Suid-Afrikaanse geleerde en politikus From Wikipedia, the free encyclopedia
Jan Frederik Hendrik (Jannie) Hofmeyr (Kaapstad, 20 Maart 1894 – Johannesburg, 3 Desember 1948) was ’n Suid-Afrikaanse geleerde en politikus. Hoewel hy beskou is as te verlig vir sy tyd, was die algemene opvatting dat genl. Jan Smuts hom uitgesoek het om hom op te volg as leier van die Verenigde Party.
Jan Hendrik Hofmeyr | |
Jan Hendrik Hofmeyr in die 1940's | |
Minister van Mynwese | |
Ampstermyn 16 Januarie 1948 – 4 Junie 1948 | |
Eerste minister | Jan Christian Smuts |
---|---|
Voorafgegaan deur | Sidney Frank Waterson |
Opgevolg deur | Eric Louw |
Minister van Finansies | |
Ampstermyn 1933 – 1948 | |
Eerste minister | Jan Smuts |
Voorafgegaan deur | Nicolaas Havenga |
Opgevolg deur | Frederick Sturrock |
Minister van Onderwys | |
Ampstermyn 1939 – 1948 | |
Eerste minister | Jan Smuts |
Voorafgegaan deur | Henry Fagan |
Opgevolg deur | Albert Jacobus Stals |
Ampstermyn 1933 – 1938 | |
Eerste minister | Barry Hertzog |
Voorafgegaan deur | Daniël François Malan |
Opgevolg deur | Henry Fagan |
Minister van Mynwese, Indiensneming en Maatskaplike Sake | |
Ampstermyn 1936 – 1938 | |
Eerste minister | Barry Hertzog |
Voorafgegaan deur | Patrick Duncan (Mynwese) Adriaan Fourie (Indiensneming en Maatskaplike Sake) |
Opgevolg deur | Jan Smuts (Mynwese) Harry Lawrence (Indiensneming) Henry Fagan (Maatskaplike Sake) |
Ampstermyn 1933 – 1936 | |
Eerste minister | Barry Hertzog |
Voorafgegaan deur | Daniël François Malan |
Opgevolg deur | Richard Stuttaford |
Minister van Openbare Gesondheid | |
Ampstermyn 1933 – 1936 | |
Eerste minister | Barry Hertzog |
Voorafgegaan deur | Daniël François Malan |
Opgevolg deur | Richard Stuttaford |
LP vir Johannesburg-Noord | |
Ampstermyn 1929 – 1948 | |
Administrateur van Transvaal | |
Ampstermyn 1924 – 1929 | |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | Jan Frederik Hendrik Hofmeyr 20 Maart 1894 Kaapstad, Kaapkolonie |
Sterf | 3 Desember 1948 (op 54) Johannesburg, Unie van Suid-Afrika |
Politieke party | Suid-Afrikaanse Party (1929–1934) Verenigde Party (1934–1948) |
Alma mater | SACS Universiteit van Kaapstad Balliol College, Oxford |
Religie | Christendom |
Hofmeyr was ’n buitengewoon begaafde student en gradueer met ’n M.A. op die ouderdom van 17 jaar. Sy lewe lank het hy poste beklee wat gewoonlik vereenselwig word met ’n veel ouer persoon: hy word prinsipaal van die Suid-Afrikaanse Skool van Myne en Tegnologie in Johannesburg op 25, wat onder sy leiding in 1922 die Universiteit van die Witwatersrand geword het. Op 30 is hy aangestel as administrateur van Transvaal en op 39 was hy ’n kabinetsminister. Op ’n ongelooflike jong ouderdom het hy, met die nominale samewerking van die oud-Vrystaatse president F.W. Reitz, Het leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) in 1913 geskryf.
Toe Hofmeyr in 1919 prinsipaal van die latere Universiteit van die Witwatersrand word, het hy ’n lewenslange band gesmee, want hoewel sy wortels in die Kaap was, was die optrede van die volwasse lewe hoofsaaklik gesentreer om Transvaal. Toe hy die universiteit in 1924 verlaat, was dit om administrateur van Transvaal te word. Sy vyf jaar lange ampstermyn het hom op ’n blink loopbaan in die Unie-Volksraad voorberei. Hofmeyr was vise-kanselier van Wits van 1926 tot 1930 en kanselier van 1938 tot en met sy dood. Hy het ook inspraak in die universiteit se lot gehad as minister van onderwys van 1933 tot 1938 en weer van 1939 tot 1948.
Sedert 1933 het hy weldra in die meeste kabinetsposte waargeneem en was hoogs veelsydig sowel as bekwaam. As redenaar in die Parlement het hy geen gelyke gehad nie. Hy het die vermoë gehad om die swakhede in sy teenstander se argument uit te lig en hulle te verpletter sonder kwaadwilligheid. Hy was boonop geheel en al tweetalig en het as minister gesorg dat hy al die feite het sodat hy ’n formidabele figuur was om te probeer opponeer. Hy het ook oor ’n buitengewone geheue en ondernemingsgees beskik.
Hofmeyr se voortydige dood kan deels toegeskryf word aan die swaar werklas wat genl. Smuts aan hom toevertrou het. Smuts het weliswaar gehelp om die oorlog in Europa te wen, maar tuis het hy nie net die verkiesing verloor nie, maar ook die beste en mees waarskynlike kandidaat om sy nalatenskap te laat voortleef. Suid-Afrika het een van die helderste liberale stemme in sy politiek verloor.[1]
Jan Frederik Hendrik Hofmeyr was die jongste kind van Andries Brink Hofmeyr (26 Julie 1851 – 17 Maart 1897). Laasgenoemde was eers met Clara Gertruida Margaretha Rossouw (23 Desember 1850 – 23 Maart 1884) getroud en vier dogters is uit hierdie huwelik gebore. Sy tweede vrou, met wie hy op 13 Desember 1887 getroud is, was Deborah Catherina Beyers (5 Desember 1863 – 27 Julie 1959). Hul eerste kind was Andries Beyers ("A.B.") Hofmeyr, gebore binne ’n jaar na hul troue.[2] Dit was eers vyf jaar later dat hul tweede seun op 20 Maart 1894 gebore is. Hoewel hy by sy doop die tweede naam Frederik gekry het, het hy dit nooit gebruik nie en het hy sy lewe lank net as J.H. Hofmeyr bekend gestaan.[3] In sy kinderjare was sy noemnaam altyd Hennie gewees.[4]
Hennie se vader, ’n sagsinnige en ingetoë man,[5] wat voor Hennie se derde verjaardag oorlede is,[6] was die sakebestuurder van die koerant Ons Land en die sekretaris van die Afrikanerbond. Hy was ’n neef van Onze Jan Hofmeyr omdat hy die seun van ’n jonger broer, Andries Brink Hofmeyr (1820–1870), van Onze Jan se vader was. Hennie Hofmeyr was dus nie ’n broerskind van Onze Jan nie, maar ’n seun van sy neef.[7]
Deborah Beyers het uit ’n bekende ou Stellenbosse familie gestam. Sy was ’n reguit, heerssugtige, bekrompe en ontembare mens en was bekend vir haar rondborstige en openhartige uitsprake.[8] Haar jongste seun was stil en saggeaard. Vroeg reeds was hy leersaam en gehoorsaam aan sy moeder aan wie hy baie geheg was.[8] Toe Hennie twee jaar oud was, het hy baie siek geword en sy moeder het hom liefderyk en met groot toewyding verpleeg. Sy herstel het hul verhouding versterk en bevestig.[8]
Hennie Hofmeyr is in die Groote Kerk gedoop, maar hy ontvang sy godsdienstige onderrig in die Baptistekerk en gevolglik in Engels. Sy moeder het haar tot die Baptiste gewend toe die predikant van die Groote Kerk haar tydens Hennie se vroeë en ernstige siekte nie die praktiese hulp gebied het wat sy verwag het nie.[8] Dit was juis in die Baptistekerk wat sy moeder besef het dat hy buitengewoon begaafd was. Hy was maar net 5 jaar oud toe sy agterkom dat hy vlot Engels kon lees. Hy kon ook Hollands lees toe hy die Groote Kerk met sy ouma besoek het.[9] By die Sondagskool van die Baptistekerk het hy almal beïndruk deur niks wat hy geleer het, te vergeet nie. Eendag het ’n gereelde kerkganger hom ná ’n kerkdiens gevra waaroor die dominee gepreek het. Tot sy verbasing het Hennie omtrent die hele preek woord vir woord herhaal.[10] Sy ma het Hennie geleer dat God nie onderskei tussen ryk en arm of wit en swart nie, want voor Hom was almal gelyk.[11]
Tydens sy latere lewe het hulle gewoonlik Presbiteriaanse dienste bygewoon. Jannie Hofmeyr is nooit aangeneem nie, maar die Christelike godsdiens, in sy Protestantse en aanvanklik fundamentalistiese vorm, het lewenslank ’n wesentlike en blywende invloed op hom uitgeoefen; baie van sy politieke beskouings het uit sy sterk godsdienstige oortuigings voortgekom.
