From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Karelsuniversiteit, ook bekend as Karelsuniversiteit in Praag (Tsjeggies: Univerzita Karlova; Latyn: Universitas Carolina; Duits: Karls-Universität) of histories as die Universiteit van Praag (Latyn: Universitas Pragensis), is die oudste en grootste universiteit in die Tsjeggiese Republiek. Dit is in 1348 gestig en was die eerste universiteit in Sentraal-Europa.[3] Dit is een van die oudste universiteite wat deurlopend operasioneel was vanaf sy stigting oftewel waarvan die aktiwiteite nooit gestaak is nie.[4] Vandag bestaan die universiteit uit sewentien fakulteite wat geleë is in Praag, Hradec Králové en Plzeň. Die universiteit se akademiese uitgewers-huis is Karolinum Press. Die universiteit bedryf ook verskeie museums en twee botaniese tuine.
Karelsuniversiteit | |
---|---|
Gestig: | 1348 |
Tipe: | Openbare universiteit |
Befondsing: | 8.9 miljard CZK[1] |
Rektor: | Tomáš Zima |
Personeel: | 4026[1] |
Studentetal: | 51438[1] |
Voorgraadse studente: | 32520[1] |
Nagraadse studente: | 9288[1] |
Doktorale studente: | 7428[1] |
Ligging: | Praag, Tsjeggië |
Kampus: | Stedelik |
Kleure: | Rooi en Wit[2] |
Affiliasies: | Coimbra Groep Europese Universiteit-assosiasie Europaeum |
Webtuiste: | http://www.cuni.cz/UKEN-1.html |
Die universiteit se seël bevat sy beskermheer Keiser Karel IV, met sy wapen as Koning van die Romeine en Koning van Boheme wat voor Sint Wenceslaus, die beskermheilige van Boheme, kniel. Om dit is die inskrywing Sigillum Universitatis Scolarium Studii Pragensis (Afrikaans: Seël van die Praag akademie).[5]
Die inspirasie vir die stigting van 'n middeleeuse universiteit in Praag was die Keiser van die Heilige Romeinse Ryk, Karel IV.[6] Hy het sy vriend en bondgenoot, Pous Clemens VI, gevra om die universiteit op te rig. Op 26 Januarie 1347 het die pous die magtiging (pouslike Bull) uitgereik vir 'n universiteit in Praag, welke universiteit gebaseer sou word op die Universiteit van Parys met die volle aantal (4) fakulteite, d.w.s. insluitende teologie. Op 7 April 1348 het Karel, die koning van Boheme, aan die nou-opgerigte universiteit sekere voorregte en kwytskeldings verleen uit hoofde van sekulêre magte vervat in 'n Goue Bull[7] en op 14 Januarie 1349 het hy dié aksie herhaal as Koning van die Romeine. Die meeste Tsjeggiese bronne in 19de eeuse ensiklopedieë, algemene historieë en materiaal van die universiteit self -gee die jaar van 1348 aan as die stigtingsjaar van die universiteit eerder as 1347 of 1349. Dit is veroorsaak deur 'n anti-geestelike gees in die 19de eeu wat deur beide die Tsjegge en die Duitsers gedeel is.
Die universiteit het in 1349 geopen. Die universiteit is ingedeel in afdelings bekend as nationes: onderskeidelik dié van Boheme, Beiere, Pole en Sakse. Die Boheemse natione het Boheme, Morawiërs, suidelike Slawiërs en Hongare ingesluit; die Beierse natione het Oostenrykers, Swabe, Franke en studente uit die Ryn-provinsies ingesluit; die Poolse natione het mense van Silesië en Pole ingesluit; die Saksiese natione het inwoners uit Meissen, Thüringen, Bo- en Benede Sakse, Denemarke en Swede ingesluit. Etnies Tsjeggiese studente het 16 tot 20% van alle studente opgemaak.[8] Aartsbiskop Arnošt van Pardubice het 'n aktiewe deel gespeel in die grondlegging van die instituut deur die geestelikes te vra om by te dra en is aangestel as die universiteit se kanselier.
