From Wikipedia, the free encyclopedia
Humanitas is 'n Latynse term wat verwys na menslikheid, beskaafheid en geneentheid.
Die woord humanitas is deur Cicero gebruik om die vorming van 'n ideale spreker (orator) te beskryf, wat na sy mening opgelei moes wees om oor 'n spektrum van karakterdeugde te beskik wat die persoon sou toerus vir die aktiewe lewe of publieke diens; dit sou naamlik 'n grondslag van geleerdheid insluit wat opgedoen word uit die bestudering van bonae litterae ("goeie briewe", d.i., klassieke literatuur, veral digkuns), wat asmede 'n bron van voorgesette verfyndheid en genoeglikheid sou wees in vryetyd en ontspanning, van jou jeug af tot in bejaardheid en tydens slegte en goeie welstand.[1]
Plinius die jongere het humanitas gedefinieer as die vermoë om jou minderes tot goedgesindheid aan te spoor sonder dat die hoëlui aanstoot neem (Ep. IX, 5).
By die herontdekking van die klassieke oudheid in die Renaissancetyd, is die konsep hoog aangeslaan deur die Italiaanse umanisti, beginnend by die vermaarde Italiaanse digter Petrarca, wat Cicero se aansporing tot die aankweek van die geesteswetenskappe beaam het, wat in die Renaissancetyd verstaan is as: grammatika, retoriek, digkuns, geskiedenis en etiek (of morele wetenskap).[2]
In 1333 het Petrarca in Liège, België, 'n manuskrip van Cicero se toespraak, Pro Archia, opgespoor en dit in sy eie hand oorgeskryf, wat naamlik die beroemde strofe van die apologie vir digkuns en litterae (briewe) bevat:
Haec studia adolescentiam alunt, senectutem oblectant, secundas res ornant, adversis perfugium ac solacium praebent, delectant domi, non impediunt foris, pernoctant nobiscum, peregrinantur, rusticantur. (Vertaling: "Hierdie studies is onderhoudend in jou jeug en 'n bron van vermaak in jou bejaardheid, dit is 'n toevoeging tot jou welstand, en bied 'n toevlug en vertroosting in teëspoed; dit skep by ons behae wanneer ons tuis is, sonder om 'n beslommernis in die wyer omgang mee te bring, en is snags ook by ons, wanneer ons reis en wanneer ons die platteland besoek").[3]
Petrarca het by hierdie aanhaling byval gevind en dikwels daarna verwys, en waar Cicero hom tot die frase "litterarum lumen", d.w.s. "die lig van literatuur" gewend het, het Petrarca in die kantlyn geskryf lumen litterarum en 'n skets van 'n lamp of kers aangebring. Die Liège-manuskrip is verlore en so ook Petrarca se afskrif daarvan, maar Petrarca se afskrif is "op een uitsondering na, aanduibaar die onderliggende manuskrip vir al die lateres" en Petrarca se kantaantekeninge het daarby behoue gebly.[4] Vir Petrarca, wat in baie opsigte 'n Middeleeuse man was, was dit tot spyt dat Cicero nie 'n Christen was nie, en hy was van mening dat Cicero sekerlik een sou wees as hy nie voor die geboorte van Jesus te sterwe gekom het nie. Die umanisti, wat Cicero se direkte opvolgers was, het sy humanitas nie gesien as in konflik met die Christenleer of 'n Christelike opvoeding nie.
Volgens die historikus Peter Gay, was die agtiende-eeuse Franse philosophes van die Verligting ontvanklik vir Cicero se selektiewe, stoïes-getinte heidenleer:
Die ideaal van humanitas is aanvanklik na Rome gebring deur die filosofiese kring om Scipio en is verder ontwikkel deur Cicero. Vir Cicero was humanitas 'n denkstyl en nie 'n formele doktrine nie. Dit het die mens se belang as 'n gekultiveerde wese beaam, 'n wese in beheer van sy etiese universum. Die man wat humanitas uitgeleef het was selfversekerd van sy waarde, beleefd jeens andere, betaamlik in sy sosiale omgang, en het 'n aktiewe politieke bydrae gelewer. Hy was benewens ook 'n man, wat die lewe met 'n moedige skeptisisme bejeen het: hy weet dat die vertroosting van die volksgeloof vir die meer goedgelowige skepsels as hyself beskore is, dat die lewe onseker is, en dat gesonde pessimisme voorrang geniet bo selfbedrieglike optimisme. Die mens word mens volgens sy eie definisie; hy word selfs goddelik: “Deus est mortali iuvare mortalem,” het Plinius die ouere geskryf, in sy vertaling van 'n Griekse stoïsyn, “god is die mens wat homself help.” Laastens sou die man wat humanitas beoefen gekultiveerd wees in sy estetiese ontvanklikheid en in die mate wat hy sy rede raadpleeg: "Cum musis,” het Cicero geskryf, “id est, cum humanitate et doctrina habere commercium".[5] Deugsaamheid, het Cicero benadruk, is niks anders as die natuur wat ontwikkel word tot 'n toppunt van perfeksie nie, en daar bestaan gevolglik 'n gelykenis tussen mens en god: "Est autem virtus nihil aliud quam in se perfecta et ad summum perducta natura; est igitur homini cum deo similitudio".[6]
Cicero se humanitas … het in die eerste eeu herleef in Lucius Annaeus Seneca se bewering – te midde van sy weeklag oor Romeinse brutaliteit – dat die mens iets onskendbaar vir die mens is: “homo res sacra homini”; en sou weereens te voorskyn kom in Kant se agtiende eeuse beroep op menslike selfbeskikking en in Voltaire se vrome opdrag: “Gedenk jou waardigheid as mens.” In die aanvang van sy Meditasies, het keiser Marcus Aurelius uitgewei oor 'n essensiële opgawe van kwaliteite wat in samehang die verdienstelikhede uitmaak wat Cicero die humanitas genoem het en wat die philosophes gehoop het om in goeie maat te besit, naamlik: ingetoënheid, selfbeheer, manhaftigheid, weldadigheid, doelmatigheid, vrygewigheid, beredeneerdheid, verdraagsaamheid, en inskiklikheid aan natuurvoorskrifte.[7]
Tydens die Aufklärung (oftewel die Duitse weergawe van die 18de-eeuse Verligting) is die term "Humanität" gebruik vir die intellektuele, fisieke en morele samestelling van "'n beter menseskepsel" (of Humanisme) deur immersie in die artistieke en literêre baanbrekerswerke van antieke Griekeland (wat teruggryp na die oorspronklike korrelasie van die term met die Antieke Griekse konsep van paideia). Dit is onder andere gebruik deur Johann Gottfried Herder in sy Briefe zur Beförderung der Humanität (Briewe ter bevordering van Menslikheid) en deur Friedrich Schiller.
Humanitas, as welwillendheid, is 'n hoeksteen van die belydenis van Vrymesselary, en sekere ordes van Vrymesselary word "Humanitas" genoem.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.