Sy was, wat haar begaafde, jongste seun betref het, oormatig beskermend. Met haar sterk persoonlikheid het ’n regstreekse, oorweldigende invloed op haar delikate en knap seun se opvoeding en die vorming van sy karakter uitgeoefen. As gevolg van ’n geneesheer se voorspelling – toe Jannie Hofmeyr drie jaar oud was – dat hy óf ’n genie sou word óf jonk sou sterf, het sy moeder ’n neurotiese vrees ontwikkel dat hy voortydig sou sterf en dit het haar oordrewe besorg oor sy gesondheid gemaak.[verwysing benodig] Sy het Jannie se huislike lewe tot sy dood oorheers en sodoende doeltreffend gekeer dat hy ooit sou trou; later in sy lewe was sy blykbaar wel ten gunste van ’n huwelik, maar slegs as sy keuse van ’n huweliksmaat haar goedkeuring sou wegdra. Haar invloed het ook ingewerk op sy hele openbare loopbaan. As intens godsdienstige vrou het sy heel moontlik bygedra tot sy geloof dat as hy slegs met alle mag alles doen wat sy hand vind om te doen, God op sy tyd alle dinge aan hom sou skenk. Hierdie opvatting het ten grondslag gelê van die politieke besluiteloosheid wat eers so kenmerkend van sy loopbaan was en dit ten slotte geskend het. Jannie Hofmeyr is ook geïnhibeer deur sy nabyheid aan die indrukwekkende gestalte van genl. J.C. Smuts, wat hom terselfdertyd geïntrigeer en gefassineer het en aan wie hy eindelik volledige trou toegesweer het.[verwysing benodig]
Jannie was byna 8 jaar oud toe hy in 1902 vir die eerste keer skool toe gegaan het.[11] SACS (South African College School) was trots daarop dat hulle Engelse, Afrikaanse en Joodse seuns in harmonie met mekaar onderrig het.[11] Destyds het skole net een manier geken om begaafde kinders te hanteer. Dit was om hulle onmiddellik te bevorder na die volgende standerd. Hulle het hul min aan die kind se emosionele en sosiale ontwikkeling gesteur. In sy eerste twee jaar op skool het Jannie vyf jaar se onderrig voltooi. Na nog twee jaar het hy ’n verdere vier akademiese jare voltooi. In 1906 het hy darem ’n volle jaar in matriek deurgebring, net om dit op 12-jarige ouderdom met vlieënde vaandels deur te kom.[12] Hy het eerste gestaan in sy skool en derde in die kolonie. Maar sy vyf jaar by SACS was nie gelukkige jare nie. Reeds toe hy daar aankom was hy kort en bonkig en het hy brille met baie dik lense gedra.[13] Hy was passievol oor krieket, maar kon dit nooit eintlik baasraak nie. In matriek, terwyl sy klasmaats in hul rugbybaadjies of flenniebroeke flankeer het, het Jannie in sy kortbroekmatroospakkie rondgedwaal en met albasters gespeel.[13] Voordat hy universiteit toe gegaan het, het Onse Jan 'n vaderlike gesprek met hom gehad. Hy het Hennie meegedeel dat karakter belangriker as intellektuele prestasie was. Dit het groot inslag by Hennie gevind en hy het dit met hart en siel aanvaar.[14]
Destyds was die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop die enigste universiteit in suidelike Afrika. Dit het studente geëksamineer, maar hulle nie onderrig nie. Dit was gedoen deur die konstituerende kolleges soos die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad. Hennie het ’n spesiale beurs van die Kollegeraad ontvang om daar te studeer. Hy kon kies tussen ’n BA in Tale of ’n BA in Wetenskap. Hy het eersgenoemde gekies. Die kollege het aangedring dat hy 3 jaar moes studeer om die graad te voltooi.[15] Op twaalfjarige ouderdom het sy universiteitsloopbaan in 1907 ’n aanvang geneem. Hy het steeds kortbroek gedra.[16] In sy tweede jaar het Hennie by die debatsvereniging en die CSV aangesluit.[15] Dit was ook die jaar waarin Alfred Hoernlé die professor van filosofie geword het. Hofmeyr het groot bewondering vir hierdie leier van liberale denke in Suid-Afrika gehad.[17] Daardie jaar het hy ook die medaljes ontvang vir al 5 sy kursusse: Latyn en Klassieke Filologie, Grieks, Engels, Filosofie en Hollands.[18] Hennie se beste vriend was steeds Theo Haarhoff, maar hy was nog by SACS. Hulle was ewe tuis in Engels en Afrikaans en beide van hulle is opgevoed in streng en gelowige huise. Beide was lief vir Latyn en Grieks. Dan het beide graag krieket gespeel, maar geeneen was behendig daarmee nie.[19]
Aan die einde van 1909 het Hennie sy BA-graad met onderskeiding verwerf. Nie alleen het hy eerste in sy klas gestaan nie, maar hy het ook die universiteit se goue penning vir Letterkunde verwerf. Daarbenewens het hy ook ’n Rhodes-beurs ontvang. Daar is toe wyslik besluit om hom terug te hou en hy gaan eers in 1913 na Oxford.[20] Sommige waarnemers meen daar is toe reeds ’n mate van skade aangerig; die feit dat hy klasse saam met jong mans moes volg wat van vier tot vyf jaar ouer as hy was, het Hofmeyr baie eensaam laat word.
