Kroasië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Kroasië (Hrvatska [xř̩ʋaːtskaː]), amptelik die Republiek Kroasië (Kroaties: Republika Hrvatska luister (hulp·inligting)), is ’n klein land tussen die Middellandse See en Sentraal-Europa. Sy staatsgebied strek van die voetheuwels van die Juliaanse Alpe in die noordweste tot die Pannoniese Vlakte in die ooste, oor die Dinariese Alpe in sy sentrale gedeelte tot die kusgebied van die Adriatiese See in die suide.
| |||||
Volkslied: Lijepa naša domovino (Kroaties vir: "Ons mooi vaderland") | |||||
Hoofstad | Zagreb | ||||
Grootste stad | Zagreb | ||||
Amptelike tale | Kroaties | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike republiek Zoran Milanović Andrej Plenković | ||||
Onafhanklikheid • Hertogdom • Koninkryk • Persoonlike unie met Hongarye • Aansluiting by die Habsburgse Ryk • SHS-sesessie van Oostenryk-Hongarye • Stigting van die Koninkryk van die Serwiërs, Kroate en Slowene (Joego-Slawië) • Joego-Slawië word republiek • Huidige grondwet • Onafhanklikheid besluit • Onafhanklikheid verklaar |
7de eeu 925 1102 1 Januarie 1527 29 Oktober 1918 4 Desember 1918 29 November 1943 22 Desember 1990 25 Junie 1991 8 Oktober 1991 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
56 594 km2 (124ste) 21 851 myl2 1,09 | ||||
Bevolking - 2019-skatting - 2021-sensus - Digtheid |
4 076 246[1] (128ste) 3 871 833[2] 68,4 / km2 (152ste) 177,2 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,858[4] (40ste) – baie hoog | ||||
Gini (2021) | 29,2[5](17de) – hoog | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
MET (UTC+1) MEST (UTC+2) | ||||
Internet-TLD | .hr | ||||
Skakelkode | +385 |
Vanaf die einde van die Eerste Wêreldoorlog was Kroasië een van die republieke van die Sosialistiese Federale Republiek Joego-Slawië, maar het sy onafhanklikheid ná die ontbinding van die SFR Joego-Slawië in 'n bloedige oorlog herwin. Kroasië se hoofstad en grootste stad is Zagreb. Ander stede sluit in: Dubrovnik, Rijeka, Split, Pula, Osijek en Vukovar.
Kroasië beslaan sowat 56 594 km² en het ’n uiteenlopende, hoofsaaklik kontinentale en Mediterreense klimaat. Dit het meer as duisend eilande aan die Adriatiese kus. Die meeste van Kroasië se 4,08 miljoen inwoners is etniese Kroate, met klein minderhede Serwiërs. Die hoofgodsdiens is Katolisisme.
Die Kroate het in die vroeë 7de eeu in die hedendaagse Kroasië aangeland. Hulle het die gebied teen die 9de eeu in twee hertogdomme verdeel. Tomislav het teen 925 n.C. die eerste koning geword en Kroasië se status is so tot dié van ’n koninkryk verhoog. Die Koninkryk Kroasië het sy onafhanklikheid byna twee eeue lank behou en sy hoogtepunt bereik tydens die bewind van koning Peter Krešimir IV en Dmitar Zvonimir. Die land het in 1102 ’n persoonlike unie met Hongarye gesluit. In 1527, toe die land bedreig is deur Ottomaanse besetting, het die Kroatiese parlement Ferdinand I van die Huis van Habsburg tot die troon verkies. In 1918, ná die Eerste Wêreldoorlog, is Kroasië ingesluit in die nieerkende Koninkryk die Slowene, Kroate en Serwiërs, wat van Oostenryk-Hongarye afgestig en verenig het om die Koninkryk Joego-Slawië te vorm. ’n Onafhanklike fascistiese marionettestaat het tydens die Tweede Wêreldoorlog bestaan. Ná die oorlog het Kroasië ’n stigterslid en federale deelstaat geword van Joego-Slawië, ’n sosialistiese republiek. In Junie 1991 het Kroasië hom onafhanklik verklaar. Dit het op Oktober van dié jaar in werking getree. Die Kroatiese Onafhanklikheidsoorlog het in die vier jaar daarna geheers.
Vandag word Kroasië deur die Internasionale Monetêre Fonds geklassifiseer as ’n opkomende en ontwikkelende ekonomie, terwyl die Wêreldbank dit as ’n hoë-inkomste-ekonomie geïdentifiseer het. Kroasië het op 1 Julie 2013 die 28ste lidland van die Europese Unie (EU) geword en op 1 Januarie 2023 is die Euro as geldeenheid ingevoer. Dit is ook lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), Verenigde Nasies, Raad van Europa en Wêreldhandelsorganisasie.
Die dienssektor oorheers Kroasië se ekonomie, gevolg deur die nywerheid- en die landbousektor. Toerisme is veral in die somer ’n groot bron van inkomste, met Kroasië wat as een van die gewildste bestemmings ter wêreld beskou word. Sy grootste handelsvennoot is die EU. Sedert 2000 het die regering heelwat daaraan bestee om die land se infrastruktuur, veral vervoerroetes en -geriewe, te verbeter. ’n Groot deel van die energie wat verbruik word, word in Kroasië self vervaardig en die res word ingevoer. Daar is ’n universele gesondheidsorgstelsel en gratis primêre en sekondêre onderwys, en die kultuur word bevorder deur verskeie openbare instellings en deur korporatiewe beleggings in die media en uitgewersbedryf.