Die lesings is gehou in die kolleges, waarvan die oudste (wat in 1366 gestig is) vernoem is na keiser Karel (Karolinum). In 1372 het die regsfakulteit 'n onafhanklike universiteit geword.[9]
In 1402 het Jerome van Praag in Oxford die Dialogus en Trialogus van John Wycliffe gekopieer. Die dekaan van die fakulteit van Filosofie, Jan Hus, het die Trialogus in Tsjeggies vertaal. In 1403 het die universiteit sy lede verbied om Wycliffe se leerstellings te volg, maar dit het in gewildheid toegeneem.
Tydens die westelike skeuring het die Boheemse-natio die kant van koning Wenceslaus (Keiser van die Heilige Romeinse Ryk) geneem en die konsilie van Pisa (1409) ondersteun. Die ander nationes het hul ondersteuning verleen aan Pous Gregorius XII. Derhalwe was die stem 1:3 teen die Boheme. Jan Hus en ander Boheme het egter Wenceslaus se opposisie teen Gregorius uitgebuit. Die koning het by wyse van die Dekreet van Kutná Hora (Duits: Kuttenberg) op 18 Januarie 1409 die universiteit se grondwet ondermyn deur aan die Boheme drie stemme toe te ken. Slegs 'n enkele stem het vir die ander nationes oorgebly, vergeleke met een stem vir elke natione soos tevore. Die resultaat van hierdie "coup" was die emigrasie van buitelandse (meestal Duits) professore en studente wat in Mei 1409 die Universiteit van Leipzig gestig het. Voor hierdie gebeurtenis het die universiteit omtrent 200 doktorale- en magister studente asook vyfhonderd baccalaureus studente (in totaal 30,000 studente) gehad. Die universiteit het 'n groot deel van sy studente- en personeelkorps verloor. Skattinge van die verlies wissel van 5000 tot 20,000, insluitende 46 professore. In die herfs van 1409 is Jan Hus verkies tot rektor van die nou Tsjeggies-gedomineerde universiteit.
Derhalwe het die Praagse universiteit die grootste deel van sy studente en fakulteit verloor. Van die oomblik af het die universiteit spoedig verval tot 'n blote streeksinstelling met 'n lae status.[10] Die fakulteite van teologie en regte het gou verdwyn (in 1419), en slegs die Fakulteit van kunste het bly voortbestaan.
Die Fakulteit van kunste van die Karelsuniversiteit in Praag het die sentrum van die Hussiete-beweging, en die hoof doktrinale gesagsliggaam van die Ultrakwiste, geword. Geen grade is in die jare 1417 tot 1430 toegeken nie en by tye was daar slegs agt of nege professore aanwesig. Keiser Sigismund, die seun van Charles IV, het wat oorgebly het as sy persoonlike eiendom opgeneem en daar is op beskeie vlak vooruitgang gemaak. Keiser Ferdinand I het die Jesuïete na Praag opgeroep, en in 1562 het hulle 'n akademie gestig- die Clementinum. Van 1541 tot 1558 was die Tsjeggiese humanis Mattheus Collinus (1516–1566) 'n professor van Grieks aan die instelling.[11] Vooruitgang is ook gemaak toe keiser Rudolf II residensie opgeneem het in Praag. In 1609 is die verpligte selibaatskap van professors afgeskaf.[12] In 1616 het die Jesuïete Akademie 'n universiteit geword. (Dit kon akademiese grade toeken.) [12]
Die Jesuïete is in 1618 tot 1621, aan die begin van die Dertigjarige oorlog wat in Praag begin is, deur anti-Katolieke en anti-imperialistiese Boheme uitgesit. Teen 1622 het die Jesuïete 'n dominante invloed oor die keiser gehad. 'n Ryksdekreet van 19 September 1622 het die Jesuïete beheer oor die gehele skoolsisteem van Boheme, Morawië en Silesië gegee. Die laaste vier professors by die Karolinum het bedank en die Karolinum en nege kolleges het na die Jesuïete oorgegaan. Die reg om grade toe te ken, kanselierskappe te hou en sekulêre professors aan te stel is ook aan die Jesuïete toegestaan.