In 1910 het hy die BA-graad in die Natuurwetenskap verwerf. Daarna kon hy terugkeer na sy klassieke studies en in 1911 verwerf hy met onderskeiding 'n MA-graad in Klassieke Tale.[21] Beide grade is toegeken deur die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop ná studie aan die Suid-Afrikaanse Kollege. Hy was teen dié tyd ’n leier in die Christen-Studentevereniging. Sy siening van geloof was besig om te skuif van die Baptiste se beheptheid met sonde, bloed en redding na die Anglikane se siening van diens en toewyding.[21] By die debatsvereniging was hy 'n sterk ondersteuner van die Kaapse liberale tradisie. Nie-blankes moes, indien hulle die nodige kwalifikasies gehad het, toegelaat word om aan die regering deel te neem. Volgens hom was daar breedweg twee naturellebeleide moontlik. Die eerste een was 'n beleid van segregasie, 'n beleid van onderdrukking, 'n beleid van die donker eeue. Die ander een was die verligte beleid, wat nie geïnspireer was deur vooroordeel nie, maar deur politieke wysheid, geregtigheid, dienstigheid en noodsaaklikheid. Laasgenoemde was die beleid wat hy ondersteun het.[22]
In 1912 het Hennie Hofmeyr The life of Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) geskryf nadat hy ’n opdrag aanvaar het van ’n komitee onder voorsitterskap van sen. F.S. Malan om teen ₤10 per maand die lewensgeskiedenis van Onze Jan Hofmeyr in Engels te boek te stel. Dit het hy gedoen in samewerking met oudpres. F.W. Reitz, destyds president van die Unie-senaat, wat grotendeels in raadgewende hoedanigheid pleks van as medeskrywer opgetree het. Dié boek, wat in 1913 in Kaapstad verskyn, is omvangryk, deeglik en feitelik akkuraat, maar word ook as “oppervlakkig” beskryf, blykbaar ’n gevolg van die skrywer se jeugdige ouderdom. Hy het self dié groot biografiese studie van 730 bladsye in Nederlands as Het leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) vertaal voor hy na Oxford vertrek het.[23]
Hofmeyr en sy ma het op 20 September 1913 na Engeland, Oxford en Balliol vertrek. Hy was 19 jaar oud en het darem ’n langbroek gedra.[24] Mevrou Hofmeyr het losies gevind in Wellington Square, maar hy het in sy kollege tuisgegaan.[25] Op sy kaggelrak was ’n foto van een van sy helde, sy grootoom generaal C.F. Beyers.[26] Hofmeyr het besluit om sy studie in die klassieke tale voort te sit. By Oxford het hulle dit "literae humaniores" genoem. Die kursus was in twee verdeel: "Mods" en "Greats". Normaalweg sou dit vier jaar neem om "Greats" te voltooi, maar Hofmeyr kon dit in drie jaar doen weens sy vorige studies.[27]
Hofmeyr en sy ma het by die plaaslike Presbiteriaanse gemeente aangesluit.[28] Hy was egter baie meer aktief in die Balliol Boys Club, waar die windmakers van die kollege na die arm seuns van die stad uitgereik het.[29] Hy het steeds in debattering belang gestel. Hy het selfs deelgeneem aan debatte van die beroemde Oxford Union.[30] Aan Oxford was hy goed bevriend met C.K.J. Underhill en A.E. King, albei vrygeselle en laasgenoemde ’n spoorwegbeampte.[31] Dit was die eerste keer in sy lewe wat hy Indiërs op gelyke voet teëgekom het. Hy was nogal geskok.[32] Teen sy finale jaar het hy ontslae geraak van sy rassevooroordeel wat hy uit Suid-Afrika gebring het. Hy het bevriend geraak met J. Matthai, afkomstig van Madras Universiteit. Matthai het later 'n minister in Nehru se kabinet geword.[33]
Aan die einde van Hofmeyr se eerste jaar het hulle huis toe gekom vir die lang vakansie.[34] Terwyl hulle in Suid-Afrika was, het Engeland op 4 Augustus 1914 oorlog teen Duitsland verklaar.[35] Engeland het Suid-Afrika gevra om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, maar toe Botha dit met sy kommandante bespreek, was kommandant-generaal C.F. Beyers en ses ander kommandante daarteen gekant.[36] Op die ou end het Beyers gerebeleer. Op die dag waarop generaal de la Rey begrawe is, het Hofmeyr en sy ma op die skip geklim om na Engeland te reis.[37] Sy het besluit om sy noemnaam na Jan te verander, maar sy sou hom daarna Jantjie noem.[4] Met hul terugkeer na Oxford het Jan geweier om by die oorlog aan te sluit, maar hy het ook Beyers se foto van sy kaggelrak verwyder.[38]
Een van Hofmeyr se eksaminatore het die volgende te sê gehad oor die aard van sy briljantheid: Hy het ’n wonderbaarlike vermoë gehad om orde te skep uit enige materiaal wat aan hom voorsien is. Hy kon dit dan verstaan, ontleed, weer aanmekaar sit en dan dit en sy eie gevolgtrekkings goed onthou.[39] Hofmeyr was die enigste student van Balliol wat in 1916 sy "Greats" in die eersteklas kon slaag.[40] Oxford het hom ’n breë klassieke agtergrond gegee en terselfdertyd sy diepe Suid-Afrikaanse patriotisme versterk. In later jare het hy ’n eregenoot van sy kollege, Balliol, geword. Sy kollega in die VP. sir Patrick Duncan, het aan dieselfde kollege gestudeer. Hofmeyr was baie gelukkig in Oxford en sy biograaf, Alan Paton, skryf in dié opsig: "Sy moeder, sy land, en Oxford – dit was die drie groot liefdes van sy lewe."[40]
Hoewel hy die hoë Anglikanisme nie begryp het nie en hy nooit heeltemal op sy gemak gevoel het tussen seuns uit die Britse privaat skole nie – wie se grootse selfvertroue alles wat Afrikaner is in hom laat uitkom het – het Hofmeyr bekendheid in die Oxford Union verwerf en geluk sowel as ’n beter begrip van die Britte in die Balliol Boys’ Club gevind. Hy het ’n republikein gebly, maar het begin om die ideaal van ’n Gemenebes te ondersteun. Daarom was hy ontstel deur die strydlustigheid van genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party.
Jan Hofmeyr het in 1916 na Suid-Afrika teruggekeer en aanvaar ’n betrekking as dosent in klassieke tale aan die Suid-Afrikaanse Kollege, sy alma mater in Suid-Afrika.[41] Dieselfde jaar het hy die J.B. Ebden-prys verower met ’n opstel (wat later gepubliseer is) oor History and control of national debts with special reference to their liquidation (Kaapstad, 1918).[41] In Desember 1916 is hy aangestel as professor in klassieke tale aan die South African School of Mines and Technology, Johannesburg.[42] Hy was maar 22 jaar oud.
In Johannesburg het Hofmeyr gereeld openbare vergaderings toegespreek en hy was uitgesproke oor politieke aangeleenthede. Hy het ook op verskeie subkomitees van die senaat gedien. Aan die einde van 1918 het hy die senaat in kennis gestel dat hy as professor van Grieks by die Universiteit van Kaapstad aangestel is en dat hy sy pos in April 1919 wou opneem.[43] In Januarie is die prinsipaal van die School of Mines oorlede na 'n lang siekbed. Heel onverwags is die pos aan Hofmeyr aangebied. Hofmeyr het besluit om dit te aanvaar op voorwaarde dat Kaapstad hom onthef het van sy verpligtinge.[44]
Op 1 Augustus 1919 het die mynskool 'n universiteitskollege geword. In sy inhuldigingstoespraak het Hofmeyr gesê dat 'n universiteit toeganklik moes wees vir almal, ongeag hul klas, rykdom, ras of geloof.[45] Dit het spoedig geblyk dat, hoewel hy uitsonderlik bekwaam was om die administrasie te behartig, sy jeug en enge opvoeding dit vir hom onmoontlik gemaak het om gesonde betrekkings met sy personeel en studente aan te knoop.[46]
Ten spyte van al sy verantwoordelikhede en probleme het hy tog ook in dié jare The Republican movement and the problem of the British Empire (in die South African Quarterly van Desember 1919) geskryf, waarin hy ’n Suid-Afrikaanse republiek in bondgenootskap met die Verenigde Koninkryk bepleit het;[47] en, in 1921 saam met prof. T.J. Haarhoff ’n pamflet, Two studies in ancient imperialism wat, hoewel bondig, een van die mees deurtastende ontledings is van die latere Romeinse Ryk.
