From Wikipedia, the free encyclopedia
Robert James (Bobby) Fischer was 'n grootmeester in skaak wat in 1972 die enigste Amerikaner geword het wat die amptelike wêreldkampioenskap in skaak kon wen. Robert James Fischer is op 9 Maart 1943 in die VSA gebore en sterf op 17 Januarie 2008 in Ysland[1] waar hy die laaste jare van sy lewe gewoon het. Daar word gereeld na Fischer verwys as moontlik die beste skaakspeler van alle tye.[2][3][4][5][6][7]
Bobby Fischer is op 9 Maart 1943 in Chicago gebore. Hy verhuis op 'n jong leeftyd na New York waar hy leer skaak speel toe hy ses jaar oud was. Hy word vroeg as 'n wonderkind gesien. Op dertien vra sy ma vir John W. Collins om sy skaaktutor te wees. Collins het verskeie topspelers afgerig, insluitend toekomstige grootmeesters Robert Byrne en William Lombardy. In 1957 word hy as veertienjarige kampioen van die VSA (in 2008 staan die rekord steeds). Dié oorwinning besorg hom ook die titel internasionale meester. Daarna wen hy amper elke toernooi waaraan hy deelneem. By baie geleenthede stel hy hoë eise aan die toernooidirekteure.
Van 1957 tot 1966 speel Fischer agt keer in die VSA-kampioenskap. Hy wen al agt keer, waarvan een keer in 1963 met 'n perfekte telling van 11/11. In 1958 eindig Fischer sesde uit die agt spelers by die intersone-toernooi in Portoroz en word daarmee 'n grootmeester – op 15 die jongste in die geskiedenis tot in 1991.
In 1970 is Fischer nie gekeur om deel te neem aan die volgende intersone-toernooi in Palma de Mallorca nie. Pal Benkö stel egter sy plek beskikbaar en gevolglik kon Fischer tog speel. Fischer wen dié toernooi oortuigend met 18,5/23. In die kandidaatwedstryde verslaan hy die topspelers Mark Taimanov en Bent Larsen altwee met 6-0. Daarna wen hy ook die oud-wêreldkampioen Tigran Petrosjan met 6,5-2,5. Met hierdie ongeëwenaarde prestasies bekom hy die reg om die wêreldkampioen uit te daag.
In 1972 speel Fischer in Reykjavik, Ysland teen die toenmalige wêreldkampioen, Boris Spasski. Fischer verloor die eerste spel, en daag nie op vir die tweede een nie. Na 'n verskuiwing na 'n kamer sonder kameras wen Fischer sewe van die volgende negentien spelle, met een nederlaag en elf gelykop spelle, en wen daarmee 12,5-8,5. Sodoende word Fischer die elfde wêreldkampioen in skaak.
Dit gebeur gereeld in wêreldklas-wedstryde met 'n reeks spelle dat een of albei spelers een of twee openinge baie deeglik voorberei en gereeld gedurende die wedstryd gebruik. Daarmee saam sal spelers ook voorberei deur van hulle opponent se vorige openingslyne te analiseer. Fischer het Spasski verras deur nooit 'n openingslyn deur die hele wedstryd te herhaal nie, en het 'n hele paar keer openingslyne gebruik wat hy nog nooit tevore in sy skaakloopbaan gebruik het nie. Gedurende die laaste helfte van die wedstryd het Spasski sy voorbereide openingslyne laat vaar en het gepoog om Fischer te uitoorlê met lyne wat hopelik vir altwee onvoorbereid sou wees, maar kon nie hiermee sukses behaal nie. [8]
Fischer se oorwinning was van groot simboliese waarde in die tyd van die Koue Oorlog met 'n Amerikaner wat eiehandig die magtige heersende bestel van die Sowjetunie beëindig wat wêreldskaak op daardie stadium oorheers het in die kwarteeu sedert 1948. In wat bekend staan as die "Fischer Boom" neem skaak in gewildheid toe in die VSA en elders.
Nadat hy die titel van wêreldkampioen verower het, speel Fischer vir twintig jaar geen amptelike wedstryde nie. In 1975 daag Anatoly Karpov Fischer uit, maar uiteindelik lê Fischer die titel neer nadat FIDE nie aan sy voorwaardes vir die wedstryd wou voldoen nie. Hierna verdwyn Fischer vir 'n geruime tyd uit die openbaar en die titel word aan Karpov gegee sonder dat 'n wedstryd plaasvind.
In 1992 daag Fischer vir Spasski uit vir 'n "wraakwedstryd". Hulle speel op 'n Serwiese eiland in die destydse Joego-Slawië in 'n wedstryd wat volgens Fischer om die wêreldtitel is (alhoewel Kasparov op daardie stadium deur FIDE erken is as die wêreldkampioen). Fischer het gewen met 10-5. Weens VN-sanksies teen Joego-Slawië op daardie stadium, het die VSA-regering Fischer verbied om die wedstryd te speel. Fischer gaan egter voort met die wedstryd met prysgeld wat $3-miljoen beloop, en keer daarna nie weer terug na die VSA nie.
In die jare daarna het Fischer in Hongarye, Switserland, Japan en die Filippyne gebly. In sekere radioprogramme maak hy anti-Amerikaanse, anti-Bush en antisemitiese opmerkings.[9][10][11] Op 13 Julie 2004 word hy op 'n lughawe in Tokio aangehou omdat sy paspoort ingetrek is deur die Amerikaanse owerheid terwyl hy in Japan was. Hy is vir nege maande gevange gehou en kon uiteindelik slegs loskom nadat Ysland aan hom burgerskap gebied het.
Fischer het verskeie bydraes gemaak tot die skaakteorie in verband met openinge. Verskeie variasies op bestaande openinge word aan hom toegeskryf.
Internasionale meester Jeremy Silman het Fischer beskryf as een van die beste vyf spelers in die eindspel.[14]
In 1988 verkry Fischer 'n patent op 'n digitale skaakhorlosie wat vinnig die norm geword het in die meeste groot skaaktoernooie.
Op 19 Junie 1996 in Buenos Aires, Argentinië kondig Fischer 'n nuwe variasie op skaak aan, bekend as ewekansige skaak (Random Chess) of Chess960. Dié variasie poog om spelers te laat meeding op grond van hulle skaakvermoëns eerder as blote memorisasie van openingsvariasies. Fischer het per geleentheid gesê:[15]
Luister gerus na 'n klankgreep van Bobby Fischer Geargiveer 29 November 2007 op Wayback Machine wat die onaangename kant van hoëvlakskaak beskryf.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.