Duitse modeontwerper, fotograaf en kostuummaker wat in Parys gebly het From Wikipedia, the free encyclopedia
Karl Otto Lagerfeld (* 10 September 1933 in Hamburg; † 19 Februarie 2019 in Neuilly-sur-Seine) was 'n Duitse modeontwerper, fotograaf, kostuummaker (onder meer vir die Milaanse operahuis Scala en rolprente soos The Sun Also Rises, Babette’s Feast, Viva le Vie en Le Général de l’armée morte[1]) en 'n ikoon van moderne popkultuur wat as frankofiel vanaf die ouderdom van veertien in Parys gebly het. Hier het hy teen die middel van die 1950's sy loopbaan in die Franse modebedryf begin en is deur leidende ondernemings soos onder meer Balmain, Patou en Chloé aangestel. In 1965 het hy die posisie van damesmodeontwerper vir Fendi in Rome aanvaar wat hy tot en met sy afsterwe beklee het.[2]
Karl Lagerfeld | |
---|---|
Karl Lagerfeld in 2014 | |
Gebore | Karl Otto Lagerfeld 10 September 1933 |
Sterf | 19 Februarie 2019 (op 85) |
Nasionaliteit | Duitsland |
Beroep | Modeontwerper, fotograaf en kostuummaker |
Bekend vir | Modeontwerpe, fotokuns, meubels |
Opvolger | Virginie Viard |
Ouer(s) | Otto Lagerfeld Elisabeth Bahlmann |
Webwerf | karl.com |
Handtekening | |
Sy eie klere het hy in Paryse Dior-modewinkels gekoop. Ook het hy - wat in 2000 nog 102 kilogram geweeg en Yamamoto-XL-pakke gedra het - die strenge 3D-dieet onder toesig van sy lyfarts Jean-Claude Houdret gevolg om binne dertien maande 42 kilogram te verloor - en sodoende in die befaamde Franse modeontwerper Hedi Slimane se swart pakke te pas wat vir die mode-etiket Dior Homme ontwerp is.[3] Die Yamamoto-pakke is vervolgens in Lagerfeld se tuin begrawe om enige versoeking te voorkom.[4] En Hedi Slimane kon vervolgens self by Houdret se lys van welvarende klante gevoeg word.
Sedert 1974 het Lagerfeld – met kort onderbrekings – damesmode ontwerp wat onder sy eie naam bemark is. Die regte vir die mode-etikette Karl, Lagerfeld en Karl Lagerfeld, wat onder meer in Lagerfeld-modewinkels in groter metropole verkoop word, is in 2005 deur die Amerikaanse modeontwerper Tommy Hilfiger gekoop.[5]
In 1983 het Lagerfeld 'n kontrak as kreatiewe direkteur vir die Franse modeonderneming Chanel onderteken. Chanel, wat in besit van twee broers is (Alain en Gérard Wertheimer), het Lagerfeld lewenslank in dié pos geplaas. Die onderneming se merkwaardige herlewing gedurende die 1980's en sy groei tot 'n internasionale rolspeler in die kosmetiek- en modebedryf met 'n omset van VSA-$9,62 miljard en 'n bedryfsinkomste van $2,69 miljard in 2017 word grotendeels aan Lagerfeld toegeskryf wat jaarliks tot twintig modereekse ontwerp het. Ná Yves Saint Laurent se afsterwe in 2008 was Lagerfeld die onbetwiste Paryse - en internasionale - modetsaar. In sy latere jare het 'n reeks bybehore en t-hemde gevolg wat deur sy kat Choupette geïnspireer is.