Hofmeyr se preutse hantering van ’n netelige kwessie waarby sy anatomieprofessor, E.P. Stibbe, betrokke was, het ’n lelike konfrontasie tussen die raad en die senaat uitgeloop. Stibbe het 'n vriendskap aangeknoop met 'n tikster wat by die kollege gewerk het. In November 1921 het Hofmeyr aan Stibbe geskryf dat die skyn van euwel onmiddellik gestaak moes word. Stibbe het Hofmeyr meegedeel dat hy sy neus uit sy private sake moes hou. 'n Raadsvergadering in Desember 1921 het besluit dat Stibbe se diens onmiddellik beëindig word.[48] Lede van die senaat was ontevrede met hierdie besluit en sommige lede het 'n spesiale vergadering aangevra. Tydens die vergadering het Stibbe gesê dat Hofmeyr se skinderbek-ma agter alles sit.[49] Selfs nadat die saak geskik is, was Hofmeyr steeds opgeskeep met 'n vyandige senaat, gelei deur sy ou vriende, Macmurray en Haarhoff. Ander vriendskappe het ook verbrokkel, soos dié met Rheinallt Jones, Margaret Hodgson en Hoernlé.[50]
’n Moeilike situasie is op 1 Maart 1924 beëindig toe genl. Smuts vir Hofmeyr as administrateur van Transvaal aanstel.[51]
Hofmeyr en sy moeder het in April na die ampswoning in Bryntirion in Pretoria verhuis. Sy ma het toe 'n nuwe gewoonte ontwikkel: Sodra hy besoekers ontvang het wat amptelike sake wou bespreek, het sy elders heen gegaan om hulle alleen te laat. Hulle sou miskien weer bymekaar kom om tee te drink na afloop van die amptelike besprekings.[52]
Hofmeyr se eerste groot toets het binne 'n paar maande plaasgevind. Smuts het 'n algemene verkiesing uitgeroep en dit toe verloor. Hertzog het eerste minister geword. Hofmeyr het onmiddellik aan hom geskryf en aangebied om te bedank, maar Hertzog het nie daarop aangedring nie.[53] Toe bedank die Direkteur van Onderwys en sy tweede-in-bevel, H.S. Scott, was klaarblyklik sy beste opvolger. Die probleem was dat Scott nie alleen Engelssprekend was nie, maar ook 'n Britse onderdaan. Die Nasionaliste in die Provinsiale Raad was van mening dat die tyd aangebreek het dat 'n Afrikaanssprekende aangestel word om in beheer van hul kinders se onderwys te wees.[54] Hofmeyr en Hertzog het die geskil op 'n baie lofwaardige wyse hanteer en op die ou end is Scott aangestel.[55]
Hofmeyr was ’n besonder suksesvolle administrateur. "No one knew better than he how to manage an administrative machine, and in a few days he had mastered it" skryf Paton in sy boek. Talle provinsiale dienste is uitgebrei en verbeter en Hofmeyr het met sy bekwaamheid die Nasionaliste se teësinnige bewondering in die Provinsiale Raad afgedwing. Staatsamptenare van die Transvaal het eerbied en ontsag teenoor hom betoon.[52]
Hofmeyr se ampstermyn sou in Maart 1929 tot 'n einde kom. Die volgende algemene verkiesing moes ook in 1929 gehou word. Die briljante administrateur se politieke toekoms het besonder rooskleurig gelyk. Al die vernaamste politieke partye en groeperings wou hul by hom skaar. Die eerstes om hom te nader was die boodskappers van Tielman Roos, die leier van die Nasionale Party in Transvaal. Volgens hierdie boodskappers was Hertzog en Smuts oor die muur. Die toekoms was in die hande van Tielman Roos, Jan Hofmeyr en Oswald Pirow.[56] H.H. Moll, nog 'n prominente Nasionalis, het ook toenadering gesoek.[57] Smuts wou gehad het dat Hofmeyr vroeg reeds te kenne moes gee dat hy namens Smuts se party vir die Volksraad sou staan.[58] Hertzog het ook aanbiedinge aan Hofmeyr gemaak. Hy het voorgestel dat Hofmeyr nog 'n termyn as Administrateur moes dien, of selfs dat hy na Londen moes gaan as Hoë Kommissaris.[58] Hofmeyr wou egter geen aanduiding gee van sy toekomsplanne nie en wou eerder op 'n lang vakansie gaan aan die einde van sy termyn.[59]
Hofmeyr het verseg om aan die algemene verkiesing van 1929 deel te neem.[60] Hertzog het die verkiesing loshande gewen. Die Nasionale Party het 'n volstrekte meerderheid in die Volksraad behaal.[61] Hertzog het probeer om Tielman Roos uit die politiek te wikkel deur hom as appèlregter aan te stel.[62] Kort na die verkiesing het die L.V. vir Johannesburg-Noord, Louw Geldenhuys, gesterf. Hofmeyr is deur die Suid-Afrikaanse Party benoem vir die setel en hy wen die tussenverkiesing op 23 Oktober 1929.[63]
Tydens die tussenverkiesingstryd het Oswald Pirow vir Hofmeyr uitgedaag om sy houding oor rasseskeiding te stel. Hofmeyr het soos volg geantwoord: "Wat betref segregasie: Dit is, na my mening die mees logies-bevredigende, inderdaad ideale, beleid, maar ons moet nie vergeet dat dit nie 'n maklike beleid is om uit te voer nie; dit verlang opoffering aan ons kant … dit is 'n dringende saak om in die gesig te staar en te oorweeg of ons bereid is om die prys te betaal" [64] Hofmeyr was deel van 'n komitee wat belas was met die skryf 'n hoofstuk oor Suid-Afrika vir die Cambridge Geskiedenis van Britse Ryk. Die hoofstuk sou Coming of Age genoem word en is uitgegee in 1930.[63] Daarin skryf hy dat daar 'n sekere ongemak in Suid-Afrika was en een van die redes was sogenaamde naturelle probleem. Hul taak was om Suid-Afrika veilig te maak vir Europese beskawing sonder om die prys van oneer te betaal. Hy en sy medeskrywers vind die term "naturelle probleem" eintlik kragteloos, want die probleem is hoe wit en swart in vrede en harmonie kon saamleef tot hul gemeenskaplike voordeel.[63] Paton skryf dat die hoofstuk die produk van liberalisme in die dertigerjare was. In húl geledere was die debat rondom die aard en omvang van die stemreg wat aan anderkleuriges gegee moes word.[65] In sy boek South Africa, wat in 1931 verskyn het, keer hy terug na die kwessie van segregasie. Hy skryf dat hy ten gunste daarvan was, maar dit het onmoontlik geword. Daarin, voer hy aan, lê Suid-Afrika se tragedie.[66]
Intussen het die groot depressie en die kwessie rondom die prys van goud die groot partye tot 'n vergelyk gedwing. Dit was 'n informele geselsie tussen Hofmeyr en Pen Wessels (wie saam met Hertzog die wildernis betree het in 1912) wat die knoop deurgehak het.[67] Daar is gepraat van hereniging en Hofmeyr was 'n groot ondersteuner daarvan. Na sy mening was dit die enigste manier om 'n behoorlike naturellebeleid te formuleer: 'n beleid wat wit mense se vrese kon oorbrug, swart mense se strewes kon bevredig en die res van die wêreld tevrede stel.[68] Aanvanklik was daar net 'n koalisie. Die Kabinet sou uit 6 lede van elke party bestaan.[69] Hofmeyr is aangestel as minister van Onderwys, Binnelandse Sake en Openbare Gesondheid.[70] In 1934 het Daniël Malan en sy ondersteuners afgestig en die Gesuiwerde Nasionale Party geword. In dieselfde jaar het Smuts en Hertzog se partye saamgesmelt en die Verenigde Party geword.[71]
Hertzog se finale oplossing vir die naturellekwessie was vervat in drie wetsontwerpe. Die eerste een was die "Representation of Natives Bill". Die aanvanklike plan was om geen meer naturelle op die Kaap se gemeenskaplike kiesersrol by te voeg nie. Swart Suid-Afrikaners sou in 4 kiesafdelings ingedeel word en elkeen sou 'n blanke verteenwoordiger in die Senaat kon verkies. Hulle sou ook elkeen 3 verteenwoordigers in die "Natives Representative Council" kon verkies. Twee van die kiesafdelings sou in die Kaapprovinsie wees en hulle sou ook elkeen een blanke verteenwoordiger na die Provinsiale Raad kon stuur.[72][73] Weens teenkanting is die wetsontwerp gewysig sodat swartes 3 blanke verteenwoordigers in die Volksraad kon verkies.[74] Hofmeyr was steeds gekant teen die wet, maar Hertzog het hom meegedeel dat hy die wetsontwerp in die Volksraad kon opponeer en Hertzog sou dit nie as mosie van wantroue beskou nie.[75]
Hofmeyr het gesê dat sy eerste beswaar was dat die bepaling dat swartes drie blankes tot die Volksraad kon verkies, self 'n verskanste klousule sou word, met die gevolg dat enige (selfs opwaartse) wysiging ook 'n twee-derdes besluit moes wees.[76] Sy tweede beswaar was dat die wetsontwerp neerkom op die wegneem van 'n reg wat toe reeds vir 80 jaar in die Kaap bestaan het.[77] Hy was ook gekant teen kommunale verteenwoordiging in die Parlement. Gemeenskaplike belange van al die inwoners van die land was soveel belangriker.[78] Hy het ook 'n waarskuwing aan sy gehoor gerig. Hy het gesê dat die ou bedeling geleerde en vermoënde swartes binne die blankes se beskawing verwelkom en aangemoedig het. Die nuwe bedeling sou hulle leiers van oproer en verset maak.[79] Hofmeyr se pleidooi het nie geslaag nie en die wetsontwerp het 'n wet geword.
