From Wikipedia, the free encyclopedia
Christiaan Nicolaas Boonzaier (gebore 18 Maart 1986[1]) is ’n Suid-Afrikaanse joernalis, wat onder die publiek se aandag gekom het toe hy die eerste seisoen van Saktyd, ’n Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks, gewen het.[2] Met sy oorwinning het Boonzaier ’n eenjaarkontrak losgeslaan om as joernalis by Suid-Afrika se grootste, oudste en bekendste tydskrif, Huisgenoot, te werk.[2]
Boonzaier is in Kaapstad gebore en matrikuleer in 2004 met ses onderskeidings aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville.[1] Op 18-jarige ouderdom, terwyl hy nog op skool was, is sy eerste skryfwerk in die Kaapse dagblad Die Burger gepubliseer.[3] Alhoewel ’n loopbaan in die joernalistiek gewink het, het hy liewer in 2005 vir ’n B.Mus.-graad aan die Universiteit Stellenbosch geregistreer, waar hy uiteindelik die graad in 2007 cum laude geslaag het.[1][4] Voorgraads het hy gereeld gepubliseer, met nog twee rubrieke wat in Die Burger in 2005 die lig gesien het.[5][6] Hy het ook gereeld vir die Universiteit Stellenbosch se studentekoerant, Die Matie, geskryf, en het in sy finale jaar geregistreer vir musiekjoernalistiek – die laasgenoemde twee wat, volgens Boonzaier, bygedra het tot sy werklikheids-TV sukses.[7]
In 2008 het hy sy visier op ’n beroep in die media gefokus toe hy vir ’n B.Phil.-graad in die joernalistiek aan sy alma mater registreer en dit in dieselfde jaar voltooi; volgens Boonzaier sou hy nie Saktyd kon wen sonder hierdie kursus en die vrouetydskrif Sarie se eerste vroueredakteur, Lizette Rabe, se leiding in die kursus nie.[7] As een van die jaar lange kursus se toppresteerders, het hy twee pryse ontvang: een vir die beste honneurstesis en een vir die beste fotoportefeulje.[1][4] Gedurende sy studies in 2008 het hy aanhou publiseer: ’n Onderhoud deur hom met Johnny Clegg is in die Afrikaanse koerant Die Stem in Londen, Engeland opgeneem;[8] hy skryf twee berigte vir die Universiteit Stellenbosch Woordfeeskoerant,[9][10] en ’n ondersoek na siggestremdes se toegang tot nuusmedia word in druk[11] en aanlyn[12] gepubliseer.
In 2011 het Boonzaier ’n TESOL- (Teaching English to Speakers of Other Languages) en TBE (Teaching Business English)-sertifikaat verwerf.
Teen die begin van Saktyd in Julie 2012, het Boonzaier reeds vir vier jaar werk in die media gesoek, maar is na "honderde aansoeke" nie na een onderhoud genooi nie.[13] In Oktober 2012 het hy op streeksradio gesê dat sy ma hom van Saktyd vertel het toe sy die uitnodiging vir inskrywings in 'n Huisgenoot raakgelees het.[14][15] Alhoewel hy aanvanklik skepties was oor die idee van 'n werklikheidsreeks – veral omdat hy nie seker was of sy persoonlikheid daar kon inpas nie[16] – het hy tog besluit om 'n kans te waag: hy het 'n aansoek drie dae voor die sluitingsdatum ingedien,[17] is vir 'n onderhoud genooi (sy eerste in die joernalistiek ooit[18]) en is uiteindelik in die Huisgenoot van 31 Mei as een van die reeks se top-13 aangekondig.[19]
Aanvanklik het Boonzaier in die reeks gesukkel, veral toe hy ná die eerste taak in Episode 2 deur die hoofredakteur van Huisgenoot en hoofbeoordelaar van die reeks, Izelle Venter, as "teleurstellend" beskryf is; maar hy het vinnig opgang gemaak, en het verskeie komplimente van die beoordelaars gekry: In Episode 7 het Izelle vir hom gesê sy artikel is so goed dat sy hom wil soen; in Episode 8 het die adjunkredakteur van Huisgenoot en mede-beoordelaar, Wicus Pretorius, hom as die ander deelnemers se grootste kompetisie beskryf; in Episode 10 het die tydskrif se legendariese kosredakteur, Carmen Niehaus, hom geloof vir 'n kosblad, wat hy ná 'n geflopte malvapoeding met sukses saamgestel het, en in die finaal het Izelle bygevoeg dat dit 'n skande is dat die industrie in Suid-Afrika hom oorgesien het; sy humor is ook deur YOU se redakteur, Linda Pietersen, as "genotvol" beskryf, terwyl Nadia Sadovsky, Huisgenoot se nuusredakteur, Izelle in die finaal gevra het of sy hom self kan aanstel.
'n Emosionele Boonzaier is uiteindelik op 9 Oktober 2012 in Episode 13 as die wenner van die reeks aangewys.
In die reeks is Boonzaier as "Rooibaard" gedoop, om hom van sy naamgenoot en mede-deelnemer, Christian Lee, te onderskei; volgens bronne het Huisgenoot se adjunkredakteur en mede-Saktyd-beoordelaar, Wicus Pretorius, vir hom die bynaam gegee, wat skertsend verwys na sy opvallende en kenmerkende rooi baard.[20][21]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.