From Wikipedia, the free encyclopedia
Piero della Francesca (Engelse uitspraak:|p|j|ɛər|oʊ|_|ˌ|d|ɛ|l|ə|_|f|r|æ|n|ˈ|tʃ|ɛ|s|k|ə}},[2] sien ook Engelse uitspraak (VSA):-|_|f|r|ɑː|n|ˈ,[3][4] Italiaanse uitspraak:ˈpjɛːro della franˈtʃeska; c.1415[1] – 12 Oktober 1492), oorspronklik genaamd Piero di Benedetto, was 'n Italiaanse skilder van die Vroeë Renaissance. Hy was aan sy tydgenote ook bekend as 'n wiskundige en geometer.[5] Deesdae word Piero della Francesca hoofsaaklik erken en waardeer vir sy kuns. Sy skilderwerk word erken vir sy serene humanisme, sy gebruik van geometriese vorms en vir sy grafiese perspektief. Sy bekendste werk is die siklus van fresko's bekend as Die Geskiedenis van die Ware Kruis in die kerk van San Francesco in die Toskaanse dorpie Arezzo.
Piero della Francesca | |
---|---|
Gebore | c.1415[1] Sansepolcro, Florentynse Republiek |
Sterf | 12 Oktober 1492 Sansepolcro, Florentynse Republiek |
Veld | Skilder, Fresko |
Beweging | Vroeë Renaissance |
Werke | Die Doop van Christus Geseling van Christus Brera Madonna |
Piero was in die dorp van Borgo Santo Sepolcro as Piero di Benedetto,[1][6] (moderne Toskane) as die kind van Benedetto de' Franceschi, 'n handelaar, en Romana di Perino da Monterchi gebore. Hulle was lede van die adellike Florentynse en Toskaanse Franceschi familie. Sy vader is voor sy dood oorlede en hy was Piero della Francesca genoem na sy moeder, wat sy opvoeding in wiskunde en die kunste ondersteun het.[6]
Hy was in alle waarskynlikheid as vakleerling verbonde gewees aan die plaaslike skilder Antonio di Giovanni d'Anghiari, omrede daar in dokumente betreffende betaling opgemerk word dat hy in 1432 en Mei 1438 by Antonio werksaam was.[7][8] Hy het definitief van die werk van sommige van die Sienese kunstenaars wat gedurende sy jeug in San Sepolcro aktief was kennis geneem, soos bv. Sassetta. In 1439 het Piero saam met Domenico Veneziano betalings vir sy werk op fresko's vir die kerk van Sant'Egidio in Florence ontvang , welke nou verlore is. Hy moes na alle waarskynlikheid in Florence leidende meesters soos Fra Angelico, Luca della Robbia, Donatello, en Filippo Brunelleschi ontmoet het. Die klassisisme van Masaccio se fresko's en sy majestueuse figure in die Santa Maria del Carmine was 'n belangrike bron van inspirasie. Die datering van Piero se werk is besonder moeilik omrede sy styl nie met die jare blyk te ontwikkel het nie.
Piero het in 1442 na sy tuisdorp teruggekeer, en was tot die dorpsraad van Sansepolcro verkies.[9] Hy het drie jaar later sy eerste opdrag, te wete om die altaarstuk van die kerk van die Misericordia in Sansepolcro (die Madonna della Misericordia altaarstuk) te skilder, ontvang,[9] welke in die vroeë 1460s voltooi was. In 1449 het hy verskeie fresko's in die Castello Estense en die kerk van Sant'Andrea van Ferrara uitgevoer, welke ook nou verlore is. Sy invloed was besonders tasbaar in die latere Ferrara werke van Cosimo Tura.
Die Doop van Christus, nou in die Nasionale Gallery in Londen, was in omtrent 1450 vir die hoë altaar van die kerk van die klooster of abdy van S. Giovanni Battista by Sansepolcro voltooi. Ander noemenswaardige werke is die fresko's van Die Opstanding in Sansepolcro, en die Madonna del parto in Monterchi, naby Sansepolcro.
Twee jaar later was hy in Rimini en werksaam vir die condottiero Sigismondo Pandolfo Malatesta. In 1451 gedurende die verblyf, het hy die bekende fresko van Sint Sigismund en Sigismondo Pandolfo Malatesta[9] in die Tempio Malatestiano uitgevoer, sowel as 'n Portret van Sigismondo Pandolfo Malatesta. Piero kon dalk in Rimini die bekende Renaissance wiskundige en argitek Leon Battista Alberti ontmoet het, wat die Tempio Malatestiano herontwerp het, alhoewel dit bekend is dat Alberti die uitvoering van sy ontwerpe vir die kerk by wyse van sy bouinspekteur bewerkstellig het. Daarna was Piero in Ancona, Pesaro en Bologna aktief gewees.
