voorheen Panthera pardus melanotica, word tans nie erken nie,[2] soms verkeerdelik geklassifiseer Leopardi capensis From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Kaapse luiperd (voorheen Panthera pardus melanotica, word tans nie erken nie,[2] soms verkeerdelik geklassifiseer Leopardi capensis[3]), voorheen bekend as die bergtier of tier,[4][5][6][7][8] word beskou as die hoofroofdier van die Fynbosstreek.[9] Daar bestaan nogal heelwat gesprekvoering oor die aantal subspesies van die luiperd. Die Kaapse luiperd is 'n subspesie van die luiperd (Panthera pardus) "in wording": navorsing word nog gedoen om vas te stel of hierdie luiperd inderdaad voldoende geneties verskil om as 'n subspesie verklaar te word. Die Kaapse luiperd is baie kleiner as die gemiddelde Afrikaluiperd en daar is nie baie van hom oor nie. As hierdie luiperd die subspesiestatus sou kry is die afdwing van beter beskerming moontlik. Nou is dit lastig omdat hierdie luiperd vandag slegs as nog 'n 'gewone' luiperd beskou word en dus (nog) nie bedreig genoeg geag word vir enige daadwerklike aandag nie.[2]
Kaapse luiperd | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | |
Trinomiale naam | |
' Günther, 1885 | |
Sinonieme | |
P. p. melanotica (uitgedien) |
Volgens die Afrikaanse Kinderensiklopedie word die verspreidingsgebied in 1959 so verwoord: [10]
Hierdie luiperdsubspesie is vandag te vinde in die uitgestrekte Kaapse Plooiberge. Die klimaat in hierdie gebied is wisselvallig; die somertemperatuur is tussen 22 en 25 ºC, maar die kwik kan tot 40 ºC styg. Die wintertemperatuur is tussen 7,5 en 15 ºC, waar sneeu nie ongewoon is nie. Die reënval is in die gebied ook baie uiteenlopend. Die bebossing verskil van die droë, lae plantegroei tot digbeboste klowe wat goeie skuilplek bied. Die luiperdbevolkingsdigtheid is plusminus 25 luiperds per 3 000 km².[2]
Na raming was daar in 2014 minder as 500 luiperds in die hele Wes-Kaap oor. Volgens Martins (2011) se navorsing in die Sederbergstreek beslaan die luiperd se tuisgebied 'n veel groter reikwydte (tussen 235 km² en 600 km²) as wat voorheen bereken is. Daarom heers daar oor die algemeen 'n laer bevolkingsdigtheid as wat voorheen vasgestel is. Die beskikbaarheid van water lei egter tot 'n effens hoër bevolkingsdigtheid in die natter fynbosstreek aan die westelike Sederbergwildernisgebied asook in die Bolandberge. Meer luiperds is hier saam in kleiner tuisgebiede in dieselfde area gekonsentreer. Die luiperds het geen vaste lêplek of grot in hul territorium waarna hulle terugkeer nie, maar is voortdurend aan die beweeg: hulle patrolleer hul gebied konstant, soek na kos en maats om mee te paar.[9]
Die Kaapse luiperd se verspreidingsgebied is aansienlik groter as die luiperd in die Krugerwildtuin. Ter vergelyking:[2]
In 2014 was daar na raming nog tussen 9 en 14 luiperds in die Overbergstreek oor, soos geskat volgens die data van kameras wat in die gebied opgestel is. Vroeër het daar tussen Botrivier en Kaap Infanta veel meer luiperds voorgekom, maar die diere moet nou slegs in kleiner tuisgebiede oorleef. Weens hierdie geïsoleerde leefruimtes waar die Kaapse luiperd moet oorleef, raak dit baie moeiliker om by ander tuisgebiede uit te kom, en bemoeilik ook so sake om 'n moontlike maat te kry om mee te paar. Hierdeur is die kans groot dat die gene van hierdie unieke luiperds dermate sal verswak, wat hul voortbestaan bedreig.[11]
Die Kaapse luiperd bevind hom ook in die Klein-Karoo. Die Cape Leopard Trust het 64 kameravalle oor omtrent 2 000 km² opgestel. Hierdie gebied sluit bewareas soos die Swartberg-, Gamkaberg-, Ruiterbosnatuurreservaat, asook plase en gemeenskapsgrond in. Die span het in 2022/2023 deur meer as 87 000 foto's met behulp van WildID gesif. By 47 van hierdie 64 kameravalle is luiperds afgeneem. Uit die duisende foto's kon 37 unieke luiperds sodoende uitgeken word. Daarbenewens is erdvarke, erdwolwe en talle voëlspesies afgeneem.[12]
Aanvanklik was die Kaapse luiperd deur Albert Günther (1885) as 'n afsonderlike subspesie, Panthera pardus melanotica (vroeër wel Felis pardus melanotica), ingedeel, maar hierdie ressortering het weens genetiese toetse verouderd geraak. Die Kaapse luiperd word vandag, soos al die luiperds op die Afrika-vasteland, wetenskaplik benoem Panthera pardus pardus. Onlangse navorsing, soos dié van Martins (2006), toon egter dat die luiperds in die Wes-Kaap geneties afwyk van dié in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga en daarom as 'n afsonderlike groep beskou moet word. Nie alleen verskil die genetika nie, maar ook die liggaamsbou: die Kaapse luiperd is kleiner en die massa die helfte minder as dié in die Nasionale Krugerwildtuin.[9]