Kardinaal Ernst Adalbert von Harrach het die samesmelting van die universiteit met ander instellings en die onttrekking van die episkopalistiese reg tot die kanselierskap teengestaan en die optrek van die Goue Bull vir die bevestiging van die toegif aan die Jesuïete verhoed. Kardinaal Ernst het die Collegium Adalbertinum befonds, en in 1638 het keiser Ferdinand III van die Heilige Romeinse Ryk die onderrig-monopolie wat deur die Jesuïete geniet is beperk. Hy het hulle ontneem van die regte, eiendomme en argiewe van die Karolinum en die universiteit weereens onafhanklik verklaar onder 'n ryksbeskermheer. Gedurende die laaste jare van die Dertigjarige oorlog is die Karelsbrug in Praag op dapper en moedige wyse deur studente van die Karolinum en Clemtinum beskerm. Sedert 1650 neem gegradueerdes 'n eed om die onbevlekte ontvangs van die Heilige Maagd te onderhou, wat elke jaar hernu word.
Op 23 Februarie 1654 het keiser Ferdinand III van die Heilige Romeinse Ryk die Karolinum en Clementium laat saamsmelt en 'n enkele universiteit geskep met vier fakulteite-die Karel Ferdinand-universiteit.[13] Die Karolinum het op die stadium slegs beskik oor 'n Fakulteit van kunste (Praag), die enigste fakulteit wat die Hussiete-oorloë oorleef het. In die tyd het die universiteit bekendgestaan as die Karel-Ferdinand-universiteit (Latyn: Universitatis Carolinae Ferdinandeae). Die verwaarloosde Karolinum is in 1718 op onkoste van die staat herbou.
Die herbouing en die burokratiese hervormings van die universiteit in die tyd van die Habsburg vorstehuis in 1752 en 1754 het die universiteit ontneem van baie van sy voormalige voorregte. In 1757 is 'n Augustiniaan en Dominikaan aangestel om teologiese onderrig te gee. Daar was egter 'n geleidelike bekendstelling van verligte hervormings en die proses het teen die einde van die eeu 'n hoogtepunt bereik toe selfs nie-Katolieke die reg gegee is om te studeer. Op 29 Julie 1784 het Duits Latyn as voertaal vervang.[14] Vir die eerste keer is Protestante toegelaat en kort daarna ook Jode. Die universiteit het die benodigdheid vir 'n leerstoel vir die Tsjeggiese taal en letterkunde erken. Keiser Leopold II van die Heilige Romeinse Ryk het op 28 Oktober 1791 die leerstoel deur 'n dekreet gevestig. Op 15 Mei 1792 is die geskiedkundige Franz Martin Pelzel (Tsjeggies: František Martin Pelcl)[15] aangestel as professor van die leerstoel. Hy het op 13 Maart 1793 met sy lesings begin.[16]
Tydens die rewolusie van 1848 het beide Duitse en Tsjeggiese studente geveg vir die byvoeging van Tsjeggies as voertaal aan die Karel-Ferdinand-universiteit. As gevolg van die demografiese veranderinge van die 19de eeu het Praag teen 1860 nie meer beskik oor 'n meerderheid Duitstalige inwoners nie. Teen 1863 was twee-en-twintig kursusse in Tsjeggies en die res (uit 187 lesings) in Duits. In 1864 het die Duitsers die stigting van 'n aparte Tsjeggiese universiteit voorgestel. Tsjeggiese professore het die voorstel verwerp omdat hulle nie ontneem wou wees van die kontinuïteit van die universiteit se tradisies nie.
