From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Retrograde beweging is ’n beweging in die teenoorgestelde rigting as die beweging van ’n ander voorwerp. Dit is die teenoorgestelde van ’n prograde beweging, wat in dieselfde rigting is. Hierdie beweging kan die wentelbaan van een liggaam om ’n ander wees of die rotasie van ’n enkele liggaam om sy as. Met verwysing na ruimtestelsels, kan ’n retrograde beweging beteken ’n beweging wat in die teenoorgestelde rigting as die rotasie van die res van die stelsel is.
In die Sonnestelsel beweeg al die planete en die meeste ander voorwerpe wat om die Son wentel, in ’n prograde rigting (dus in die rigting van die Son se rotasie), behalwe baie komete. Die rotasie van die meeste planete is ook prograad, met die uitsondering van Venus en Uranus, wat ’n retrograde rotasie het. Die meeste natuurlike satelliete van planete draai om hul planete in ’n prograde rigting. (In die geval van Uranus se satelliete beteken dit hulle beweeg in dieselfde rigting as Uranus se rotasie en dus retrograad met betrekking tot die Son).
Daar is ’n paar natuurlike satelliete wat in ’n retrograde rigting om hul planete wentel, maar hulle is gewoonlik klein en ver van die planeet af. Die uitsondering is Neptunus se satelliet Triton, wat groot en naby is. Vermoedelik is dié retrograde satelliete, insluitende Triton, in ’n wentelbaan vasgevang nadat hulle op ’n ander plek gevorm het.
Wanneer ’n planeet- of sterrestelsel vorm, neem die materiaal die vorm van ’n skyf aan. Die grootste deel van die materiaal wentel en roteer in een rigting. Hierdie eenvormigheid is te danke aan die instorting van ’n gaswolk[1] en die behoud van hoekmomentum. In 2010 het die ontdekking van verskeie warm Jupiters met retrograde bewegings vrae laat ontstaan oor die teorieë oor die vorming van planeetstelsels.[2] Dit kan so verduidelik word: Sterre en planete vorm nie in isolasie nie, maar in sterreswerms wat molekulêre wolke bevat. Wanneer ’n ster se protoplanetêre skyf met ’n wolk bots of materiaal daaruit aantrek, kan dit lei tot ’n retrograde beweging van die skyf en die planete wat daarin vorm.[3][4]
’n Hemelliggaam se baanhelling, of inklinasie, dui aan of die liggaam se wentelbaan pro- of retrograad is. Die inklinasie is die hoek tussen die voorwerp se wentelvlak en ’n ander verwysingsraamwerk soos die ekwatoriale vlak van die liggaam se primêre voorwerp. In die Sonnestelsel word die baanhelling van die planete gemeet vanaf die sonnebaan, wat die vlak van die Aarde se wentelbaan om die Son is.[5] Die baanhelling van mane word gemeet vanaf die ewenaar van die planeet waarom hulle wentel. ’n Liggaam met ’n baanhelling van tussen 0 en 90 grade wentel in dieselfde rigting as waarin sy primêre voorwerp draai. ’n Liggaam met ’n baanhelling van presies 90 grade het ’n loodregte wentelbaan en is dus nie retro- of prograad nie. ’n Liggaam met ’n baanhelling van tussen 90 en 180 grade is in ’n retrograde wentelbaan.
’n Hemelliggaam se ashelling dui aan of die rotasie pro- of retrograad is. Die ashelling is die hoek tussen die liggaam se rotasie-as en ’n lyn loodreg op sy wentelvlak wat deur die liggaam se middel loop. ’n Liggaam met ’n ashelling van tot 90 grade roteer in dieselfde rigting as sy primêre voorwerp en het dus ’n prograde rotasie. ’n Helling van presies 90 grade beteken ’n loodregte rotasie en een van tussen 90 en 180 grade ’n retrograde rotasie.