As mens na die grootte van die Afrikavasteland kyk, is dit vanselfsprekend dat die Afrikaluiperd deur diverse subspesies verteenwoordig word wat sowel in grootte as erflikheid met mekaar sal verskil. Die Kaapse Luiperd-trust, 'n organisasie sonder winsbejag wat hul beywer vir die beskerming van die Kaapse luiperd, het opgemerk dat daar 'n verskil is tussen die luiperds wat in die suidelike deel van Suid-Afrika voorkom en luiperds wat meer in die noorde van land bly.[2]
Die Kaapse luiperd is 'n bietjie kleiner en ligter as die bekende Afrikaluiperd. Dit kan op foto's goed opgemerk word. Die wyfies se massa is gemiddeld 20 kg en die mannetjies s'n 35 kg (die mannetjie van die gewone Afrikaluiperd kan tot 90 kilogram weeg en die wyfie 60 kilogram). Die Kaapse luiperd is dus aansienlik kleiner as die gewone Afrikaluiperd. Sy beharing is ook dikker. Hierdie geringe grootte maak nie soseer van hom 'n bedreiging vir die mens nie; die luiperd verkies in elk geval om kontak met die mens te vermy.[2]
Wat vreemd opval van die voormalige wetenskaplike benaming is melanotica, wat "swart-" of "melanisties" beteken. Hierdie melanotica moet egter nie met die volgende verwar word nie: Vroeër was die "swart variëteit" (d.w.s. swartluiperds) van Soematra en Java as 'n afsonderlike spesie gesien en as Felis melas beskryf, maar sedert die mens meermale swart en gevlekte welpies in dieselfde werpsel gevind het, het hierdie spesie-onderskeiding natuurlik verval.[13] Daar is ook meestal geglo dat hierdie kleurafwykings hoofsaaklik beperk is tot Soematra, Java, Malakka, Suid-Indië en Abessinië (Ethiopië).[14] Dit is wel interessant dat Hemmo Bos (1889) in sy Het leven der dieren iets van die "Soendavorm" (Soenda was 'n koninkryk in die weste van Java) in die Kaapse luiperd raaksien.[15] Die totstandkoming van die Kaapse luiperd se wetenskaplike naam loop heelwat kronkeldraaie.
In 1883 word 'n vreemde swartluiperd in die Grahamstadomgewing gevind. Die dierkundige, plantkundige en vlinderkenner, Roland Trimen, bespreek hierdie merkwaardige vonds, maar behou die destydse naam van die gewone luiperd: Felis pardus.[16] In die jare daarna sou nog drie swartluiperds opgeteken word.[17]
In 1885 neem Albert Günther die pels van 'n tweede eksemplaar wat omtrent 64 km van Grahamstad in 'n heuwelagtige en digbeboste streek van kant gemaak is onder die loep, en bedink dit kan 'n melanistiese variant in eie reg wees. Hy het by navraag verneem die gewone luiperd kom algemeen in hierdie geweste voor, die jagluiperd is seldsaam, en dat die leeu hier al vir 'n geruime tyd uitgesterf het.[18]
Hy toon hoe hierdie spesifieke luiperd van die gewone luiperd verskil:
Die eksemplaar se grondkleur is geelbruin met 'n ryk oranje glans by die skouers. Van die rosette het slegs enkele beduidend oorgebly, naamlik by die dye, waar twee op die regterkant sigbaar is, terwyl ander 'n onreëlmatige patroon op die linkerdy vorm wat saamvloei. Die hele rug lyk swart, wat op sy felste bokant die lendestreek vertoon. 'n Paar swart vlekke op die bolip, 'n opvallende liggeelrandige swart vlek bokant elke oog en 'n groot swart vlek op die agterkant van die oor stem ooreen met die gewone luiperd s'n. Die stert wyk egter merkwaardig af – dit is die eerste tweederdes rooigeel, waarna dit geleidelik vaalgrys word. Die hele stert is gespikkel met baie piepklein en skerp afgebakende vlekke; die stertpunt is swart. Net soos by die gewone luiperd is die ken, bors, pens en binnekant van die bene wit met groot swart vlekke. Die snorbaarde en kloue is wit, die hare tussen die kussinkies is swart. Die pelshare is omtrent die gewone lengte, met 'n baie dik onderpels op weerskante van die lyf.[18]
Die mates van die pels lyk soos volg: die kop en liggaam is 1,2 m lank; die stert 0,76 m, die rughoogte (hier die afstand tussen die ruglyn en die tone) 0,76 m.[18]
Hierdie vreemde afwyking wil Günther aan die een kant beskou as 'n kruising tussen 'n luiperd en 'n ander groot kat, soos 'n jagluiperd of 'n afgedwaalde Afrikaleeuwyfie. Die pelskleur en haarlengte lyk op dié van die leeu, maar ander leeukenmerke (wat liggaamsbou betref) ontbreek. Die Afrikaleeu het dikwels 'n baie donker rugstreek, lang hare met 'n min of meer intense swart kleur, asook helder grondkleurige skouers. Van hierdie luiperdhare van hierdie spesifieke eksemplaar stem onder die mikroskoop wel ooreen met dié van die gewone luiperd. Tog lyk hierdie hare bykans identies met die leeu s'n, al is dit 'n bietjie dunner.
