From Wikipedia, the free encyclopedia
Paleoantropologie is 'n tak van paleontologie en antropologie wat probeer om die vroeë ontwikkeling van anatomies moderne mense te verstaan deur die rekonstruksie van evolusionêre verwantskapslyne in die familie Hominidae. Bewyse word verkry uit versteende skeletoorblyfsels, beenfragmente, voetafdrukke en kultuurbewyse (soos klipinstrumente, artefakte en die ligging van nedersettings).[1][2]
Die veld maak gebruik van primatologie, paleontologie en antropologie. Namate tegnologie en metodes verbeter, speel genetika 'n al hoe belangriker rol, veral in die ondersoek en vergelyking van DNS-strukture om die verband tussen spesies en genusse te bepaal.
Die term paleoantropologie is afgelei van die Griekse παλαιός (palaiós, "oud, antiek"), ἄνθρωπος (ánthrōpos, "man, mens") en die agtervoegsel -λογία (-logía, "studie van").
Hominoidea is 'n superfamilie ape, en die familie Hominidae bevat die familie grootape en mense binne dié superfamilie. Die Homininae bevat beide die mense en Afrika-ape. Laasgenoemde verwys net na die sjimpansee en gorilla.[3] Die term Hominini verwys na die menslike tribus, waarvan Homo sapiens (moderne mense) die enigste lewende spesie is.[4][5]
Suborde Hominoidea | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Familie Hominidae | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Subfamilie Homininae | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Tribus Gorillini | Tribus Hominini | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Genus Ardipithecus | Genus Australopithecus | Genus Paranthropus | Genus Kenyanthropus | Genus Homo | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
In 1758 het Carl Linnaeus die naam Homo sapiens in die 10de uitgawe van sy werk Systema Naturae gebruik as 'n spesienaam, maar sonder 'n wetenskaplike beskrywing van die spesifieke spesie-eienskappe.[6] Aangesien die grootape in die 19de eeu as die mens se naaste verwante beskou is gegrond op morfologiese ooreenkomste, is gespekuleer dat die mense se heel naaste verwante die sjimpansee (genus Pan) en gorilla (genus Gorilla) was. Vanweë die natuurlike habitat van dié diere is aangeneem mense en Afrika-ape het 'n gemeenskaplike voorsaat gehad en dat fossiele van dié voorsate eindelik in Afrika gevind sou word.[6][7]
Die wetenskap het stellig in die laat 19de eeu ontstaan toe belangrike ontdekkings gedoen is wat gelei het tot die studie van menslike evolusie. Die ontdekking van die Neanderdaller in Duitsland, Thomas Huxley se Evidence as to Man's Place in Nature en Charles Darwin se The Descent of Man was alles belangrik vir paleoantropologiese navorsing.
Die moderne veld het begin met die ontdekking van die Neanderdaller in 1856 en bewyse van sogenaamde grotmense. Die idee dat mense soortgelyk aan die grootape is, was geruime tyd al aan wetenskaplikes duidelik, maar die biologiese evolusie van spesies in die algemeen is nog nie bestudeer nie, tot met die publikasie van Darwin se On the Origin of Species in 1859.
Voor die algemene aanvaarding van Afrika as die oorsprong van die genus Homo, het naturaliste van die 19de eeu die mens se oorsprong in Asië gesoek. Die eerste enkele menslike tand, uit Beijing, is in die vroeë 20ste eeu deur die Duitse paleontoloog Max Schlosser beskryf. Elf jaar later, in 1918, het die Sweedse geoloog Johan Gunnar Andersson die terreine om Zhoukoudian, 'n dorpe sowat 50 km suidwes van of Beijing in China, ontdek. Omdat min vondste aanvanklik gedoen is, is uitgrawings egter laat vaar.
Eers in 1921 is werk hervat, toe die Oostenrykse paleontoloog Otto Zdansky na Beijing gekom het om saam met Andersson te werk. Zdansky het net twee tande van belang gevind wat hy versigtig beskryf het as "?Homo sp." (Zdansky, 1927).