Lagerfeld se kenmerke was sy gepoeierde wit Mozart-poniestert, stywe bordjies en 'n donker sonbril, dikwels ook swart leerhandskoene. 'n Tyd lank het hy tydens openbare optredes ook 'n handwaaier saamgeneem. Die Franse pers het na hom respekvol en as sinspeling op sy Duitse afkoms verwys as Le Kaiser de la mode, Kaiser Karl of Karl die Grote wat die modewêreld met 'n blitzkrieg verower het.[6] Vir Alain Wertheimer, eienaar van die modehuis Chanel, was Karl danksy sy kreatiewe genius, sy grootmoedigheid en sy buitengewone intuïsie sy tyd vooruit en het juis hierdeur bygedra tot Chanel se internasionale sukses.[7]
Hy was bewus van die grondbeginsels wat Coco Chanel, rewolusionêre stigteres van die modehuis, beliggaam het: onafhanklikheid, vryheid en moderniteit.[8] As grys eminensie van die modewêreld kon hy die bedryf se reëls verbreek. Hy was een van die eerste groot modeontwerpers wat die massamark getoets het - met die bekostigbare, maar (volgens die wens van die onderneming) beperkte modereeks Karl Lagerfeld for H&M vir die Sweedse fast fashion-winkelketting H&M in 2004. Hierdie modes was binne enkele dae uitverkoop.[9] Volgens persberigte was Lagerfeld ontevrede oor die insluiting van grootte XL by die reeks.[10]
Ook het hy die konsep van rondreisende voorseisoen-modeskoue ontwikkel - met vertonings in Versailles; West Lothian, Skotland; Dallas, Texas; Seoel; en Havana, Kuba.[11] Die laasgenoemde gebeurtenis was net so opspraakwekkend soos Chanel-modeskoue in die Paryse Grand Palais. Waarnemers het opgemerk dat Lagerfeld verwagtinge eintlik nog net sou kon oortref deur 'n ekspedisie na die ruimte. En inderdaad het Lagerfeld ter geleentheid van die Paryse Modeskou in 2017 'n vuurpyl met 'n hoogte van 37 meter gelanseer.[12] Die skou van 2018, waarvoor 'n kunsmatige strandlandskap met branders geskep is, sou sy laaste groot optrede as modeskepper wees.
Karl Lagerfeld se laaste ontwerpe vir Chanel is op 5 Maart 2019 in Parys vertoon, temidde van 'n coulisse met Alpynse boukuns.[13] Toekomstige Chanel-modereekse sal deur Lagerfeld se langjarige medewerker Virginie Viard ontwerp word.[14] Viard, wat deur Lagerfeld as sy "geheime wapen" en sy "belangrikste persoonlikheid" beskryf is, het sy modesketse in werkbare bloudrukke vir naaisters omgesit en ten nouste vertroud geraak met die ontwerper. Viard was ook betrokke by die ontwerpe vir die modetsaar se laaste modereeks. Vroeg in Mei 2019 het sy haar eerste reeks, Chanel Cruise 2020, met die leuse Destination Chanel bekend gestel - teen die agtergrond van 'n gestileerde Belle Époque-treinstasie wat in die Paryse Grand Palais ontstaan het.[15]
Karl Lagerfeld is in 'n welvarende Noord-Duitse familie gebore, maar het sy presiese geboortedatum steeds geheim gehou of beweer dit sou 1935 of 1938 wees. Die laasgenoemde geboortejaar word op Karl Lagerfeld se amptelike webtuiste genoem. Die amptelike Hamburgse doopregister gee nogtans 10 September 1933 as sy geboortedatum. Joernaliste het daarnaas die oorspronklike geboortekaartjies opgespoor wat sy ouers destyds rondgestuur het. Sy pa, Otto Lagerfeldt (1881−1967, die "t" in Lagerfeldt is later geskrap - na bewering omdat die van só meer kommersiële sukses sou belowe), was oorspronklik 'n koopman van beroep.
Karl se moeder, Elisabeth Bahlmann (1897−1978), is in Beckum, Münsterland (tans deelstaat Noordryn-Wesfale) in 'n gesiene familie gebore. Haar vader, Heinrich Maria Karl Bahlmann, was 'n distriksamptenaar. Elisabeth het 'n lewe op die platteland as vervelend beskou en as jong dame aangetrokke gevoel tot Berlyn en sy opwindende kulturele lewe. Hier is sy aangestel as verkoopster vir damesmodes, hoofsaaklik onderklere - 'n beroep wat vir haar 'n inkomste en selfstandigheid gewaarborg het.[16]
Op die ouderdom van 33 het sy kennis gemaak met Otto Lagerfeld met wie sy sou trou. Net soos ander jong mans in die hawestad Hamburg het Otto 'n tyd lank in die buiteland gebly - aanvanklik in Venezuela, later in San Francisco waar hy werksaam was vir die Carnation Company, 'n vervaardiger en grootskaalse uitvoerder van kondensmelk. Ná sy terugkeer na Hamburg het Otto begin om Carnation se melk in te voer. Vervolgens het hy begin om self kondensmelk plaaslik te vervaardig en onder die handelsmerk Glücksklee te bemark - 'n sake-idee wat 'n fortuin aan hom besorg het.[17] So kon hy vir sy vrou en kinders 'n aangename lewe met bediendes bied in 'n villa in die elegante Hamburgse voorstad Blankenese. Die Duitse weermag was een van sy klante, alhoewel hy gedurende die Nasionaalsosialistiese bewind polities nie aktief was nie.