Hofmeyr het voortgegaan om sy liberale denkwyse in die Volksraad uit te bou. In Maart 1936 het een van die LV's 'n wet voorgestel om huwelike tussen verskillende rassegroepe te verbied. Sy groot beswaar was dat daar getuienis was dat 'n Indiërman 'n blanke vrou getrou het sodat sy grond in die Transvaal namens hom kon koop. Hofmeyr se kil antwoord was dat die Parlement nie 'n wet kon maak om 'n enkele geval te verbied nie.[80] Toe 'n ander LV beswaar maak teen die toelating van anderskleuriges by Wits en Kaapstad, het Hofmeyr hom geantwoord dat hulle nie met akademiese vryheid moes inmeng nie.[81] Hofmeyr het ook 'n wetsontwerp ingedien om die sekere beperking op Indiërs om grond te koop, op te hef.[81] Ten einde raad het Hertzog in November 1936 vir Hofmeyr aangestel as minister van mynbou asook arbeid en aan Stuttaford binnelandse sake gegee.[82]
1938 was weer 'n verkiesingsjaar. Die Verenigde Party het 'n paar setels verloor en die Nasionale Party het 'n paar meer setels gewen. Maar die Verenigde Party se meerderheid was steeds groot, want die VP het 111 setels gewen en die NP maar net 27.[83] Hertzog se Minister van Handel en Nywerheid, Adriaan Fourie, het egter sy setel verloor en Hertzog het besluit om hom as senator te benoem, nogal as 'n persoon weens sy besondere kennis van die behoeftes en wense van nie-blankes.[84] Hofmeyr was ontevrede hiermee en hy bedank toe as minister. In sy toespraak aan die Volksraad het hy gesê dat Fourie se aanstelling niks minder as 'n ontering van die grondwet was nie. Dit het ook die verhouding tussen blankes en nieblankes geaffekteer. Daar kon nie toegelaat word dat nieblankes die pionne van die witman se politieke speletjies word nie. Hofmeyr was nie bereid om mede-verantwoordelik te wees vir 'n verbreking van die grondwet nie. Hy wou dit ook duidelik stel dat hy nie van plan was om 'n nuwe politieke party te stig nie.[85]
Tydens die verkiesing van 1933, wat die stigting van die Verenigde Party uit die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party voorafgegaan het en waarin die twee partye saamgewerk het, wen Hofmeyr Johannesburg-Noord onbestrede. In die 1938-verkiesing vergroot hy sy meerderheid, dié keer teen A.W. Swartz van die Gesuiwerde Nasionale Party, tot 3 334. In 1943, weer teen ’n (Herenigde) N.P.-kandidaat, vaar hy selfs beter met ’n meerderheid van 4 046 en in die laaste verkiesing voor sy dood, dié van 26 Mei 1948, waarin sy Verenigde Party verslaan is en hy dus sy kabinetspos verloor het, sak sy meerderheid terug tot 3 281. In die tussenverkiesing wat sy dood te weeg gebring het, stel die NP nie weer ’n kandidaat nie en wen P.B. Bekker die setel gemaklik vir die Verenigde Party met ’n meerderheid van 4 946.[verwysing benodig]
Hy het die hereniging van die twee hoofpartye as noodsaaklike voorbereiding op die gepoogde oplossing van die eintlike probleem van Suid-Afrika beskou, naamlik om die toekoms van die Europese beskawing in die land te verseker. Hy het sy standpunte sowel eksplisiet – in toesprake, en in sy inleiding tot Coming of age: studies in South African citizenship and politics, wat hy en andere in 1930 in Kaapstad publiseer het – as implisiet in sy geskiedkundige werk South Africa (Londen, 1931) – bekendgemaak. Gedurende die ingewikkelde gebeurtenisse en versigtige onderhandelings wat tot die koalisie van die Nasionale en die Suid-Afrikaanse Party in Februarie 1933 gelei het, was Hofmeyr, saam met Louis Esselen, Patrick Duncan en Deneys Reitz, een van Smuts se hoofraadgewers.[verwysing benodig]
Bevry van mede-aanspreeklikheid vir kabinetsbesluite, het Hofmeyr meer te sê gehad oor sy politieke sieninge. Dit kon hy doen in die nuwe tydskrif, Forum. In sy eerste artikel, naamlik Faith, fear and politics (26 September 1938), skryf hy dat die probleem wat mense dikwels die naturellekwessie noem, onthul die geskil tussen die realis en die liberalis, wat eintlik die kwessie tussen vrees en geloof is. Die realis kyk na die feite en al wat hy sien is die oorweldigende aantal naturelle. Die gevolg is dat hy dan 'n beleid van onderdrukking volg, wat gebaseer is op vrees. Hy sien nie dat vrees aanleiding gee tot haat nie. Die liberalis kyk ook na die feite, maar hy sien ook ander feite, soos die verskille tussen wit en swart. Sy beleid is dus nie assimilasie nie. Terwyl hy die feite in die gesig staar, versaak hy nie die vaste grond van beginsel nie.[86] In My conception of liberalism (17 Oktober 1938) skryf hy dat liberalisme 'n filosofie en nie 'n beleid was nie. In die Suid-Afrikaanse milieu beteken dit drie dinge: die erkenning van wesenlike waarde van die mens as mens; die geloof dat alle dele van die samelewing 'n bydrae kan maak en die geleentheid moes hê om dit te doen; die vasberadenheid dat minderbevoorregtes hierdie geleentheid moes hê. Hy verklaar dat liberalisme nie gelykheid beteken het nie; dit beteken wel die verskaffing van redelike geleenthede. Liberalisme verwerp outoritarisme. Daar was sekere geestelike waardes van geregtigheid, vryheid en verdraagsaamheid wat hoër was as die ideale van dissipline en doeltreffendheid.[87] Hofmeyr se vereenselwiging met Forum het mense opnuut laat gis oor ’n moontlike liberale party; dit het egter spoedig geblyk duidelik dat hy, pleks vanself ’n party te stig, verkies het om te wag totdat een werklik bestaan het. Hy het geglo dat dit wel tot stand sou kom as gevolg van die toenemende liberalisme wat hy onder die jong stedelike wit bevolking bespeur het.[88]
Aan die einde van 1938 het Stuttaford 'n Asiate-wetsontwerp ingedien om Indiërs te beperk om, behalwe in sekere voorgeskrewe gebiede, grond te koop. Hofmeyr en Blackwell het besluit om die wetsontwerp teen te staan. Teen daardie tyd het Hertzog genoeg gehad van hul halstarrigheid. 'n Koukusvergadering is belê. Hertzog het die vergadering meegedeel dat hulle 'n keuse gehad het: Of Hertzog bedank of die koukus stem vir 'n mosie van sensuur teen Hofmeyr en Blackwell wat geen dissipline of getrouheid gehad het nie. Die mosie is aanvaar en die twee het uit die koukus bedank.[89] In die daaropvolgende Volksraaddebat het Hofmeyr gewaarsku dat Indiërs, eerder as om vrugteloos na geregtigheid te streef, in die toekoms mag besluit om eerder by ander nieblankes aan te sluit en dat blankes dan te doen sou kry met burgerlike ongehoorsaamheid en passiewe weerstand.[90]
In November 1938 het hy kanselier van die Universiteit van die Witwatersrand geword en in Maart van die volgende jaar het hy by geleentheid van sy inhuldiging een van sy grootste redes gehou, waarin hy die vryheid van meningsuiting, demokrasie en die mens se reg om te ontwikkel, verdedig het. Die grootste konflik in die wêreld was dié tussen demokrasie en eiemagtigheid. In daardie konflik moes elke universiteit wat sy sout werd was, kant kies vir demokrasie. Hy was bewus van die swakhede van demokrasie, maar die grootste vooruitgang van die mensdom het nie van dissipline gekom nie – dit was deur die werking van ’n vrye gees.
