From Wikipedia, the free encyclopedia
Alpha Arae (α Arae, afgekort as Alpha Ara of α Ara) is die tweede helderste ster in die suidelike sterrebeeld Altaar (Ara). Met ’n gemiddelde skynbare magnitude van 2,93[3] is dit in die Suidelike Halfrond redelik sigbaar met die blote oog. Die ster is sowat 270 ligjare van die Son af. Die visuele magnitude verminder met 0,1 magnitude vanweë die absorpsie en verspreiding van straling deur gas en stof.[6]
Alpha Arae
| ||||
Die ligging van Alpha Arae (in die rooi sirkel). | ||||
Sterrebeeld | Altaar | |||
Bayer-naam | α Arae | |||
Spektraaltipe | B2 Vne[1] | |||
Soort | Hoofreeksster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 17h 31m 50.49153s[2] | |||
Deklinasie | -49° 52′ 34.1220″[2] | |||
Skynmagnitude (m) | 2,93[3] (2,76 tot 2,90)[4] | |||
B-V-kleurindeks | -0,16[3] | |||
U-B-kleurindeks | -0,72[3] | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 9,6[5] | |||
Radius (R☉) | 4,5[6] | |||
Ligsterkte (L☉) | 5 800[5] | |||
Temperatuur (K) | 18 044[6] | |||
Eienskappe | ||||
Veranderlikheid | BE[7] | |||
Ander name | ||||
Choo, CD−49°11511, FK5 651, HD 158427, HIP 85792, HR 6510, NSV 8999, SAO 228069.[8][9][10] | ||||
|
Alpha Arae het ’n sterreklassifikasie van B2 Vne,[1] wat aandui dit is ’n massiewe B-tipe hoofreeksster. Die "n" in die agtervoegsel dui daarop dat die absorpsielyne in die ster se spektrum uitgesprei en newelagtig lyk vanweë die Doppler-effek van ’n vinnige rotasie. Die rotasiesnelheid word so hoog geraam as 375 km s−1.[11] Meilland et al. (2007) raam die pole van die ster lê teen ’n hoek van 55° met die waarnemingslyn, en dit gee ’n ekwatoriale asimutsnelheid van 470 km s−1. Dit is naby die kritieke snelheid waar die ster sal begin uitmekaarval.[5] Die vinnige rotasie veroorsaak ’n duidelike ewenaarbult van sowat 2,4-2,7 keer die poolradius.[6]
Die "e" in die klassifikasie dui daarop dit is ’n Be-ster. Dit beteken emissielyne kan in die ster se spektrum gesien word wat kom van ’n skyf materiaal wat uit die ster skiet vanweë die vinnige rotasie.[12] In 2003 en 2005 is Alpha Arae deur infrarooi-interferometrie waargeneem. Die resultate, wat in 2005 en 2007 gepubliseer is, dui skynbaar daarop dat Alpha Arae omring word deur ’n digte ekwatoriale skyf materiaal en dat dit massa by die pole verloor as gevolg van ’n poolwind met ’n terminale snelheid van sowat 1 000 km/s. Daar is ook moontlike bewyse dat Alpha Arae op 0,7 AE omsirkel word deur ’n metgesel-ster.[5][13]
Die ster se massa is sowat 9,6 keer dié van die Son,[5] en sy radius gemiddeld 4,5 keer die Son s'n.[6] Dit is 5 800 keer so helder as die Son;[5] sy oppervlaktemperatuur is 18 044 K.[6] Dié hitte gee Alpha Arae die blouwit skynsel van ’n B-tipe ster. Dit is ’n veranderlike ster met ’n magnitude wat tussen 2,76m en 2,9 wissel.[4][8]
Alpha Arae het ’n visuele metgesel, CCDM J17318-4953B, wat sowat 50 boogsekondes van hom af lê teen ’n posisiehoek van 168°, met ’n skynbare magnitude van sowat 11.[9] Dit lyk of die twee sterre per toeval naby mekaar voorkom en nie werklik naby mekaar in die ruimte is nie.[4]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.