Komatiïet
From Wikipedia, the free encyclopedia
Komatiïet is die naam van 'n gesteente wat deur Viljoen en Viljoen in 1969 gedefinieer is vir basaltiese en ultramafiese lawas wat hulle in die groensteengordel naby die Komatirivier in Suid-Afrika gevind het. In komatiïete word dikwels nikkel-kopersulfiedafsettings aangetref. Die later chemiese definisie vereis dat hierdie gesteentes <1% natrium/kaliumoksied en <1% TiO2 bevat.[1]
Komatiïet het 'n uitsonderlik hoë magnesiumoksied-gehalte (MgO> 18-30% volgens massa). Hierdie gehalte in MORB (middeloseaniese rugbasalte) en OIB (oseaniese eilandbasalt) is gewoonlik slegs 10-15%. Hulle smeltpunt verskil daardeur. Vir komatiïet is dit >1600 oC en slegs 1250–1350 oC vir moderne MORB-lawas. Komatiïet is gewoonlik baie oud: Barberton s'n is omtrent 3,5 miljard jaar. Daar word selfs vermoed dat die eerste gestolde laag op die magma-oseaan van die vroeë Hadeïkum uit komatiïet bestaan het.[2] Die komatiïet wat in Munro, Kanada gevind word is effens jonger (2,7 Ga) en dit het minder magnesium. Die komatiïet van die Colombiaanse eiland Gorgona is Fanerosoïes en het nog minder magnesium. Dit weerspieël die afkoeling van die jong planeet.[3] Hulle word veral op 'n hemelliggaam gevorm wat steeds 'n baie hoë temperatuur het. Gorgona se gesteentes uit die Paleogeen was 'n verrassing. Hulle hou verband met die Galapagos-brandpunt en komatiïete word dalk deur opwelling van mantelmateriaal gevorm. Die Barberton-opwelling moet die warmste gewees het en net dié materiaal wat die hoogste smeltpunt het, het gestol. 'n Ander meganisme wat dalk tot die vorming van komatiïete lei is subduksie van tektoniese plate.