In 1454 het Piero 'n kontrak vir die Poliptiek van Sint Augustyn in die kerk van Sant'Agostino in Sansepolcro geteken. Die sentrale paneel van hierdie poliptiek is verlore, en die vier panele van die vlerke, met uitbeeldings van Heiliges, is nou rondom die wêreld verstrooi. 'n Paar jaar later het Piero, opgeroep deur Pous Nicholas V, na Rome getrek, waar hy fresko's in die Basilika di Santa Maria Maggiore uitgevoer het, waarvan slegs fragmente oorbly. Twee jaar later was hy weer in die pouslike hoofstad waar hy fresko's geteken het in die Vatikaan-paleis, welke sedertdien vernietig is.
In 1452 was Piero della Francesca na Arezzo opgeroep om Bicci di Lorenzo (wat betref die skilder van die fresko's van die basilika van San Francesco) te vervang. Die werk was eers in 1464 voltooi.[10] Die siklus fresko's wat bekend staan as Die Geskiedenis van die Ware Kruis word oor die algemeen as van Piero se grootse meesterwerke, en oor die algemeen as van die grootste werke van Skilderkuns in die Renaissance, beskou. Die verhaal wat in hierdie fresko's uitgebeeld word het sy ontstaan te danke aan legendariese middeleeuse bronne betreffende hoe houtstukke van die Ware Kruis gevind was.[10] Hierdie verhale was in die Goue Legende van Jacopo da Varazze (Jacopo da Varagine) van die middel-13de eeu) versamel.[11]
Giovanni Santi het op 'n tydstip vir Piero na Urbino uitgenooi.[12] Piero was tussen 1469 en 1486 herhaaldelik in diens gewees van Burggraaf Federico III da Montefeltro (Hertog in 1474).[lower-alpha 1] Die Geseling word oor die algemeen as Piero se oudste werk in Urbino beskou. (c. 1455–1470). Dit is een van die bekendste en mees berugte prente van die vroeë Renaissance. Dit word, bykomend daartoe dat dit 'n verwarrende raaisel ten opsigte van die drie mans op die voorgrond daarvan bied, gemerk deur 'n atmosfeer van geometriese ingetoënheid.
Nog 'n bekende werk wat in Urbino geskilder is, is die Dubbele Portret van Federico en sy vrou Battista Sforza in die Uffizi.[13] Die portrette wat in profiel is neem hul inspirasie van groot bronsmedaljes en pleisterwerk waarop die amptelike portrette van Fedederico en sy vrou voorkom. Ander skilderye wat in Urbino gemaak is, is die monumentale Montefeltro Altaarstuk (1474) in die Brera Gallery in Milaan en waarskynlik ook die Madonna van Senigallia.
In Urbino het Piero die skilders Melozzo da Forlì, Fra Carnevale en die Vlaming Justus van Gent, die wiskundige Fra Luca Pacioli, die argitek Francesco di Giorgio Martini en waarskynlik ook Leon Battista Alberti ontmoet.
Gedurende Piero se latere jare het skilders soos Perugino en Luca Signorelli op gereelde wyse sy werkswinkel besoek. Hy het die verhandeling getiteld Op Perspektief in die skilderkuns in die middel-1470s tot 1480s voltooi. Teen 1480 het sy sig begin verswak,[13] maar hy het voortgegaan om verhandelings te skryf.[lower-alpha 2] Dit is geboekstaaf dat Piero in 1482 'n huis in Rimini gehuur het. Piero het in 1487 sy testament gemaak, en hy is vyf jaar later op 12 Oktober 1492 in sy eie huis in San Sepolcro oorlede.[1] Hy het sy besittings nagelaat aan sy familie en die kerk. Hy het op dieselfde dag waarop Christopher Columbus die Amerika's bereik het beswyk.
Bohuslav Martinů het 'n drie-delige orkes-werk getiteld Les Fresques de Piero della Francesca geskryf. Dit is aan Rafael Kubelik gewy, en die eerste uitvoering daarvan was tydens die 1956 Salzburg-fees deur Kubelik gegee saam met die Weense Filharmoniese Orkes. Piero se geometriese perfeksie en die byna magiese atmosfeer van die lig in sy skilderwerk het ook moderne skilders soos Giorgio de Chirico, Massimo Campigli, Felice Casorati en Balthus geïnspireer.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.