Nuus van die tande se ontdekking het wetenskaplikes in Beijing opgewonde gemaak en planne vir omvattender ondersoeke is gou opgestel. Aan die spits van die nuwe vlaag was Davidson Black, 'n Kanadees gebore anatoom wat in Beijing gewerk het. Black het Andersson se belangstelling gedeel, asook sy mening dat Sentraal-Asië 'n belowende plek was om vroeë mense te vind.
Die Sweedse paleontoloog Anders Birger Bohlin het in 1927 'n tand soortgelyk aan die voriges as onmiskenbaar dié van 'n mens geïdentifiseer en dit Sinanthropus pekinensis genoem.[8] Die nuus is eers met skeptisisme begroet, en baie geleerdes het hulle bedenkinge daaroor gehad dat 'n enkele tand belangrik genoeg was dat 'n nuwe soort vroeë hominien daarna genoem word. Net minder as twee jaar later, in die winter van 1929, het Pei Wenzhong by Zhoukoudian die eerste volledige skedeldak van die Pekingmens ontdek. Meer as 20 jaar ná Schlosser se aanvanklike beskrywing was die teenwoordigheid van vroeë mense in Oos-Asië nie meer 'n bespiegeling nie, maar 'n werklikheid.
Die eerste paleoantropologiese vonds in Afrika was die ontdekking in 1921 van die Kabwe 1-skedel by Kabwe (Broken Hill), Zambië. Dié spesie is aanvanklik Homo rhodesiensis genoem, maar word vandag beskou as deel van die spesie Homo heidelbergensis.[9]
In 1924 het professor Raymond Dart in 'n kalksteengroep by Taung 'n merkwaardig goed bewaarde spesimen (van 'n jong gesig en die binnekant van 'n skedel) ontdek, wat hy Australopithecus africanus genoem het (Australopithecus beteken "suidelike aap"). Hoewel die brein klein was (410 cm³), was die vorm daarvan gerond, anders as dié van sjimpansees en gorillas, en meer soos dié van mense. Daarbenewens het die spesimen kort snytande gehad en die agtertoe-posisie van die foramen magnum (opening aan die onderkant van die skedel) het daarop gedui dat dit tweevoetig was.
Al dié eienskappe het Dart oorreed dat die Taung-kind 'n tweevoetige menslike voorsaat was, 'n oorgang tussen aap en mens. Dart se gevolgtrekking is egter dekades lank geïgnoreer, want in dié tyd is geglo 'n groot brein het voor tweevoetigheid ontwikkel. Die ontdekking van nog fossiele in Afrika was nodig wat soos dié spesimen lyk.
In die 1930's het die paleontoloog Robert Broom 'n nuwe spesie by Kromdraai, Suid-Afrika, ontdek en beskryf. Hoewel dit in sommige opsigte soos Dart se Australopithecus africanus gelyk het, het Broom se spesimen veel groter kiestande gehad. Vanweë dié verskil het Broom sy spesimen Paranthropus robustus genoem, met 'n nuwe genusnaam. Daarmee het hy die praktyk gevestig om slanke Australopithecus-lede in die genus Australopithecus te plaas en robuuste Australopithecus-lede in die genus Paranthropus. In die 1960's is die robuuste soort na Australopithecus geskuif. 'n Meer onlangse konsensus is om die oorspronklike klassifikasie van Paranthropus as 'n aparte genus te gebruik.[10]
In die tweede helfte van die 20ste eeu is aansienlik meer paleoantropologiese vondste in Afrika gedoen. Baie van die vondste is verbind met die werk van die Leakey-gesin in Oos-Afrika. In 1959 het Mary Leakey se ontdekking van fossiel OH 5 by Olduvai Gorge, Tanzanië, gelei tot die identifikasie van 'n nuwe spesie, Paranthropus boisei.[11] In 1960 het die Leakeys fossiel OH 7 ontdek, ook by Olduvai Gorge, en dit 'n nuwe spesienaam, Homo habilis, gegee.