Karl se jonger suster is in 1931 gebore en het vanaf 1957 in die Verenigde State gebly waar sy laat in 2015 oorlede is.
Ná sy platoniese verhouding met die Franse adellike Jacques de Bascher (1951−1989) het hy verkies om as alleenstaande man te lewe. Hy word oorleef deur Choupette, sy geliefde Heilige Birmaanse kat (* 2011) wat oorspronklik aan die Franse fotomodel Baptiste Giabiconi behoort het en tydens 'n verblyf in die buiteland deur Lagerfeld versorg is en uiteindelik aan hom afgestaan is. Die modetsaar was mal oor Choupette wat onlosmaaklik deel sou word van sy lewe. Die kat, wat deur Lagerfeld op reise saamgeneem is, het as sy fotomodel vir advertensieveldtogte vir onder meer motorvervaardigers en Japannese kosmetika miljoene verdien en is deur Lagerfeld as "welvarende meisie" beskryf. Karl se fortuin is in 2019 op €400 miljoen beraam.[18] Alhoewel Choupette volgens Franse reg self geen erfreg het nie, sal sy na verwagting steeds deur die twee katsitters versorg word wat Karl Lagerfeld vir haar aangestel het.
In die 1990's het 'n vyftienjarige Parysenaar op 'n dag saam met sy skoonvader meubels na een van sy klante vervoer. Die klant was Karl Lagerfeld wat vir hom 'n fooitjie van 500 frank gegee het. Ná die voltooiing van sy diensplig is Sébastien aangestel as Lagerfeld se lyfwag. Later het hy ook as model vir Chanel begin werk. Jondeau sou twintig jaar lank Karl Lagerfeld se toegewyde assistent en privaat sekretaris wees wat elke dag twee uur lank met die modetsaar gekommunikeer het. In hierdie tyd was daar geen tyd vir 'n privaat vakansie of 'n aandete met vriende nie.
Toe Karl Lagerfeld laat in November 2018 saam met die Paryse burgemeesteres Anne Hidalgo die Seinemetropool se kersbeligting amptelik ingeskakel het, het sy onversorgde gebit met ontbrekende tande - 'n ongewone gesig aangesien die modeskepper bekend gestaan het vir sy altyd perfekte voorkoms - verbasing uitgelok. Daar is oor 'n moontlike tandbehandeling gespekuleer. Ook het vir die eerste keer in jare hy sonder sy geliefde sonbril in die openbaar opgetree. In 'n laaste video-opname vir sy aanhangers het hy kwesbaar en uitgeput gelyk.
Karl Lagerfeld se gesondheidstoestand het vroeg in 2019 verder aanleiding gegee tot spekulasie nadat hy in Januarie nie aan 'n Chanel-modeskou kon deelneem nie. As rede daarvoor is fisieke moegheid aangevoer. Op 18 Februarie is hy na die Amerikaanse Hospitaal van Parys (Hôpital américain de Paris) in Neuilly-sur-Seine net wes van Parys geneem waar sy toestand oornag blykbaar baie versleg het. Op die volgende dag is hy volgens sommige nuusmedia aan alvleesklierkanker oorlede.[19] Kanker as doodsoorsaak is egter nie amptelik bevestig nie. Volgens persberigte het hy kort voor sy afsterwe griep opgedoen. Eers later het sy lyfwagter en privaat sekretaris Sébastien Jondeau dat Karl Lagerfeld reeds in 2015 met prostaatkanker gediagnoseer is. Vervolgens het hy behandelings ondergaan wat soms die hoop van genesing gewek het. Nog op sy sterfbed was die modetsaar vol vertroue dat hy sy werk sou kon hervat.
Karl het lank voor sy afsterwe alle prosedures vasgelê wat medewerkers ná sy dood moes volg - so ook hoe om roubetonings van klante in modewinkels te hanteer en watter dekorasie vir toonvensters gebruik moes word.
