Therapsida, of die terapsides, is ’n groep sinapsides en sluit soogdiere en hul voorsate in.[1][2] Baie van die kenmerke wat vandag beskou word as uniek aan soogdiere, was reeds by die vroeë terapsides aanwesig – ook die regop houding. Die vroegste fossiel wat as Therapsida geklassifiseer is, is Tetraceratops insignis uit die Vroeë Perm-periode.[3][4]
Terapsides het 275miljoen jaar gelede ontwikkel uit die uitgestorwe orde Pelycosauria (meer spesifiek uit Sphenacodontia). Hulle het die pelikosouriërs in die Middel-Perm vervang as die oorheersende landdiere en is op hul beurt in die Trias deur die archosouromorfe vervang, hoewel een groep terapsides, Kannemeyeriiformes, nog in die Laat-Trias volop was. Die terapsides het Cynodontia ingesluit, die groep wat in die Laat Trias sowat 225miljoen jaar gelede gelei het tot die soogdiere. Van die terapsides wat nie soogdiere was nie, het net Cynodontia en Dicynodontia die Trias-Jura-uitwissing oorleef. Die laaste groep van dié diere, Tritylodontidae, het in die Vroeë Kryt uitgesterf, sowat 100miljoen jaar gelede.
Hoewel die vroeë terapsides se skedels baie soos dié van hul pelikosouriër-voorsate lyk, is daar verskille in die res van die lyf.
Pote en voete
Hul pote is meer vertikaal onder die lyf geleë as die uitgespreide pote van reptiele en pelikosouriërs. Die voete was meer simmetries, met die eerste en laaste tone kort en die middelste tone langer. Dit is ’n aanduiding dat die as van die voet parallel met die dier se lyf was en nie na die kant uitgesprei nie. Dit sou aan hulle ’n meer soogdieragtige houding gegee het as die akkedisagtige houding van die pelikosouriërs.[5]
Kake en tande
Terapsides se openings by hul slape is groter as by pelikosouriërs. Die kake van sommige terapsides is ingewikkelder en sterker, en hul tande bestaan uit verskillende soorte: voortande om te byt, groot oogtande om te skeur en kiestande om te kou.
M. Laurin & R. R. Reisz. 1996. The osteology and relationships of Tetraceratops insignis, the oldest known therapsid. Journal of Vertebrate Paleontology 16(1): 95-102.