Aan die ander kant kom swartluiperds algemeen voor in Asië, hoewel hierdie Asiatiese luiperds se pelskleur en vlekke meer eweredig versprei en die vlekke duideliker is. Günther kom tot die slotsom: Nietemin, met inagneming van alle omstandighede, het ek geen beter mening om te bied as dit nie, dat die eksemplaar 'n voorbeeld is van beginnende melanisme – die eerste verskyning van die melanotiese neiging wat so sterk ontwikkel is by Asiatiese individue van hierdie wydverspreide spesie.[18]
In Sclater (1900) se The Fauna of South Africa word hierdie soort luiperd as 'n "swartgespikkelde" variant van F. pardus beskou. Enkele bladsye later word dit wel duidelik gestel dat hierdie vreemde soort swartluiperds nie as 'n afsonderlike spesie of afsonderlike luiperdras beskou moet word nie, omrede "tussengangers" met 'n minder ekstreme patroon- en kleurafwyking heel dikwels voorkom. Daar word ook 'n effense verskil uitgelig tussen die Suid-Afrikaanse en Asiatiese swartluiperds: by die Asiatiese swartluiperd verdonker die grondkleur en die swart rosette se oorspronklike vorm bly behoue. By die Suid-Afrikaanse swartluiperd brei die vlekke tot so 'n mate uit dat hul uiteindelik saamsmelt.[19]
Volgens Lydekker (1908) se The Game Animals of Africa is daar weinig indien enigiets bekend omtrent die luiperds in Suid-Afrika, met die uitsondering van Günther se omskrywing. Omrede "gewone luiperds" in dieselfde area as die swartluiperds voorkom, lyk hierdie kleurskakering min of meer abnormaal en eerder gelykvormig aan die swartluiperds van Suidwes-Asië. Sou hierdie Suid-Afrikaanse afwykings 'n afsonderlike plaaslike ras wees, kan die naam F. pardus melanosticta (sic) gebruik word.[20]
J.A. Allen (1924) glo hierdie 'variant' is uniek dwarsoor die hele Kaapprovinsie (by name Felis leopardus var. melanotica), selfs al is hierdie dier in sy melanistiese fase in Grahamstad, Kaapkolonie gevind. Al rede wat hy verskaf: [dit] is beskikbaar vir die vorm van die Kaapse streek, wat in grootte en karakter van die pels van die meer noordelike tropiese vorms verskil.[21]
1932: R.I. Pocock stel 'n opsomming saam van die bevindings omtrent hierdie luiperd. Tot nou toe was die tipiese en enigste opgetekende tuisgebied van hierdie "tipe" naby Grahamstad.
Uit die tipiese voorbeeld wat in die Britse Museum (no. 85.2.28.1) onder bewaring is, is die pels sag en glad, maar verdik met onderwol. Die rosette is oraloor verbrokkel in veelvoudige piepklein vlekkies of spikkeltjies en so nou aan mekaar gespasieer dat die diep, okeragtige skynsel van die tussenruimtes verdonker word. Net so is ook die soliede vlekke gebroke. Hier en daar kan die ryke grondkleur geëien word; veral aan die sykante van die nek, die skouers, die buitekant van die voorbene en aan die bokant van die stert waar die swart spikkels nie so maklik opgemerk kan word nie. Die spikkels kom sterker en verdig op die rug na vore, vanaf die kroontjie tot by die lendene, sodat hierdie deel (veral die rug en die lendene) in alle opsigte swart vertoon. Die kleur en patroon op die wange en die sykante van die nek is soos 'n gewone luiperd s'n. Die nek, die binnekant van die bene en die agterkant van die pens is wit (en met kolletjies bedek). Die voorste gedeelte van die pens wat by die bors aansluit lyk dof- of liggeel afgewit. Die vel (wat geslagloos en moontlik onuitgerek blyk te wees) se mates is soos volg: die kop en lyf is 1,2 m lank; die stert is 0,7 m lank (hoewel gebrekkig aan die punt); altesaam 1,9 m Hierdie pels is aan die Britse Museum deur F. Bowker versend en dra die etiket: "64 km noordoos van Grahamstad."[16]
'n Tweede eksemplaar van Collingham naby Grahamstad (N. Abraham, B.M. no. 86.7.15.1) is veel donkerder as die vorige. Die rug en flanke is heeltemal swart en die vaal grondkleur is oral meestal doodgekleur. Die buitekante van die dye toon 'n sigsag-patroon van samevloeiende soliede vlekke wat kontrasteer met die wit tussenruimtes. Die wange, keel, pens en binnekant van die bene is wit. Die pels is 'n bietjie langer, maar sag en glad en nie grof nie.[16]
'n Derde eksemplaar van Grahamstad word uitgebeeld in die werk van W.L. Sclater (kyk na beeld regs). Pocock veronderstel hierdie eksemplaar kan nogal lyk op die een van Collingham. Daarteenoor was die eksemplaar wat deur Trimen aangeteken is soortgelyk aan die een wat deur Bowker ingestuur is. Hierdie derde eksemplaar dra die etiket: "Bucklands, near Koonap".[16]
Pocock beskou die eksemplare sonder twyfel as mutasies. Volgens die bewyse is (of was) hierdie mutasies slegs op een plek dominant. Omdat hy nie ander luiperdvelle uit Grahamstad kon kry en ondersoek nie, dink hy dit sou beter wees om eerder die naam melanotica slegs tot Grahamstad en omgewing te beperk en nie die hele bevolking luiperds uit die Kaapprovinsie te betrek soos Allan dit wel voorgestel het nie.[16]
1939: Felis leopardus var. melanotica (Kaapse luiperd) is ook opgeneem in A checklist of African Mammals van Glover Morrill Allen en verwys spesifiek na die eksemplare van die heuwels 40 myl vanaf Grahamstad, maar ook die Kaap die Goeie Hoop.[23]