Die vryheid om te kritiseer was die eerste wesenlike element in demokratiese vryheid. Daar was diegene wat, met die absolute sekerheid van hul eie korrektheid, gekrenk voel omdat iemand ’n ander mening huldig. Wanneer dit gebeur skryf hulle dit nie toe aan intellektuele oortuiging nie, maar pak die skuld op een of ander morele laakbaarheid. Daarom sien mens ook aanvalle op die vryheid van die pers selfs in demokratiese lande.
Die tweede groot vryheid was om te ontwikkel. Blanke Suid-Afrikaners sien hulself as voogde van anderskleuriges. Hulle moet nie terug deins op die dag waarop hul beskermlinge groot geword het nie, want dit sou onchristelik wees. Vir die studente het hy ’n finale woord gehad. Hulle moes gereed maak om te veg vir hul vryheid.[91]
Die aggressiewe en eksklusiewe Afrikanersentimente waaraan drie maande tevore by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument uiting gegee is, het hom verontrus, want hy het gevoel dat die Afrikaner – wat gegrief gevoel het oor sy minderwaardige posisie – te sterk gereageer het. As gevolg van sy energieke verset teen die Wet op Asiate (Grond en Handel in Transvaal) van 1939 het Hofmeyr uit die koukus van die Verenigde Party bedank, maar hy het in die Volksraad as onafhanklike ’n ondersteuner van die Verenigde Party gebly. Die naderende oorlog het dit ongeleë gemaak om ’n nuwe party te stig, maar hy is ook beïnvloed deur sy eie bedeesdheid, belemmerde ontwikkeling en huiwerigheid om Smuts teen te gaan.
Tydens die sitting van die Volksraad op 4 September 1939 het die eerste minister, Generaal Hertzog, voorgestel dat Suid-Afrika neutraal bly in die oorlog tussen Engeland en Duitsland. Generaal Smuts het voorgestel dat die land oorlog verklaar teen Duitsland. 67 lede het Hertzog ondersteun, maar Smuts het gewen met 80 stemme. Hertzog het die goewerneur-generaal versoek om 'n verkiesing uit te roep, maar hy het geweier en Smuts gevra om 'n kabinet saam te stel.[93] Hy het Hofmeyr aangestel as Minister van Finansies en Minister van Onderwys.[94]
Tydens die oorlog en daarna het Hofmeyr ontsaglik hard gewerk en sy groot administratiewe aanleg so goed aangewend dat hy ’n aansienlike gedeelte van die land se oorlogspoging besiel het, met uitsondering van militêre en buitelandse sake, en hierbenewens het hy in albei sy ministeriële hoedanighede baie vir die onderwys en ontwikkeling van swart, bruin en Indiërmense gedoen.[95] Sy eerste begroting, wat hy op 28 Februarie 1940 voorlê het, was die eerste ná 10 jaar waarop daar geen wysiging voorgestel is nie.[96] Een van die bepalings was om die inkomstebelastingkorting van 30% af te skaf. Buitensporig hoë winste is ook bykomend belas.[97] ’n Aanvullende begroting later in die jaar het nog £33 000 000 vir die voortsetting van die oorlog gevra, wat ’n totaal beteken het van £128 000 000 vir die jaar, waarvan £74 000 000 vir militêre uitgawes bestem was. Alle belasting is verhoog, maar daar was geen ernstige kritiek nie. Belastings, lenings en uitgawes is deur die begroting van 1941-’42 verder verhoog; veral die nuwe belasting op die wins op grondverkope en die handelswinsheffing was ongewild.[98]
In 1941 het Hofmeyr vir die eerste keer die gevolge van ooreising begin voel, maar hy het bly voortwerk sonder om homself te ontsien. Teen 1942-’43 het sy finansiële beleid volgehoue teenkanting binne sowel as buite die parlement gewek het hy die bynaam “Jan Taks” gekry. Daar is aangevoer dat sy begrotings bloot ondernemings vir die invordering van belasting was, wat die ekonomie geen vorm of rigting gegee het nie; en daar is beweer dat sy buitensporige belasting, veral die gehate oorwinsbelasting, die toekomstige ontwikkeling van die nywerheid verlam het; en voorts is daar gesê dat die staatskuld ’n ondraaglike las vir die nageslag sou word, hoewel Hofmeyr nooit meer as 50 persent van die militêre uitgawes deur middel van lenings gedek het nie.
Latere ontwikkelings het Hofmeyr se verontagsaming van sy kritici geregverdig; op dié tydstip egter het sy onkreukbaarheid, skynbare koppigheid en afsydige, meerwaardige houding sy kritici egter verbitterd gemaak. Die begroting van 1943 was so drasties as moontlik in ’n land wat nie in sy oorlogspoging verenig was nie: alle belasting, regstreeks en onregstreeks, is met bykans £164 000 000 verhoog; die militêre uitgawes het £96 000 000 beloop, waarvan die helfte uit inkomste verkry is. Die opposisie was van mening dat hy die myne nie swaar genoeg belas het nie, en beweer dat hy ’n werktuig van die Kamer van Mynwese was, terwyl toonaangewende persone in die nywerheid hom as hul aktiewe vyand beskou het. In werklikheid het hy soveel moontlik van die myne geneem sonder om ernstige skade aan te rig, maar 1943 was waarskynlik die jaar waarin sy gewildheid in die Verenigde Party begin afneem het.
In 1943 het die kwessie van die okkupasie van grond deur Indiërs weer kop uitgesteek. Smuts het 'n wetsontwerp ter tafel gelê wat die beperkings op Indiërs om eiendom te besit, verder verleng het. Hofmeyr het die maatreël bestry omdat dit teen Indiërs gediskrimineer het. Hy het die Volksraad meegedeel dat elke keer wanneer hulle 'n toegewing maak aan hul rassevooroordeel, verlaag dit die morele fondament van die leierskap wat blankes in Suid-Afrika geniet het. Hy was dus gekant teen die diskriminerende bepalings van die wet.[99] Sy beginselvastheid het dit vir hom onmoontlik gemaak om die talryke netelige kwessies in die Suid-Afrikaanse politiek te ontwyk. Toe Underhill aan hom skryf dat hy hoop dat hy Smuts se opvolger sou word, het Hofmeyr geantwoord dat dit onmoontlik was want hy was totaal uit voeling met die sentimente van blankes in Suid-Afrika.[100] Nogtans het hy maklik daarin geslaag om Johannesburg-Noord in die algemene verkiesing van Julie 1943 te behou.
