From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Samango-aap (Cercopithecus mitis) is 'n primaat wat veral voorkom in Oos-, Sentraal- en Suider-Afrika. Die naam kom van die Zoeloe-woord 'iNsimango' wat 'ape in die mis' beteken. In Engels word hulle 'blue monkeys' genoem, wat verwarrend kan wees, aangesien die blouaap (Cercopithecus aethiops) 'n aparte spesie is.
Samango-aap | |
---|---|
C. m. stuhlmanni Kakamega Forest, Kenya | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Mammalia |
Orde: | Primates |
Suborde: | Haplorhini |
Infraorde: | Simiiformes |
Familie: | Cercopithecidae |
Genus: | Cercopithecus |
Spesie: | C. mitis |
Binomiale naam | |
Cercopithecus mitis Wolf, 1822 | |
Subspesies | |
6, sien teks | |
verspreiding (nota: die nouverwante C. albogularis, C. doggetti, en C. kandti word hierby ingesluit) |
Mannetjie:
Wyfie:
Die spesie het die tipiese aapvoorkoms. Hulle is stewiger gebou as die blouaap. Hulle wange en voorkop het lang wit hare wat in alle rigtings staan. Die gesig is donkerbruin, met 'n wit gedeelte rondom die mond en nek. Die skouers en pote is donkerbruin, met die rug 'n gespikkelde grysbruin. Die penskant is ligter as die rugkant en wissel in kleur van 'n naaswit tot donkerroom. Die laaste twee-derdes van die stert is swart.
In Suider-Afrika kom hulle in geïsoleerde troppe in woudgebiede van die Oos-Kaap, tot in KwaZulu-Natal, aan die suidehange van die Soutpansberge, en ook in die oostelike gedeeltes van Zimbabwe en Mosambiek voor.
Hulle kom slegs in woudgebiede voor, maar kan hul ook vestig in aangeplante plantasies.
Lees ook die artikel aap.
Hulle is aktief gedurende die dag, en slaap snags in hoë bome.
Die Samango-aap is 'n sterk groepsdier. Hulle woon in troppe van tot 35 indiwidue saam. 'n Interessantheid van die spesie is dat hulle bedags met ander spesies gesellig verkeer, en as multispesiegroep soms saamspan, byvoorbeeld teen 'n roofdier. Vrygeselmannetjies kom alleen of in loslopergroepe voor. Hulle veg met die dominante mannetjies van 'n gevestigde groep om paringstoegang tot die wyfies te verkry. Dit is bekend dat hierdie vrygeselgroepe 'n trop kan binnevaar, paar met die beskikbare wyfies, en dan weer laat spaander. Troppe het goed-omlynde groepswoongebiede, wat tot soveel as 18 hektaar groot kan wees.
Die lewensverwagting is nie bekend nie, maar dit word beraam dat dit soortgelyk is aan ander soortgelyke spesies: tot 20 jaar oud.
Die Samango-aap is baie raserig. Dikwels is hul geluide bokant die waarnemer se kop die enigste teken dat hulle in die omtrek is. Wanneer gevaar dreig, uiter die volwasse mannetjies 'n luide, herhalende geluid wat beskryf word as 'nyah' of 'jack'. Daarteenoor gil, skree en joel die wyfies en kleintjies wanneer gevaar dreig.
Hulle vreet veral vrugte, maar eet ook blomme, boomgom, sade en soms, larwes. In sagtehoutplantasies ruk hulle die bas van jong bome af en eet dié.
Die Samango-aap paar dwarsdeur die jaar. Die wyfies wat in estrum kom, inisieër die paring deur hulle agterstewe aan die mannetjies te presenteer. Die dratyd is ongeveer vyf maande. Meestal word een, maar partykeer twee apies gebore. Die apies se pels is pikswart by geboorte, hulle oë is oop en hulle is by geboorte reeds in staat om aan die moeder se pels vas te hou. Hulle word gespeen op ses maande. Verskillende wyfies kan help met die kleintjies se grootmaakproses.
Stukke vrugte, sade en skille aan die voet van bome in 'n woud.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.