NG gemeente Britstown
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Britstown is 'n meer as 130 jaar oue gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Noord-Kaapse dorp Britstown in die hart van die Karoo. Die dorp is geleë aan die N12, halfpad tussen Beaufort-Wes en Kimberley. Dit was vroeër jare die middelpunt van 'n groot en vooruitstrewende boerderygemeenskap, maar ontvolking van die platteland het ook hier sy tol geëis. Teen 2013 was dit ’n klein gemeente met nagenoeg 200 belydende lidmate wat in vier dorps- en vier plaaswyke ingedeel is. Die plaaslike ouetehuis is as ’n aparte wyk bedien.[2] In die Jaarboek van die NG Kerke 2016 word die getal dooplidmate aangegee as 19 en die belydende lidmate as 127. In 1985 was dit onderskeidelik 497 en 217; dus 'n afname van amper 80 persent in die sieletal in net meer as 30 jaar.