1953: Ellerman, Morrison-Scott and Hayman neem aan die hele Afrika word deur één inheemse luiperdspesie bewandel. Hulle deel luiperds van grotendeels Suider-Afrika, P.p. leopardus (bewoude Wes-Afrika en Nigerië), P.p. shortridgei (Angola en Damaraland), P.p. puella (Kaokoveld, suidwestelike Afrika) en P.p. melanotica (vanaf die Kaapkolonie tot Suid-Rhodesië) saam in een groep en beskou hierdie groep as identies met die luiperd in Egipte tot Tanganjika (P. p. pardus).[24]
1966: Die Tsjeg, Luděk J. Dobroruka, (in sy artikel Ein Beitrag zur Kenntnis südafrikanischer Leoparden, Panthera pardus (Linnaeus, 1758)) beskou die Grahamstad-luiperd wat deur Günther omskryf is nie as 'n subspesie nie, maar 'n melanistiese mutasie.[25]
1995: Sriyanie Miththapala, John Seidensticker and Stephen J. O'Brien voer aan hul DNS-analise van Afrikaluiperds bied genoeg rede om die hele klassifisering van die subspesies te hersien – alle luiperds in Afrika behoort tot een en dieselfde subspesie. Die Afrikaluiperds onderskei hul duidelik van die ander luiperdbevolkings buite Afrika. Maar verskille binne Afrika is afwesig: daar is ooreenkomste wat betref gedeelde allele vir allosieme, gedeelde mtDNS-haplotipes en gedeelde fragmente in die DNS-vingerafdrukke. Ontleding van die skedeleienskappe (uit 'n vorige studie van 1992) kon ook nie beduidende verskille onder die Afrikasubspesies uitwys nie. Alles in ag genome word daar voorgestel dat die luiperdbevolkings in Afrika onder een drienamige wetenskaplike naam ingedeel moet word: Panthera pardus pardus. Die tabel op bl. 1118 van die artikel toon egter dat nie 'n enkele monster van die Kaapse luiperd (kodenaam MEA) opgespoor of getoets is nie.[26]
2001: 'n Opvolgstudie deur Uphyrkina, Johnson, Quigley, Miquelle, Marker, Bush en O'Brien laat ook die Kaapse luiperd uit hul navorsing. 'n Nuwe bevinding deur proefnemings te doen op wilde Marokkaanse, Namibiese, Botswana-, Krugerwildtuin- en Zimbabwese luiperds, dui nou dat die Afrikaluiperds onder mekaar op grond van mtDNS die meeste verskil as enige luiperdgroep wêreldwyd en sodoende 'n baie hoë diversiteit het.[27]
November 2015: Volgens die National Geographic word die Kaapse luiperd steeds nie as 'n afsonderlike subspesie erken nie, al is hierdie luiperds kleiner gebou as dié in die savanne.[28][29]
Die Kaapse luiperds is nie kieskeurig wat voedsel betref nie en het 'n diverse dieet waarby die prooigrootte enorm verskil. Daar word hoofsaaklik klipdassies en klipspringers gevreet. Hierdie twee prooidiere vorm 60% van al die prooi. Die ander prooidiere is ander boksoorte en ystervarke. Soms word vis, reptiele en insekte en baie selde ook bobbejane gevang. By laasgenoemde is die luiperd eintlik te klein.[2]
Die Kaapse luiperds sal ook krieke, akkedisse, knaagdiere en hase vang, maar ook ystervarke en selfs hoefdiere so groot soos die eland. Die dieet wissel na gelang wat en hoeveel die onmiddellike habitat bied: in die Boland, Sederberg en Gamka word die klipspringer en klipdassie die meeste gevreet, terwyl die ystervark en die Kaapse grysbok aansienlik meer in die Boland gevang word. Die Kaapse luiperd vreet selde bobbejane, grootliks omrede die luiperd te staan kom voor die tropbeskerming, ratsheid en lang slagtande wat in Kees se guns tel. Al kruis die bobbejaan en luiperd se paaie mekaar heel dikwels, sal die bobbejaan liefs die luiperd vermy. Volgens die provinsiale voedselopname beslaan die bobbejaan slegs 5% van die luiperd se dieet.[9]
Eeue gelede het die luiperd in die Wes-Kaapgebied om prooi meegeding met leeus, wildehonde, jagluiperds en hiënas, maar laasgenoemde drie het in die gebied heeltemal uitgesterf. Die luiperd het deur sy aanpasbaarheid en skuheid hom na die berge teruggetrek en sodoende 300 jaar van habitatverlies en verdelging oorleef. Om hierdie rede is die luiperd vandag die Wes-Kaap se hoofroofdier.[9]
'n Werpsel bestaan uit 2 of 3 welpe. 'n Ervare wyfie kan elke 18 maande tot 2 jaar 'n werpsel grootmaak. Die sterftesyfer van die welpies is wel hoog (ten minste 50%, maar waarskynlik hoër), veral in die eerste paar lewensmaande. Die ouer welpies sterf dikwels in die territoriale gevegte met ander volwasse mannetjies. Totdat 'n luiperdmannetjie omtrent 4 jaar oud is, moet hy hom tussen die tuisgebiede van ander volgroeide en dominante mannetjies handhaaf deur so min as moontlik op te val. Die wyfies kan reeds op 3 jaar voortplant.[2]