In 1972 het Bernard Ngeneo, wat vir Richard Leakey gewerk het, die fossiel KNM-ER 1470 naby die Turkanameer in Kenia ontdek. KNM-ER 1470 word beskou as óf 'n aparte spesie, Homo rudolfensis, óf bewys van seksuele dimorfisme in Homo habilis.[10] In 1967 het Richard Leakey die vroegste definitiewe voorbeelde van anatomies moderne mense gerapporteer, wat ontdek is by Omo Kibish, Ethiopië. Dit is bekend as die Omo-oorblyfsels.[12]
In die laat 1970's het Mary Leakey die beroemde Laetoli-voetafdrukke in Tanzanië uitgegrawe wat wys hoe oud tweevoetigheid in die menslike lyn is.[10]
Verskeie ander belangrike vondste is in Oos-Afrika gedoen. Die beroemdste daarvan is waarskynlik die Lucyskelet, wat in 1973 ontdek is deur Donald Johanson en Maurice Taieb in Ethiopië se Afardriehoek. Op grond van dié skelet en daaropvolgende ontdekkings is 'n nuwe spesie, Australopithecus afarensis, geskep.[10] In 1975 het Colin Groves en Vratislav Mazák 'n nuwe spesie mense aangekondig wat hulle Homo ergaster genoem het. Homo ergaster-spesimens is op verskeie terreine is Oos- en Suider-Afrika ontdek.[10] In 1994 het Tim D. White nog 'n nuwe spesie, Ardipithecus ramidus, aangekondig gegrond op fossiele uit Ethiopië.[13]
In 1999 is twee nuwe spesies bekend gemaak: Berhane Asfaw en Tim D. White se Australopithecus garhi, gegrond op spesimens wat in Ethiopië se Awashvallei ontdek is; en Meave Leakey se Kenyanthropus platyops, gegrond op skedeldak KNM-WT 40000 uit die Turkanameer.[10]
In die 21ste eeu is nog talle fossiele ontdek wat die kennis oor vroeë spesies vergroot het. In 2001 het Zeresenay Alemseged byvoorbeeld 'n Australopithecus afarensis-kindfossiel, Selam, in die Afarstreek in Ethiopië ontdek. Dit is 'n besonder belangrike vonds, want dit sluit 'n bewaarde tongbeen in, iets wat uiters selde in ander paleoantropologiese fossiele voorkom, maar belangrik is om die evolusie van spraakvermoëns te begryp.[9][10]
Twee nuwe spesies uit Suider-Afrika is in onlangse jare ontdek en beskryf. In 2008 het 'n span onder Lee Berger 'n nuwe spesie, Australopithecus sediba, aangekondig op grond van fossiele wat hulle in die Malapagrot in Suid-Afrika ontdek het.[10] In 2015 het 'n span, ook onder Lee Berger, nog 'n spesies, Homo naledi, bekend gemaak op grond van die fossiele van 15 individue wat in die Rising Star-grotte van Swartkrans in Suid-Afrika ontdek is.[14]
Ook in Oos-Afrika is nuwe spesies ontdek. In 2000 het Brigitte Senut en Martin Pickford die spesie Orrorin tugenensis beskryf op grond van fossiele wat hulle in Kenia ontdek het. In 2004 het Yohannes Haile-Selassie aangekondig 'n spesie wat voorheen Ardipithecus ramidus genoem is, is 'n voorbeeld van 'n ander spesie, Ardipithecus kadabba.[10]
Hoewel die meeste hominienfossiele in Afrika in Oos- en Suider-Afrika ontdek word, is daar 'n paar uitsonderings soos Sahelanthropus tchadensis, wat in 2002 in Tsjad ontdek is. Dit is ook belangrik, want dit vergroot die geografiese omvang van vroeë mense.[10]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.