Dit het gou duidelik begin word dat nòg die Tsjegge nòg die Duitsers tevrede was met die tweetalige reëling wat die universiteit na die rewolusie van 1848 aangeneem het. Die Tsjegge het ook geweier om die idee van die herinstelling van die 1349 Natio-universiteit (Nasies-universiteit) te ondersteun en in stede daarvan hul ondersteuning verleen aan die idee om die universiteit se eenheid te behou maar dit in verskillende universiteits-kolleges te verdeel, een Tsjeggies en een Duits. Dit sou beide die Tsjegge en Duitsers toelaat om die gesamentlike tradisies van die universiteit te behou. Die Duitssprekendes het egter gou die voorstel ge-veto: hulle het voorgestel dat die Karelsuniversiteit verdeel word in twee aparte instellings.
Na uitgebreide samesprekings is die Karel-Ferdinand universiteit in 'n Duitse Karel-Ferdinand (Duits: Deutsche Karl-Ferdinands-Universität) en 'n Tsjeggiese Karel-Ferdinand Universiteit (Tsjeggies: Česká universita Karlo-Ferdinandova) verdeel by wyse van 'n wet van die Keiserlike Raad (Oostenryk) wat op 28 Februarie 1882 deur Keiser Frans Ferdinand bekragtig is.[17] Elke afdeling was heeltemal onafhanklik van die ander en het gelyke status geniet. Die twee universiteite het egter mediese en wetenskaplike institute gedeel, asook die ou kentekens, die aula, biblioteek, en botaniese tuine maar algemene fasiliteite is deur die Duitse universiteit geadministreer. Die eerste rektor van die Tsjeggiese Universiteit was Václav Vladivoj Tomek.
In 1890 het die Koninklike en Keiserlike Tsjeggiese Karel-Ferdinand Universiteit 112 lektore en 2,191 studente gehad en die Koninklike en Keiserlike Duitse Charles-Ferdinand Universiteit 146 lektore en 1,438 studente. Beide universiteite het beskik oor drie fakulteite; Die Teologiese Fakulteit is tot 1891 gedeel, toe dit ook verdeel is. In die wintersemester van 1909-10 het die Duitse Karel-Ferdinand Universiteit 1,778 studente gehad, en diè het bestaan uit 58 teologiestudente, vir beide die sekulêre priesterskap en godsdienstige ordes; 775 regstudente; 376 geneeskundestudente en 589 filosofiestudente. Omtrent 80 van die studente was vroulik. Die professore is as volg ingedeel: teologie, 7 gereelde professore, 1 assistent-professor, 1 dosent; regte, 12 gereelde professore, 2 assistent-professore, 4 dosente; medisyne, 15 gereelde professore, 19 assistente, 30 dosente; filosofie, 30 gereelde professore, 8 assistent-professore, 19 dosente, 7 lektore. In die wintersemester van 1909-10 het die Tsjeggiese Karel-Ferdinand Universiteit 4,319 studente gehad, en diè het bestaan uit 131 teologiestudente, vir beide die sekulêre priesterskap en godsdienstige ordes; 1,962 regstudente; 687 geneeskundestudente en 1,539 filosofiestudente. Omtrent 256 van die studente was vroulik. Die professore is as volg verdeel: teologie, 8 gereelde professore, 2 dosente; regte, 12 gereelde professore, 7 assistent-professore, 12 dosente; geneeskunde, 16 gereelde professore, 22 assistente, 24 dosente; filosofie, 29 gereelde professore, 16 assistent-professore, 35 dosente en 11 lektore.
Die hoogtepunt van die Duitse Universiteit was die era wat die Eerste Wêreldoorlog voorafgegaan het toe dit die tuiste was van wêreldbekende wetenskaplikes soos die fisici en filosowe Ernst Mach, Moritz Winternitz en Albert Einstein. Bykomend hiertoe het die Duitstalige studente bekende indiwidue soos die toekomstige skrywers Max Brod, Franz Kafka, en Johannes Urzidil ingesluit.[18] Die "Lese- und Redehalle der deutschen Studenten in Prag" (Die "Lees- en Lesingsaal van die Duitse studente in Praag") wat in 1848 gestig is was 'n belangrike sosiale en wetenskaplike sentrum. Hulle biblioteek het in 1885 meer as 23,519 boeke asook 248 wetenskaplike joernale, 19 dagblaaie, 49 tydskrifte en 34 vermaaksuitgawes bevat. Gereelde lesings is gehou met wetenskaplike en politiese temas.