Binne sy tuisgebied speel die luiperd 'n belangrike rol om die ekostelsel gesond te hou. Eerstens word meegeding met die kleiner mesoroofdiere, soos die rooikat en rooijakkals, en tweedens word soms op ander karnivore, soos die bakoorjakkals, muskeljaatkat, maanhaarjakkals en jagluiperd, jag gemaak. Luiperds is roofdiere wat aas voortbring waarop aasdiere teer. As luiperds uit die ekologie geneem word of aansienlik verminder, sal die aasdiere die plek van die roofdiere inneem en self roofdiere word, wat op hul beurt ook ander (kleiner) roofdiere deur hul dominante en toenemende getalle bedreig.[30]Derdens weer die luiperd siek en swak diere uit die ekostelsel, verhoed sodoende verspreide siektes en beskerm die voortbestaan van diere met 'n sterk en gesonde genetika. Sou hierdie hoofroofdier uit die omgewing gehaal word, verlig dit die druk op die kleiner roofdiere aansienlik, wat skielike bevolkingsontploffing van hierdie middelslagroofspesies tot gevolg het. Dit het op sy beurt weer 'n nadelige uitwerking op die prooidiere, maar so ook die kleinvee. Uit "weerwraak" oor laasgenoemde word dikwels enige roofdier dan voor die voet verdelg, wat opnuut die hele biodiversiteit van die omgewing versteur.[9]
Die Kaapse luiperd is nie op die Rooilys van die IUBN of een van die CITES se bylae vermeld nie. Die luiperd as gehele spesie word aangegee as Byna bedreig in die IUBN-rooilys, Bylaag I.[2] Die Kaapse luiperd is nog nie 'n erkende subspesie nie en meer ondersoek moet nog duidelikheid verskaf sodat hierdie luiperds ook goed beskerm kan word. Natuurlike bedreigings by veral die welpies is roofvoëls (arende), slange, siektes en ondervoeding. By volgroeide luiperds kan deurgesteekte ystervarkpenne wat ontsteek uiteindelik dodelik wees. Luiperds sal ook dikwels tot die dood baklei vir 'n goeie territorium.[2] Hoewel hierdie diersoort aanpasbaar is en wydverspreid voorkom, word die voortbestaan van sekere bevolkings oor die algemeen bedreig deur habitatverlies, habitatversnippering, jag om handelsdoeleindes en verdelging.[9] Die ongekontroleerde (onwettige) jag en habitatverlies se oorsake is dikwels te vinde in verouderde metodes van veebestuur.[2]
In die Wes-Kaap staar die luiperd die volgende bedreigings in die gesig:[9]
Bogenoemde probleme kan opgelos word deur die inheemse plantegroei te behou; permanente en trekarbeiders die belang van biodiversiteit te leer; die aanmelding van onwettige jag en strikke wat gestel is; brandpaaie te onderhou en indringerplante uit te roei; natuurlike prooidiere van die luiperd volhoubaar te beskerm en beweeglikheid in en oor die erwe, landgoed of landbougrond toe te laat.[9]
In die Oos- en die Wes-Kaap is daar ondertussen navorsing gedoen omtrent die gene. Uit 40 monsters is bepaal tot watter mate die diere verwant is (wat dus migrasie en wisselwerking aantoon). Die luiperds in die Overbergstreek sukkel om nuwe bloed te kry. Een voorgestelde oplossing is om meer natuurgebied vir hierdie diersoort vry te maak, maar juis die omgekeerde is bereik: slegs 20% van die Overberg is nog beskermde natuurgebied. Die ander oplossing, sonder om voedselsekerheid in te boet, is om vrye beweegruimte vir die dier op die Overbergse plase en ander landgoed toe te laat.[11]
Van Riebeeck se Daghregister Deel I en Deel II maak gebruik van onderskeidelik tijger, luperts en lupaerts. Hoewel in die voetnota staan Onder ‘tijgers’ moet hier luiperds verstaan word, en nie tiere in die regte sin van die woord nie. Elders in die Dagverhaal word daar egter ook wel van ‘luperts’ of ‘lupaerts’ gepraat. Vgl. bv. 1 en 12 Junie 1655, verklaar dit nie waarom luperts en tijgers in "dat de luperts, leeuwen off tijgers geen quaet aen de koebeesten hebben cunnen doen" van mekaar onderskei word nie.
Op Sondag, die 2de Mei 1655, skryf Jan van Riebeeck in sy dagboek dat twee luiperds daardie nag ses van hul Hollandse skape in die stal doodgebyt het, in die teenwoordigheid van die twee persone wat daar gewaak het. Daar is verskeie gate deur die stal se sooimuur (wat omtrent twee voet dik was) gebreek, waardeur hulle uitgekom het, sonder dat die wagters hulle kon keer. Die aand het die luiperds ook by die hoenderhok ingebreek en die Kompanjie se enigste 3 ganse wat hul oorgehad het die nek afgebyt. Die persoon wat hul probeer uitjaag het is erg in die arm gebyt. Van Riebeeck vermoed dat hierdie wilde gediertes hulle meermaal in die reëntyd gaan begin kwel.
Op 1 Junie 1655 was daar weer 'n luiperd in die hoenderhok deur die nalatigheid van die hoenderwagter, wat die gat onder die deur, waar die hoenders in- en uitgaan, oopgelaat het. Sodoende het dieselfde dier weer 3 van hul 5 ganse (wat deur die Heer Van Goens geskenk is om aan te teel) doodgebyt. Om die luiperd te vang of dood te maak, het die stalkneg en die sieketrooster (sieckenvaer) die hoenderhok binnegegaan. Die sieketrooster, Willem Barentszoon Wijlant, het op die luiperd geskiet en rakelings gekwes, waarna die dier op hom gespring, die kloue in sy kop geslaan en hom terseldertyd in die arm gebyt het. Wijlant was genoodsaak om die luiperd los te laat. Die stalkneg het ook ligte hoofbeserings opgedoen, maar die sieketrooster, wat al voorheen met luiperds in soortgelyke omstandighede te doen gehad het, het ernstige bytwonde opgedoen. Van Riebeeck vind dit merkwaardig hoe die beeste in die nabygeleë kraal saam 'n halfmaan met hul horings gevorm het, in die rigting van die hoenderhok se deur, sodat die luiperd omtrent uit die beeste se horings moes bly en ontvlug.