Die modehuis Fendi het ter geleentheid van die Milan Fashion Week | Settimana della moda di Milano op Donderdag, 21 Februarie - twee dae ná Karl Lagerfeld se afsterwe - die ontwerper se laaste modereeks en 'n video vertoon.[20] As kreatiewe direkteur het Lagerfeld met die laaste oorblywende Fendi-familielid in die onderneming, Silvia Venturini Fendi, saamgewerk.[21]
Karl was gekant teen enige begrafnisplegtigheid. Hy was uitgesproke oor sy nihilistiese houding ten opsigte van die begrafnis van sy eie sterflike oorskot: "Verbranding, as en vullisemmer, en klaar!"[22] Volgens sy eie wens is hy op Vrydag, 22 Februarie in die Mont Valérien-krematorium in Nanterre naby Parys veras, alhoewel uiteindelik nie gebruik gemaak is van 'n vullisemmer nie. Na verwagting sal sy as met dié van sy moeder en dié van sy wyle lewensmaat Jacques de Bascher, wie se urn hy bewaar het, vermeng en verstrooi word.[23][24]
Karl Lagerfeld was, wat sy opleiding betref, baie beskeie. So het hy eens beken: "Eintlik het ek geen benul van enigiets nie - ek het nie eens die matriekeksamen afgelê nie." Moontlik 'n onderdrywing, aangesien hy volgens sommige bronne wél 'n hoërskoolopleiding in Duitsland en Parys gevolg het. 'n Soektog in die betrokke Paryse skool (Lycée Montaigne) se argiewe het egter niks opgelewer nie. Vervolgens het hy 'n privaat tekenskool bygewoon.[27]
In elk geval was sy veelsydigheid dié van 'n ware Renaissance-man - naas sy dagwerk as ontwerper wat jaarliks tientalle modereekse vir Chanel, Fendi en sy eie modehuis ontwerp het, het hy 'n verskeidenheid kleiner loopbane gevolg as fotograaf, uitgewer, stilis, illustreerder, bedrywer van 'n galery, regisseur, kurator, kostuumontwerper en versamelaar en ontwerper van elegante tafelware, meubelstukke en binnedekorasies. Sy eie reeks van marmerlampe, tafels en ander luukse produkte vir Carpenter's Workshop Gallery, wat in samewerking met die argitek Aline Asmar d’Amman ontstaan en deur antieke Griekse kunswerke geïnspireer is, het sy debuut in Oktober 2018 gemaak.[28] Hulle is aanlyn en in winkels in Londen, Parys, New York en San Francisco te koop en is in 2018 onder die titel Karl Lagerfeld Architectures in Parys vertoon.[29]
Daarnaas was Lagerfeld 'n ywerige versamelaar en bekwame dekorateur wat in sy eie gesofistikeerde behoeftes kon voorsien en 'n verskeidenheid style gedek het vir 'n ewe groot verskeidenheid privaat wonings. So vinnig hy nuwe werke geskep het, so vinnig kon hy - 'n man wat volgens sy eie bewering vry van enige sentimentele gevoelens was - besluit om weer daarvan ontslae te raak. In 'n onderhoud met die gesiene Amerikaanse dagblad The New York Times het hy sy versamelpassie beskryf: "Ek hou daarvan om dinge te versamel, maar ek is nie mal daaroor om dinge te besit nie. Ek is 'n modemens. Dit is opwindend vir my om nuwe dinge op te spoor, maar as hulle begin ophoop, sal ek gou daarvan ontslae raak."[30]
Vir sy luukse woonstel in 'n 18de eeuse Paryse woonhuis, geleë op die plein Place Saint-Sulpice, het Lagerfeld in die 1970's binneversierings in swart-en-wit ontwerp wat deur kunsstyle van die 1920's geïnspireer en met kunsskatte uit die tydperk van klassieke jazz-musiek soos Jean Dunand-vase en Eugène Printz-tafels vervolmaak is. Hierdie skatte is in 2003 op 'n Sotheby's-veiling te Parys te koop aangebied.
In die vroeë 1980's was Lagerfeld 'n tyd lank mal oor postmoderne meubels en versierings wat deur die kortstondige Italiaanse ateljee Memphis Group ontwerp is. Die ontwerper het hulle vir sy dakstel in Monte Carlo gekoop, net om van die meeste stukke daarvan in 1991 deur 'n Sotheby's-veiling in Monaco ontslae te raak.