In Desember daardie jaar het hy die sewende sitting van die Verteenwoordigende Naturelleraad in Pretoria geopen en gesê dat hy nooit die beleid aanvaar het waarvolgens die swart mense in hul eie rigting moes ontwikkel indien dit bloot ’n dekmantel sou wees om hulle op wat belanghebbende wit mense as hul plek beskou, te hou nie. Swart mense moes self toegelaat word om te besluit watter aspekte van hul eie kultuur bewaar behoort te bly.[101]
Die begroting van 1944 sorg in ’n mate vir groter bestaansbeveiliging vir alle rasse en ook vir klein verhogings in die swart mynwerkers se belaglik lae lone. Bestaansbeveiliging oor die algemeen kry sowat £1 000 000; militêre uitgawes £102 500 000. Hofmeyr het daarin geslaag om getuienis aan te voer wat kritiek op die oorwinsbelasting weerlê het. Al was hy reeds oorlaai met werk, het Hofmeyr tydens die oorlog namens kollegas waargeneem wat siek of uit Pretoria afwesig was, en hy het derhalwe dikwels as waarnemende eerste minister opgetree wanneer genl. Smuts in die buiteland was. In September 1944 het hy egter self ’n kort besoek aan Egipte en Italië gebring om die troepe te sien en ook iets van die oorlogspoging waartoe hy so baie bygedra het.[102]
Met die begroting van 1945 het die oorgang van oorlog tot vrede begin; die totale uitgawe het £189 000 000 beloop, waarvan £106 500 000 vir niemilitêre doeleindes was. Belasting het so hoog gebly en die kritiek so fel as ooit. Die Nasionaliste was verontrus oor die beoogde besteding van nog £255 000 aan swart onderwys; dit, asook Hofmeyr se hele Wet op die Finansiering van Naturelle-onderwys – wat vir die eerste maal in die geskiedenis van Suid-Afrika vir swart onderwys uit die algemene inkomste voorsiening gemaak het – is ook deur die Verenigde Party se verteenwoordigers van plattelandse setels gekritiseer.[103]
In Oktober 1945 het Hofmeyr na Engeland gereis om by Oxford die eredoktorsgraad D.C.L. te ontvang, en ook om as lid van die Geheime Raad ingesweer, deur die koning ontvang en deur kabinetsministers onthaal te word.[104] Sy rede voor die Empire Parliamentary Association oor South Africa Today is voor die einde van dié jaar deur die vereniging gepubliseer. Hy het ook die Verenigde Volke se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasies (Unesco) toegespreek, waarvan hy adjunk-president was. Die volgende jaar het hy genoot van Balliol en ere-Bencher van Gray’s Inn geword. Maar in Suid-Afrika het die Verenigde Party te midde van die na-oorlogse reaksie eers stemme en toe setels in tussenverkiesings verloor. Dit het gelyk of die party se meerderheid by die volgende algemene verkiesing sou krimp en, met stygende lewensduurte, woningnood en vertraging met demobilisasie het Hofmeyr se ongewilde finansiële beleidsrigtings baie skuld hiervoor gekry.
Die begroting van 1946 het sy kritici verder opgewek. Belasting is verminder, maar die gehate oorwinsbelasting is behou, terwyl uitgawes – waarvan ’n groot gedeelte aan pensioene, volkswelsyn, gesondheid, wetenskaplike navorsing en swart onderwys toegesê is – die bedrag van £188 000 000, die hoogste tot dusver, beloop het. Vier vyfdes van sy ministeriële salaris is in die Deo-Gratia-fonds gestort, wat hy in Desember 1945 vir swart onderwys gestig het. Hofmeyr het, ná ’n sielestryd die Wet op Asiategrondbesit en Indiërverteenwoordiging van 1946 aanvaar, wat minstens beperkte regte aan die Indiërs verleen het. Dit was tydens ’n debat oor hierdie wetsontwerp dat Hofmeyr sy noodlotswangere verklaring gedoen het: “Ek neem standpunt in ten gunste van die uiteindelike opheffing van die kleurslagboom in ons Grondwet,” ’n verklaring wat die Nasionaliste nóg hom nóg die Verenigde Party ooit sou laat vergeet.[105] Teen die middel van 1946 het Hofmeyr aan ’n ernstige nieraandoening gely en die gevolge van ooreising gevoel; hy was in die tydperk van 1941 tot ’45 verantwoordelik vir 112 van die 264 wetsontwerpe wat die parlement aangeneem het. Baie sakelui wou die oorwinsbelasting en die handelswinsheffing dadelik opgehef hê en hulle wou ook hê N.C. Havenga moes terugkeer as leier van ’n sentrale party, ontslae van sowel Malan as Hofmeyr op die twee vleuels.[106]
Daar was ook druk uit 'n ander oord op die regering. Die Naturelle Verteenwoordigende Raad het in Pretoria ontmoet vir hul jaarlikse vergadering.[107] Die Raad het kennis geneem van die "Atlantic Charter" en die besluite van die Verenigde Volke en daarom 'n beroep op die regering gedoen om onmiddellik alle diskriminerende wette te herroep.[108] Hofmeyr het hulle probeer paai, maar dit het niks gehelp nie. Die Raad het besluit om te verdaag tot tyd en wyl 'n aanvaarbare antwoord van die regering ontvang word.[109] Daarna sou hulle net gelykheid eis en wou hulle niks meer te doen gehad het met verligting en verbetering nie.[110]
Hofmeyr se liberale reputasie was vir die Verenigde Party egter ’n veel ernstiger nadeel. Tot die algemene verkiesing, en veral ná omstreeks September 1947, is sy opvattings skerp deur sy politieke teenstanders aangeval. Hulle het soms gebruik gemaak van oordrywing wat sy politieke aansien binne die konserwatiewe geledere van sy eie party benadeel het. Terselfdertyd het sy teenstanders opreg geglo dat dit die ondergang van die land sou beteken as daar ooit uitvoering gegee sou word aan die oortuigings van ’n man wat verklaar het dat swart mense en Indiërs uiteindelik deur hul eie mense in die Volksraad verteenwoordig sou word. Namate die verkiesingsjaar 1948 genader het, is daar ál meer aandag aan hierdie argumente geskenk, want die kiesers het begin onrustig raak oor die verloop van wêreldsake. Hofmeyr self het in ’n ongerymde posisie verkeer: sy strenge beginselvastheid het dit vir hom bykans onmoontlik gemaak om homself te verdedig. Die ambisie en selfvertroue van sy vroeëre jare was aan die kwyn; hy het nie meer begeer om Smuts op te volg nie, maar dit het hom seergemaak dat so baie lede van die Verenigde Party ook nie wou hê dat hy moes nie. Belastings is in die begroting van 1947 verminder en sommige van die mees verfoeides is opgehef, onder meer die oorwinsbelasting.
In Oktober 1947 het Hofmeyr ’n belangrike rol in die onderhandelings gespeel wat tot die lening van £80 000 000 aan die Verenigde Koninkryk gelei het. Teen dié tyd was sy geneeshere baie besorg oor sy gesondheid[111] en op 15 Januarie 1948 is hy losgemaak van die portefeulje van finansies, terwyl hy onderwys behou, mynwese bygekry het en amptelik tot adjunk-premier benoem is, ’n aanstelling wat Smuts se vooruitsigte moontlik onherstelbaar kon beskadig.[112] Hofmeyr het ’n opmerking gemaak dat “apartheid” (’n benaming wat sedert omstreeks dié tyd aan die Nasionale Party se amptelike beleid van afsonderlike ontwikkeling gegee is), as dit ooit uitgevoer sou word, ’n afgestompte wit staat omring deur swart tot gevolg sou hê. Pogings is aangewend om hom op hierdie grondslag en op ander maniere te verdedig, maar die Verenigde Party het in wanorde verkeer en Hofmeyr het die middelpunt van hierdie wanorde gevorm. Nogtans was die Nasionale Party-oorwinning van 26 Mei 1948, hoewel naelskraap, vir almal – met inbegrip van die oorwinnaars – ’n verrassing.
Toe die verbitterde wedersydse verwyte bedaar, was dit duidelik dat Hofmeyr nog die ietwat teësinnige vertroue van die Verenigde Party geniet het, maar self was hy net so onbeslis as ooit oor die stigting van ’n liberale party. Die vae aard van sy opvattings het aan die lig gekom in ’n reeks artikels wat hy in Oktober en November 1948 in die Johannesburgse dagblad The Star gepubliseer het. Hy het die uiterstes van onderdrukking of gelykheid verwerp en ’n blanke, Christelike voogdyskap oor swart mense bepleit, ’n voogdyskap in die belang van die bevoogde en nie van die trustee nie. Hy het die vraag gestel: “Wat sal gebeur wanneer die bevoogde grootword?”, maar het nie ’n antwoord hierop gegee nie. Sy vroeëre verklarings het egter genoeg implikasies bevat om sy teenstanders in staat te stel om self die mees benadelende antwoorde daarop te verskaf en wat tot die nederlaag van die Verenigde Party by die stembus gelei het. Daar bestaan egter geen aanduidings dat Hofmeyr iets daarmee te doen gehad het dat Smuts ’n geleentheid versuim het – as daar ooit so ’n geleentheid was – om met Havenga tot ’n ooreenkoms te kom en die nuwe Malan-regering op dié wyse uit te lig nie. Afgesien van gematigde kritiek op die begroting en ’n skerp aanval op apartheid, wat volgens Hofmeyr onmoontlik was, terwyl ’n gemeenskaplike samelewing slegs uiters moeilik sou wees, het hy verder weinig deelgeneem aan die eerste sitting van die nuwe parlement. Die betekenisvolheid van die neerlaag, waarvan hy terdeë bewus was, het hom blykbaar ontmoedig, terwyl sy gesondheid vinnig aan die kwyn was.