Op 12 Junie 1655 het die Khoi-Khoin die koloniste versoek dat 'n soldaat of twee moet saamkom om 'n sekere wilde dier wat onder hul vee verwoesting saai van kant te maak. Hierdie versoek is toegestaan en 'n sersant met drie of vier soldate is saamgestuur. Daar by die duine aangekom, het die Khoi-Khoin met assegaaie in die hand die dier in die bosse vasgekeer, maar het self 'n veilige afstand behou. Hulle het hul assegaaie in die bosse gewerp, maar het die dier net een keer in die been raakgegooi. Die sersant het met die eerste skoot die groot luiperd met sy snaphaan in die nek geskiet. Die dier het morsdood op die grond geval. Van Riebeeck skryf die Khoi-Khoin het in verwondering gestaan hoe vinnig so 'n dier gedood kon word. By die nadoodse ondersoek in die fort is vasgestel dat hierdie knewel se regterbeen nog vars deur 'n koeël aan stukke geskiet is. Van Riebeeck het dus aangeneem dat dit dieselfde luiperd moes wees wat die sieketrooster aangeval het, en skade aan hul skape, bokke, ganse en eende berokken het.
Teen 17 Junie 1656 was die koloniste nou al dik oor die Kompanjie se veeverliese deur roofdiere. Die probleem is opgelos deur 'n beloning uit te loof: voor een leeuw die gevangen off geschoten wordt 6, een tijger off wolff 4, ende een lupert 3 ra. van 8en, sijnde den wiltschut voor eerst betaelt 2 cannen Spaense wijn, 3 lb. tabacq ende 2 realen van 8en.
Vyf weke later, op die 23ste Julie 1656, bring een van die bosvolcq (bosarbeiders van die Kompanjie) 'n luiperd terug wat hy naby die koringland by Ronde Bosjen[33] geskiet het. Hy is daarvoor, volgens die resolusie van 17 Junie 1656, met 3 agtreale beloon.[34] By die besoekende skeepslui was 'n "agtreaal" bekend as reaal van achten; 'n agtreaal is één silwermunt ter waarde van 8 reaal (Spaans: real de a ocho of real ocho) en is aangedui met die teken /8/.[35]
François Valentijn teken in Deel II die inheemse Khoi-benaming vir die Kaapse luiperd (tijger) aan: Tquassouw, of Tkuussomo. In 'n voetnota van R. Raven-Hart word gestel die uitspraak is blykbaar onvas, want in Griekwa is dit xoasao-b, en in Nama: /garu-b.
Daar word uit die historiese bronne oor die algemeen aanvaar dat die luiperd voorheen dwarsoor die hele Kaapprovinsie (wat vandag Noord-Kaap, Wes-Kaap en Oos-Kaap insluit) voorgekom het. Vanaf 1652 is die luiperds voor die voet doodgeskiet en reeds voor die einde van die 19de eeu in groot dele van die Karoo en Suidwes-Kaap uitgewis.[36]
Tussen 1947 tot 1955 alleen is 821 luiperds van kant gemaak. Daar was tweëerlei redes hiervoor: ten eerste was die beloningstelsel nog van krag en ten tweede was die boere deur die ou "Ordonnansie op die Uitroei van Ongedierte" verplig om die luiperd as pesdier op hul plase van die gras af te maak. Die luiperdbevolkings in die Noord- en Oos-Kaap het dus aansienlik verklein.[36]
Teen 1957 is die ou provinsiale beloningstelsel afgeskaf. Die wêreldwye besorgdheid oor die bewaringstatus van die luiperd het meegebring dat die luiperd in 1974 (die Ordonnansie op Natuurbewaring, no. 19 van 1974) tot Beskermde Wilde Dier in die Kaapprovinsie verklaar is. Die dier mag in die 1980's dus nie sonder 'n permit van die Hoofdirektoraat: Natuur- en Omgewingsbewaring gejag word nie. In die meeste gevalle kon die boer die luiperdprobleem telefonies aanmeld, die personeel van die Hoofdirektoraat sou die probleem ondersoek en indien die beampte bevind dat 'n luiperd genoeg skade aangerig het, kon 'n jagter of jagklub of die boer self die verlof toegestaan word om van die probleemluiperd ontslae te raak. Dit geskied deur die permitafdeling wat in kennis gestel is; die permit is dan vir 1 tot 3 maande geldig, met die naaste natuurbewaringskantoor wat dienooreenkomstig in kennis gestel word sodra die dier gedood is.[36] Die dier en die vel was egter nie die eiendom van die boer of jagter nie, maar dié van die Hoofdirektoraat. As die boer graag die luiperdvel wou hê, moes hy binne 'n maand sedert die vangdatum skriftelik daarvoor aansoek gedoen het. Die Hoofdirektoraat kon hierdie aansoek goedkeur of afkeur. Die luiperdvel kon nie na iemand anders oorgedra word nie, en die handel van luiperdvelle is ten strengste verbied.[36]
