste bekende massauitwissing van insekte.[4][5]
Sowat 57% van alle biologiese families en 83% van alle genera is uitgewis. Omdat so ’n groot deel van die biodiversiteit verlore gegaan het, het dit langer geduur om te herstel as ná enige ander uitwissing,[2] moontlik tot 10 miljoen jaar.[6]
Navorsers meen daar was tussen een en drie uitwissingsfases.[3][7][8][9] Daar is verskeie teorieë oor die rede vir die uitwissing; die eerste fase was waarskynlik weens geleidelike omgewingsveranderings, terwyl die laaste fase veroorsaak kon gewees het deur ’n katastrofiese gebeurtenis. Voorgestelde redes vir laasgenoemde sluit in ’n groot of verskeie meteoorbotsings, verhoogde vulkaanaktiwiteit, groot vure en ontploffings op die Siberiese Trappe,[10] en die skielike vrystelling van hidrometaan uit die seebodem.