Selfs voor Oostenryk-Hongarye in 1918 ontbind is en opgevolg is deur nasionale state soos Tjeggoslowakye, het Tsjeggiese politici geëis dat die kentekens uit 1348 eksklusief deur die Tsjeggiese universiteit behou word. Wet No. 197/1919 Sb. z. a n. het die Protestante teologiefakulteit gevestig, maar nie as deel van die Karelsuniversiteit nie.[19] Dit het egter op 10 Mei 1990 verander toe dit 'n fakulteit van die universiteit geword het.[20] In 1920 is die sogenaamde Iuridictum:Lex Mareš (No. 135/1920 Sb. z. a n.) uitgereik wat vernoem is na sy skepper, professor František Mareš. Dit het bepaal dat die Tsjeggiese universiteit die opvolger was van die oorspronklike universiteit.[21] Dit het die Habsburgse naam Ferdinand uitgelaat en sou voortaan bekendstaan as die Karelsuniversiteit, terwyl die Duitse universiteit nie genoem is in die dokument nie en voortaan amptelik bekend sou staan as die Duitse Universiteit in Praag (Duits: Deutsche Universität Prag).[22][23]
In 1921 het die Duitsers dit oorweeg om hul universiteit te skuif [24] na Liberec (Duits: Reichenberg), in Noord-Boheme. In 1930 het omtrent 42,000 Praagse inwoners Duits as huistaal gepraat, terwyl miljoene Duitssprekendes in noord-, suid- en wes Boheme, in Tsjeggies-Silesië en dele van Morawië naby die grense met Oostenryk en Duitsland gewoon het.
In Oktober 1932, na Naegle se dood, het die Tsjegge weer 'n kontroversie oor die kentekens veroorsaak. Etniese spanning het verhoog, alhoewel sommige professors van die Duitse Universiteit lede van die Tsjeggoslowaakse regering was. Enige ooreenkoms om die kentekens vir beide die universiteite te gebruik is verwerp. Op 21 November 1934 moes die Duitse-universiteit die kentekens oorhandig aan die Tsjegge. Die senaat van die Duitse-universiteit het 'n afvaardiging gestuur na die Minister van Onderwys, Krčmář, om daarteen te protesteer. Op die middaguur van 24 November 1934 het duisende studente van die Tsjeggiese-universiteit voor die gebou van die Duitse universiteit geprotesteer. Die Tsjeggiese rektor, Karel Domin, het 'n toespraak gegee wat die skare aangemoedig het om aan te val terwyl die Duitse studente probeer weerstand bied het. Op 25 November 1934 het die rektor, Otto Grosser (1873–1951) onder dreigemente van geweld die kentekens oorhandig. Die gebeure van 1934 het die verhoudinge tussen die twee universiteite en volke skade berokken.
Die gety het egter in 1938 gedraai na die München-ooreenkoms, toe Duitse troepe die grensgebiede van Tjeggoslowakye binnegeval het (die sogenaamde Sudetenland), net soos Poolse en Hongaarse troepe elders gedoen het. Op 15 Maart 1939 het die Duitsers Tjeggoslowakye gedwing om te skeur en die land is deur die Duitsers geokkupeer as die Protektoraat van Boheme en Morawië. Reichsprotektor Konstantin von Neurath het die historiese kentekens aan die Duitse universiteit oorhandig, wat amptelik hernoem is na die Deutsche Karls-Universität in Prag. Op 1 September 1939 is die Duitse-universiteit onder die gesag geplaas van die Ryksdepartement van Opvoeding in Berlyn en op 4 November 1939 is dit geproklameer as 'n Reichsuniversität.[25]
Op 28 Oktober 1939 is Jan Opletal tydens 'n protesaksie geskiet. Sy begrafnis op 15 November 1939 het in 'n verdere betoging ontaard.[26] Op 17 November 1939 (nou bekend as Internasionale Studentedag) is die Tsjeggiese-universiteit en alle ander hoër onderwysinstellings gesluit. Dit sou voortgaan tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Nege studenteleiers is tereggestel en omtrent 1,200 Tsjeggiese studente geïnterneer in die Sachsenhausen konsentrasiekamp. Hulle is eers in 1943 vrygelaat. Omtrent 20 [27] of 35[28] geinterneerde studente het in die kamp omgekom. Op 8 Mei 1940 is die Tsjeggiese-universiteit amptelik hernoem na die Tsjeggiese Karelsuniversiteit. (Tsjeggies: Česká universita Karlova) deur regeringsregulasie 188/1940 Coll.