In 'n boekie uit omstreeks 1986 is die publiek ingelig rondom die navorsing wat oor die luiperd in die Kaapprovinsie gedoen is, en om die beleid ten opsigte van die luiperdbewaring te verduidelik. In die 1980's was dit nog "amper onmoontlik" om te bepaal hoeveel luiperds daar werklik in die hele Kaapprovinsie oor was. Daar word in die boekie onder meer gekyk na die tuisgebiedgroottes, die dag-en-nag-bewegings (alles met radio-antennes en radiohalsbande opgeteken) en die dieet.[36]
Die bewerings dat die luiperds in die wintermaande laer teen die berge af beweeg en tot groter veeverliese in die winter lei, kon nie gestaaf word nie. Dié bewering herinner wel ontsettend baie aan 'n soortgelyke storie van die wolf, in Nederland, wat in die hartjie van die winter ook in die rigting van dorpies en stalle sal trek as die voedsel skaars was, op soek na iets te ete, soos ook uit die ou Nederlandse naam vir Januarie, wolfsmaand, afgelei kan word. Dit is hier waar die trop wolwe met gloeiende oë op die loer was na buit.[37] Volgens die boekie is daar egter uit die 258 mismonsters slegs 2 wat die oorblyfsels van vee bevat het. Die luiperds in die hoër berggedeeltes het dus hoofsaaklik van hul natuurlike prooi geleef wat in die berge beskikbaar was.[36]
Belangrik: die luiperd sal nie sommer bobbejane aanval en vreet nie, maar hul teenwoordigheid oefen steeds 'n groot invloed op die bobbejaangedrag uit: die bobbejane se teenwoordigheid word beperk tot die kranse. Sou die luiperds uitgeroei word, kan dit tot groter probleme lei met dassies ('n knaagdier) en bobbejane, waarsku die boekie.[36]
In die vier navorsingsgebiede (Cederberg, Gamkaberg, Jonkershoek en Wemmershoek) is die luiperdprooi: dassies, wildsbokke, wilde huisvarke (wat verwilderd geraak het en hul eie koers kies), rotte en muise en tot 'n baie, baie mindere mate bobbejane.[36]
Die Hoofdirektoraat van die Natuur- en Omgewingsbewaring van die Kaapprovinsie is egter nie blind vir die veeverliese van die boere nie, en sien die noodsaaklikheid in dat die grondeienaar ook in ag geneem moet word. In die Kaapprovinsie tel die veeverliese vanaf 1977 tot 1985 gemiddeld 620 per jaar, terwyl die luiperd wat kragtens die permitstelsel doodgemaak is op gemiddeld 26 per jaar te staan kom. In die meeste gevalle was die probleemdier hier ter sprake 'n gesonde, volwasse luiperdmannetjie.[36]
Laastens word die bewaringstrategie in die boekie bespreek, sodat sowel die boer as die luiperd voordeel kan trek:[36]
Die grootste probleem is die natuurlike habitat en verspreidingsgebied wat afgeneem het; te min luiperds word werklik binne die reservate beskerm (d.i. die lewe en dood van die luiperd is in die hande van die boer); daar heers wêreldwye besorgdheid oor die bewaringstatus van die groot roofdiere; luiperds maak 'n integrale deel van die bergekosisteem uit; genetiese studies bevind 'n minimumbevolking van 300 diere is nodig om hul gesonde langtermynoorlewing te verseker (en hoe meer, hoe beter). Die verplasing van luiperds wat eers vee geroof het na 'n ander gebied is selde geslaagd – en moet van kant gemaak word. Luiperdwerende heinings is in sommige gebiede opgerig, maar dit is onprakties en onwenslik om alle bergreservate in die provinsie te isoleer.[36]
Sekere kerngebiede moet uitgesonder word waar jag so min moontlik gehou moet word, met die omliggende gebiede waar luiperds wel uitgedun mag word, maar nie verhinder mag word om van een kerngebied na die ander te beweeg nie (die sogenaamde deurgangsgebiede of -roetes). Op hul beurt moet boere besef dat die bergveld, die luiperd se habitat, se waarde as weiding nie altyd realisties is nie. Die boere moet ook nie te veel kleinwild of dassies skiet nie, want op sy beurt sal die boer die luiperd noop om vee te vang. Laastens, as 'n luiperd toevallig gewaar word, moet die boer nie oorreageer nie en die dier gewoon met rus laat. Is daar skade, moet Omgewingsbewaring gebel word, is geskryf.[36]
Gerald McCann (1937–2015) laat in 2000 'n boekie verskyn, The Leopard Man of Oudebos: a tale of Kogelberg, wat in dieselfde jaar in Afrikaans vertaal word deur Johan Dormehl en Isobel van Niekerk. Op die rugteks staan: "Wilde luiperds beweeg nog vrylig in die Kogelberg rond en word soms in die stil strate van die nabygeleë kusdorpe opgemerk." Die verhaal fokus op een luiperdwyfie se gedrag teenoor 'n patrollieman van Oudebos.[38]
In die voorwoord staan:
Die verhaalgebeure speel af in medias res; op die brug waar die kuspad die Rooi-Elsrivier kruis, drom 'n skare saam, en 'n luiperd gaan geskiet word.
Geen datum word verstrek wanneer die voorval plaasgevind het nie.