In sy luukse woonstel met 'n woonoppervlakte van 10 753 vierkante voet in die Paryse Hôtel Pozzo di Borgo (ook bekend as Hôtel de Soyecourt of Hôtel des Maisons), 'n historiese gebou van 1708, was daar plek genoeg vir 'n versameling van 18de eeuse Franse meubels en kunswerke. Meer as 400 meubelstukke en kunswerke uit daardie versameling is in 2000 deur 'n afslaer opgeveil, waaronder 'n leunstoel in die Lodewyk XV-styl wat van vergulde hout gemaak is. Drie jaar later is 'n ander versameling meubelstukke en ander kunswerke uit die 1920's en 1930's opgeveil, insluitende 'n Paul Follot-tapyt en 'n André Arbus-en-Vadim Androusov-bed.
As fotograaf het Karl nie net sy eie modereekse afgeneem nie, maar hom onder meer met boukuns besig gehou. In sy werk Konkret Abstrakt Gesehen, wat in 2007 gepubliseer is, het werke van twee wêreldklas-argitekte - Zaha Hadid en Tadao Ando - sentraal gestaan. Nie in hul argitektoniese geheel nie - maar eerder die abstrakte teksture van hul oppervlaktes, patrone en ritmes.
Karl Lagerfeld het luukse eiendomme in Europa en die Verenigde State gekoop. Hy het veral belang daarin gestel om hulle nuut in te rig, nie om hulle oor 'n langer tydperk te bewoon nie. Enkele historiese villa's het hy laat restoureer. Woonstelle in Rome en Berlyn; die kasteel Château de Penhoët in Bretagne (waar die urn met die as van sy moeder begrawe is); Villa Elhorria in Biarritz in die Franse Baskeland; Le Mée, 'n Franse herehuis uit die 1740's wat hy later aan sy vriendin prinses Caroline van Monaco verkoop het; Villa La Vigie in Monte Carlo met drie verdiepings wat in 1902 vir Sir William James Ingram (1847−1924), uitgewer van die Illustrated London News gebou is en vanaf die 1990's tien jaar lank in Lagerfeld se besit was[31]; en 'n huis in die Amerikaanse Greek Revival-styl van die 1850's in Grand Isle, Vermont, geleë op 'n eiland in die Champlainmeer. Soms het hy die binneargitektuur, meubilering en versierings van sy wonings laat fotografeer en in koffietafelboeke gepubliseer; soms is fotosessies vir nuwe modereekse daarin gehou.[32]
Tussen 1991 en 1998 was Lagerfeld die eienaar van 'n statige Hamburgse villa met 'n woonopervlakte van 443 m2 wat aan die Elbe-oewer in die welvarende voorstad Blankenese geleë was en 'n uitsig oor die rivier gebied het. Die erf het 12 000 m2 beslaan. Die villa is oorspronklik in 1920 met slegs een verdieping deur die argitek Walther Baedeker as woning vir die skeepsversekeraar Hermann Witte ontwerp. Die tweede eienaar, die advokaat Alfred Schüler, het die huis, wat vervolgens as Villa Schüler bekendgestaan het, laat vergroot.
Lagerfeld het die neoklassisistiese villa in die Romeinse styl vanaf 1991 laat renoveer en verfraai, onder meer met 'n sentrale atrium met 'n hoogte van agt meter, 'n glaskoepel en 'n galery, onder meer om 'n nuwe eau de toilette vir mans, Jako, hier in 1997 bekend te stel. Die huis is vervolgens - net soos die eau de toilette - ter ere van Lagerfeld se wyle lewensmaat Jacques de Bascher Villa Jako genoem. Met Villa Jako het Karl Lagerfeld in boukuns begin belangstel en sy eerste argitektoniese werk, waarin hy die huis met foto's gedokumenteer het, gepubliseer.[33][34]
In enkele gevalle is daar in die media berig oor Karl Lagerfeld se grootmoedige skenkings. Toe hy verneem het dat die ouers van 'n vlugtelingkind 'n dringende operasie nie kon bekostig nie, het die modeskepper die koste daarvoor as anonieme skenker geborg. Nadat sy gunsteling-haarkapster haar werk verloor het, het hy vir haar haar eie haarsalon gekoop.
Jotus karllagerfeldi is 'n weefspinnekop-spesie (Araneae) wat inheems aan Australië is en tot die familie van springspinnekoppe (Salticidae) behoort en in 2019 vir die eerste keer beskryf is. Die spesie se groot swart oë het navorsers aan Karl Lagerfeld se donker sonbril herinner, terwyl die spinnekop se wit hare vir hulle soos die modetsaar se wit Kentkraag lyk. Die swart bene is met Lagerfeld se swart handskoene geassosieer.[35]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.