Die Tweede Wêreldoorlog het die einde van die naasbestaan van die universiteite in Praag meegebring.
Alhoewel die universiteit begin herstel het na 1945 het dit vir 'n geruime tyd nie akademiese vryheid geniet nie. Na die kommunistiese staatsgreep van 1948 het die nuwe regime begin om "suiwerings" te reël en alle vorme van meningsverskille en onenigheid met die amptelike ideologie te onderdruk, wat sou voortduur vir die volgende vier dekades. Die tweede golf "suiwerings" het tydens die Tsjeggoslowaakse Normalisasie-tydperk plaasgevind wat begin het in die 1970's.[29] Die situasie het slegs in die 1980's begin verbeter; studente het verskeie aktiwiteite georganiseer en verskeie vreedsame betogings het in die nasleep van die buitelandse rewolusies van 1989 plaasgevind.[30] Dit was die begin van die Fluweel Rewolusie van 1989 waarin beide studente en fakulteitslede 'n groot rol gespeel het. Václav Havel— 'n skrywer, dramaturg en filosoof— is vanuit die geledere van die onafhanklike akademiese gemeenskap gewerf en in Desember 1989 aangestel as president van die nuwe republiek.
Die Karelsuniversiteit beskik nie oor een gesamentlike kampus nie. Die akademiese fasiliteit is regdeur die stad van Praag geleë, en drie van die fakulteite is geleë in ander stede. (twee van hulle in Hradec Králové en een in Plzeň). Die historiese hoofgebou uit die 14de eeu, die Karolinum, is geleë in die ou stad van Praag en maak die universiteit se sentrum uit. Dit is die setel van die rektor en van die akademiese senaat van Karelsuniversiteit. Die Karolinum is ook die ligging vir amptelike akademiese seremonies soos gradeplegtighede.
Die botaniese tuin van die Karelsuniversiteit in Praag word onderhou deur die Fakulteit van Wetenskappe en is geleë in die "Nuwe Stad" van Praag.
Die vier oorspronklike fakulteite van die Karelsuniversiteit was die Regsfakulteit, Geneeskunde, Kuns (filosofie) en teologie (nou Katolieke teologie). Vandag bestaan die Karelsuniversiteit uit sewentien fakulteite wat hoofsaaklik gebaseer is in Praag, met twee kampusse in Hradec Králové en een in Plzeň.
Volgens die QS Vak-ranglys is die Karelsuniversiteit tussen die beste 51–100 universiteite in die wêreld wat aardrykskunde en linguïstiek betref.[31]
Shanghai Vakvelde[32] | 2012 | 2018 |
---|---|---|
Wiskunde | 151–200 | 151–200(geen verandering nie) |
Fisika | 151–200 | 76–100() |
In Duitsland werk die Karelsuniversiteit in Praag saam met die Goethe-universiteit in Frankfurt am Main. Beide stede is ook verbind by wyse van 'n vennootskap.[33]
Onverdeel, voor 1882 | Tsjeggiese Universiteit (1882–1939 en 1945–teenswoordig) |
Duitse Universiteit (1882–1945) |
---|---|---|
|
|
|
onverdeel voor 1882 | Tsjeggiese Universiteit (1882–1939 en 1945–tot die hede) |
Duitse Universiteit (1882–1945) |
---|---|---|
|
|
|
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.