Die vorige oggend omstreeks ná 09:00 het 'n jong paartjie en hul klein dogtertjie die wandelpad na die ou Strandlopergrot ingeslaan. Vandale het waarskynlik vroeër 'n gat in die grensdraad gemaak (ook die "Geen Toegang"-teken is beskadig), en impulsief het die dogtertjie deur die gat gespring en met die paadjie langs deur die bosse gehuppel. Haar ouers het haar agterna gevolg. 'n Diep grom is gehoor, toe 'n gil van die dogtertjie, en uiteindelik 'n bloedstollende gegrom van die luiperd. Die ouers het die dogtertjie in die paadjie sien lê, bloed het uit die oop wond gesypel; die trui was oopgeskeur en bebloed. Haar arm is verskeur, daar was ernstige bloeding. Die ouers is met kind en al terug pad toe, 'n verbygaande motoris het hul opgelaai en na die winkel gejaag. By die winkel het iemand noodhulp toegepas terwyl die vader sy motor gaan haal het. Die dogtertjie is na die hospitaal op Somerset-Wes gehaas, sy het baie bloed verloor.[39]
Paniek bars los. Die ontstoke dorpenaars van Rooi Els het die polisie gebel, wat weer na Natuurbewaringskantoor verwys is, en geëis het dat die luiperd moet vrek, en gou ook: in die dorpenaars se oë was dit 'n bloeddorstige luiperd wat 'n onskuldige jong kindjie verskeur het, wat bloot saam met haar ouers op 'n uitstappie was, en enige oomblik weer kan toeslaan. Hul eie kinders se lewens was in gevaar, veral nou dat mensebloed eers gesmaak is. Van die inwoners het beweer die luiperd is eenkeer voor sonop op straat opgemerk, en 'n ongeval soos hierdie was maar net 'n kwessie van tyd. 'n "Jakkalsjagter" of "Jakkalsman" (Ongediertebestrydingsbeampte) het binne 'n dag 'n permit bekom om die luiperd van kant te maak. Die volgende oggend staan die jaggeselskap met die wapens gereed.[40]
De Beer beskou die hele petalje as 'n blote ongeluk.
Ten eerste moes die "stadsjapies" nie op die verbode terrein gewees het nie; daar is 'n rede waarom daar 'n heining opgerig is; dit is die leefruimte van die luiperd wat ingedring is; agter die heining het die diere veilig gevoel.[41]
Ten tweede is Kwasstert, die luiperdwyfie, se welpies naby die paadjie deur die kind se skielike opwagting verras. Die pootafdrukke, die dieper spore presies waar die luiperdwyfie geland het, die wind wat die kloof afwaai, die bloedspatsels op die grond, die spore van die jong luiperdwelpies wat skielik op die vlug geslaan het, die aanduiding watter rigting die luiperds heen elkeen laat spaander het, asook die luiperdhaar waar die wyfie presies gelê het, word alles in oënskou geneem. Die luiperdwyfie het teen 'n helling op, onder 'n struik, op 'n rots gelê, die welpies het die bossies laer af verken, moontlik opsoek na duinemolle of dassies. Die kind, 'n wildvreemde element wat uit die niet verskyn het, was die bedreiging vir die welpies. Dit was moedersinstink: sy snel haar kleintjies te hulpe, die kind word in die verbysprong met 'n oop poot platgeklap (die trui is geskeur, moontlik daar waar haar kloue gehaak het), maar daar wees "geen verdere tekens dat sy tot die aanval wou oorgaan nadat sy haar haar beskermende taak voltooi het nie." Toe haar welpies veilig was, het sy die hasepad gekies. Die kans dat so iets weer sou gebeur is feitlik nul: die dogtertjie was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, en volgens De Beer het die wyfie groot geskrik en sou nie gou weer na die ongelukstoneel terugkeer nie.[42]
Hoe dan ook, ongeag of 'n luiperd nie sal aanval tensy hy uitgetart of in 'n hoek gedryf is nie, en ongeag of daar nie in 'n Staatsreservaat gejag kan word nie, die "Jakkalsman" het die nodige verlof gekry van Natuurbewaring self om van die ongedierte ontslae te raak. Met jaghonde en gevolg. De Beer kan nie die jagpermit laat terugtrek nie, die skare en jagters wil na geen rede luister nie, en derhalwe besluit hy om elders sy patrolliewerk voort te sit. Teen die aand sal hy terugkeer, want 'n amptelike verslag moet nog ingedien word.[43]
Elke daaropvolgende hoofstuk is 'n terugflits hoe De Beer die luiperdwyfie voorheen teëgekom het. Hoe sy aanvanklik vir hom gegrom het, en hy sy afstand moes hou, maar hoe sy hom mettertyd aanvaar het en 'n hele verstandhouding ontwikkel het. Hoe hy "indrukke" ervaar het, amper soos telepatie [vergelyk Anna Breytenbach].[44] Hoe sy haar welpies vir hom gewys het.[45] Maar ook hoe Kwasstert, toe De Beer moes toesig hou oor 'n span werkers wat uitheemse plantegroei op die walle van die Palmietrivier moes uitroei, teen sy been kom skuur het – ten aanskoue van al die vreesbevange werkers.[46]
Hoofstuk 4 toon 'n tikkie interessante gedrag: die wyfie sal tussen die gras of bosse, onder die wind, wegkruip en haar wit kwasstertpunt oop en bloot 'n ligte roering gee wat die aandag van voëls, of selfs 'n jong bobbejaantjie, sou trek. Die prooi sal dan uit nuuskierigheid naderkom om die koddige ding van nader te bekyk, tot hul naby genoeg gelok is. Dan word die prooidier gepak en weggesleep.[47]
Om 'n lang storie kort te maak: te midde van die groot toejuiging onder die jagters en toeskouers, is die verkeerde luiperd geskiet. Dit was 'n luiperd met jong en sterk tande; die stert van die karkas wat duidelik nie dié van Kwasstert nie, maar een van haar amper volgroeide welpies. De Beer het nietemin sy kop woordeloos en instemmend vir die jagters en omstanders geknik dat hierdie die regte luiperd was.[48]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.