Na die 1948-sitting van die Parlement het die Verenigde Party 'n nuwe naturellebeleid opgestel. Die party was ten gunste van blanke leierskap en gesag, terwyl die vorige beleid ondersteuning van blanke beskawing was. Die nuwe beleid het die "feitlike situasie", naamlik dat daar verskille tussen blankes en naturelle was, in ag geneem en daarom gelykheid afgekeur en eerder sosiale en residensiële skeiding ondersteun. Hulle was ook gekant teen rassevermenging.[113] Vroeg in November 1948 het hy begin skryf aan 'n artikel in die Star-koerant met die titel Christelike trusteeskap as enigste bevredigende naturellebeleid. Daarin het hy menslike- en rassegelykheid verwerp, maar gelykheid van geleenthede ondersteun.[114]
Tydens die moeilike tyd na die 1948-verkiesing het sy Christelike geloof hom deurgedra soos so dikwels in die verlede. Hy was ’n baie aktiewe lid van die Christen-Studentevereniging en vir die laaste nege jaar van sy lewe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad van die Christelike Vereniging vir Jongmanne (Y.M.C.A. in Engels). Dit was vir hom ’n riem onder die hart om te dink sommige van die standpunte wat hy ingeneem het, sou dalk Christelike jongmanne kon begeester en bemoedig.
Hofmeyr het in die nag van 26 November 1948 ’n hartaanval gekry en sterf ’n week later op 3 Desember, amper ses maande nadat die Nasionale Party die bewind oorgeneem het met hulle slagspreuk van apartheid.[115] Hy is op 5 Desember, toevallig die VP se 14de verjaardag, begrawe vanuit die NG kerk in Bosmanstraat, Pretoria, en in die Nuwe Begraafplaas ter aarde bestel. Sy begrafnisstoet was twee myl lank en langs die strate het na raming altesaam sowat 10 000 rouklaers gestaan. Genl. Smuts het sowel by sy graf as die vorige aand hulde betoon aan Hofmeyr toe hy tydens ’n landswye radio-uitsending gesê het: "Hier was die wonderkind van Suid-Afrika, met ’n rekord wat in Suid-Afrika geen gelyke ken nie en wie se ster aan die einde nog aan die opkom was... Hy het gesterf, maar sy diens en die verhewe gees waarin hy getrag het om die land en sy medemens van alle rasse te dien, is vir ons blywende besittings. Dit is ’n ryker en beter land danksy sy diens, en sy boodskap sal nie vergeet word nie." Sy moeder het hom langer as 10 jaar oorleef.
Voordat Hofmeyr skool toe gegaan het, het sy ma hom geleer dat God nie onderkei tussen ryk en arm of wit en swart nie, want voor Hom was almal gelyk.[11]
By die debatsvereniging van die Suid-Afrikaanse Kollege was hy 'n sterk ondersteuner van die Kaapse liberale tradisie. Nie-blankes moes, indien hulle die nodige kwalifikasies gehad het, toegelaat word om aan die regering deel te neem. Volgens hom was daar breedweg twee naturellebeleide moontlik. Die eerste een was 'n beleid van segregasie, 'n beleid van onderdrukking, 'n beleid van die donker eeue. Die ander een was die verligte beleid, wat nie geïnspireer was deur vooroordeel nie, maar deur politieke wysheid, geregtigheid, dienstigheid en noodsaaklikheid. Laasgenoemde was die beleid wat hy ondersteun het.[116]
Hofmeyr het onwrikbaar by sy (verligte) beginsels gestaan en byvoorbeeld in 1936 teen Hertzog se Wet op Naturelleverteenwoordiging gestem toe kollegas, onder wie Smuts, bereid was om die eerste minister te ondersteun. Die Parlement en kabinet is danksy sy beginselvaste standpunt toegelaat om na goeddunke te stem, maar in 1938 bedank hy uit die kabinet toe Hertzog minister A.P.J. Fourie in die Senaat aanstel wat nie ’n setel in die Unie-Volksraad kon kry nie, as een van die spesiale benoemdes vir hulle "vertroudheid met die redelike behoeftes en wense van die gekleurde mense van Suid-Afrika". Hofmeyr het geglo die nuwe verteenwoordiger het nie oor een van die vereistes beskik nie. Hy is terselfdertyd uit sy party se koukus geskop. Dit is ook ’n ope geheim dat sy opvattings oor die Indiërkwessie hom meer as een keer in stryd met Smuts gebring het. Met betrekking tot die senatorskap het hy standpunt ingeneem vir goeie en eerlike regering, maar in die kleurvraagstuk het hy gehou by sy beginsel van nierassige regering in die beste tradisie van Kaapse liberalisme. Oor of hy later sover sou gaan om hom by die Liberale Party (wat in 1953 uit die Verenigde Party ontstaan het) te skaar, kan net bespiegel word, maar in breë trekke was hy iemand wat die liberalisme voorgestaan het, veral ten opsigte van die erkenning van mense se menswaardigheid ongeag hul ras. Dit was na baie mense se mening sy sterk punt, maar vir baie van sy partygenote wat dit juis ’n swakheid: hulle was nie bereid om so ver te gaan nie en ná die verkiesing van 1948 het baie hom vir sy oortuigings verkwalik wat hulle gevoel het bygedra het tot die VP se nederlaag. Reeds voor die verkiesing het hy die skuld gekry vir sir De Villiers Graaff se nederlaag in die tussenverkiesing in Hottentots-Holland op 15 Januarie 1947 toe hy sy liberale standpunte uitgelig het tydens ’n toespraak en dit, na baie se mening, tot ’n oorwinning deur die Nasionale Party se H.J. van Aarde met 637 stemme gelei het. Tydens die verkiesing was Hottentots-Holland dan ook die enigste kiesafdeling wat die VP by die NP kon afneem toe Graaff wen met ’n meerderheid van 571, weer teen Van Aarde.
Eregrade is aan hom toegeken deur die Universiteite van Kaapstad, Witwatersrand en Oxford.
Hofmeyr, wie se bydrae tot Suid-Afrika se oorlogspogings slegs deur dié van Smuts self oortref is, was ’n administrateur sonder gelyke, ’n onvermoeide werker, ’n briljante en edele mens en ’n denker wat sy tyd ver vooruit was, maar hy kon, met die oog op sy eie aard en dié van die Suid-Afrikaanse politiek, nie grootsheid bereik nie. Die merendeel van sy wit landgenote het hom met onbegrip, onrustigheid en soms met haat betrag; die liberale minderheid weer met gemengde gevoelens van verafgoding en ergernis. Toonaangewende gekleurdes het hom dalk bewonder, maar hulle kon nie begryp hoe moeilik sy posisie was nie. Aangesien hy hardnekkig aan die idee vasgeklem het dat hy meer goed binne as buite die Verenigde Party kon doen, kon hy nooit daarin slaag om die probleem op te los hoe om aan die party getrou te bly sonder om sy beginsels te kompromitteer nie.
Hy was – in die breedste sin van die woord – ’n voorstander van die liberalisme, veral in dié opsig dat hy mense as gelykes beskou het, ongeag hul ras, hoewel hy in die openbaar verplig is om ’n voorstander van gekwalifiseerde stemreg te wees ter wille van sy party.[117] Vir baie was sy liberale oortuigings sy sterk punt, maar in die oë van sy partygenote, sy swak punt. Hulle was nie bereid om so ver soos hy te gaan nie en ná die skoknederlaag van 1948 het baie hom so te sê tereggewys en verkwalik. Hy was gedurig ’n teiken vir die toenemend jingoïstiese Afrikaanse pers, wat sy droom van ’n nierassige samelewing bespot het.[118]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.