Al agt planete in die Sonnestelsel wentel in ’n prograde rigting om die Son, dus die rigting waarin die Son roteer (antikloksgewys gesien vanaf die Son se noordpool). Ses van die planete roteer ook in dieselfde rigting. Die uitsonderings is Venus en Uranus; hul rotasie is retrograad. Venus se ashelling is 177 grade, wat beteken dit roteer in amper die teenoorgestelde rigting is waarin hy om die Son wentel. Uranus het ’n ashelling van 97,77 grade, en daarom is sy rotasie-as feitlik parallel met die vlak van die Sonnestelsel. Die rede is nie heeltemal seker nie, maar daar word vermoed ’n protoplaneet omtrent so groot soos die Aarde het in die vormingsjare van die Sonnestelsel met Uranus gebots en die ongewone helling veroorsaak.[6]
Dit is onwaarskynlik dat Venus gevorm het met sy huidige stadige retrograde rotasie, wat 243 dae duur om te voltooi. Die planeet het waarskynlik aanvanklik ’n vinnige prograde rotasie gehad met ’n tydperk van ’n paar uur, nes die meeste van die ander planete in die Sonnestelsel. Venus is na genoeg aan die Son om ’n aansienlike gravitasionele sinchroniese rotasie te ondervind, en sy atmosfeer is dik genoeg om termies aangedrewe atmosfeergetye te skep wat ’n retrograde wringkrag veroorsaak. Venus se huidige stadige retrograde rotasie is in ’n ewewigtige balans tussen swaartekraggetye wat probeer om Venus ’n sinchroniese rotasie te gee en atmosfeergetye wat probeer om die planeet in ’n retrograde rigting te laat draai. Die getye is ook sterk genoeg om die evolusie te verklaar van Venus se rotasie van ’n aanvanklike vinnige prograde rigting na sy huidige stadige retrograde rotasie.[7] Mercurius is nader aan die Son, maar het nie ’n sinchroniese rotasie nie omdat dit ’n rotasie-wentelbaan-resonansie ondergaan het vanweë die eksentrisiteit van sy wentelbaan. Die rotasie van Mars en die Aarde word ook beïnvloed deur getyekragte met die Son, maar hulle het nie ’n staat van ewewig bereik soos Venus en Mercurius nie omdat hulle verder van die Son af is waar getykragte swakker is. Die gasreuse van die Sonnestelsel is te groot en te ver van die Son af dat getyekragte hul rotasie kan vertraag.[7]
Al die bekende dwergplanete en kandidaat-dwergplanete het prograde wentelbane om die Son, hoewel sommige ’n retrograde rotasie het, soos Pluto; sy ashelling is sowat 120 grade.[8] Pluto en sy maan Charon het albei 'n sinchroniese rotasie. Die stelsel is vermoedelik deur ’n enorme botsing geskep.[9][10]
As ’n maan in die swaartekragveld van ’n planeet vorm terwyl die planeet self aan die vorm is, sal die maan in dieselfde rigting om die planeet wentel as waarin die planeet om sy as roteer; dit is dan ’n reëlmatige maan. As ’n voorwerp op ’n ander plek gevorm het en daarna deur die planeet se swaartekrag in ’n wentelbaan getrek is, kan dit in ’n retro- of prograde baan beland na gelang van watter kant van die planeet dit eerste teenkom – die kant wat na dit of weg daarvan roteer. Dit is dan ’n onreëlmatige maan.[11]
In die Sonnestelsel het baie van die asteroïdegrootte-mane retrograde wentelbane, terwyl al die groot mane buiten Neptunus se grootste maan, Triton, prograde wentelbane het.[12] Die deeltjies in Saturnus se Foibe-ring het vermoedelik ’n retrograde wentelbaan omdat dit ontstaan het uit die onreëlmatige maan Foibe.
Alle retrograde satelliete ondervind in ’n mate ’n gety-vaartvermindering. Die enigste satelliet in die Sonnestelsel waar dié uitwerking nie onbeduidend is nie, is Triton. Alle ander retrograde satelliete is in ’n wentelbaan ver van hul planeet af, en getykragte tussen hulle en die planeet is dus onbeduidend.
In die Hill-sfeer is die streek van stabiele retrograde wentelbane ver van die planeet af groter as vir prograde wentelbane. Dit verduidelik moontlik hoekom die meeste mane om Jupiter retrograad is. Omdat Saturnus ’n meer eweredige mengsel van retrograde/prograde mane het, lyk dit egter of die onderliggende redes meer ingewikkeld is.[13]
Met die uitsondering van Saturnus se maan Huperion het al die bekende reëlmatige mane in die Sonnestelsel ’n sinchroniese rotasie; hulle het dus nulrotasie met betrekking tot hul planeet. Hulle het egter ’n prograde rotasie met betrekking tot die Son omdat hulle prograde wentelbane om hul planeet het, buiten die mane van Uranus.
As ’n botsing plaasvind, kan materiaal in enige rigting geskiet word en dan in ’n retro- óf prograde wentelbaan beland. Dit kan die geval wees met die mane van die dwergplaneet Haumea, hoewel laasgenoemde se rotasierigting onbekend is.[14]
Die Son se beweging om die massamiddelpunt van die Sonnestelsel word gekompliseer deur steurings van die planete. Elke paar honderd jaar wissel dié beweging tussen prograad en retrograad.[23]
Dit lyk of die sterre aan die naghemel ’n vaste patroon het, maar dit is omdat hulle so ver weg is dat hul bewegings nie met die blote oog sigbaar is nie. Eintlik draai hulle om die middelpunt van die Melkweg. Sterre met ’n retrograde wentelbaan kom meer dikwels in die galaktiese halo voor as in die skyf. Die buitenste deel van die Melkweg se halo bevat baie bolsterreswerms met ’n retrograde wentelbaan[24] en met ’n retrograde of nulrotasie.[25]
Die nabygeleë Kapteyn se Ster het vermoedelik in sy vinnige retrograde wentelbaan om die Melkweg beland deurdat dit weggeruk is uit ’n dwergsterrestelsel wat met die Melkweg saamgesmelt het.[26]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.