menslike virale infeksie From Wikipedia, the free encyclopedia
Hepatitis B is ’n aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur die hepatitis B-virus (HBV), wat die lewer aantas.[1] Dit kan beide akute en chroniese infeksies veroorsaak.[1]
Hepatitis B | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
’n Elektronmikrograaf van die hepatitis B-virus. | ||
ICD-10 | B16 - B19 | |
DiseasesDB | 5765 | |
MeSH | D006509 | |
Mediese waarskuwing |
Baie mense het geen simptome tydens die aanvanklike infeksie nie,[1] maar sommige kry skielike simptome soos braking, ’n geel vel, moegheid, donker urine en maagpyn.[1] Die aanvanklike simptome duur gewoonlik ’n paar weke en veroorsaak selde die dood.[1][2] Dit kan 30 tot 180 dae duur voor die simptome begin.[1]
Sowat 90% van dié wat om en by die tyd van hul geboorte besmet raak, ontwikkel chroniese hepatitis B, terwyl minder as 10% van mense wat ná die ouderdom van vyf besmet raak, dit ontwikkel.[3] Hoewel die meeste mense geen simptome het nie, kan sirrose en lewerkanker eindelik ontwikkel.[4] Dié komplikasies lei tot die dood van 15% tot 25% van mense met die chroniese siekte.[1]
Die virus word oorgedra deur blootstelling aan bloed of liggaamsvloeistowwe.[1] Infeksie om en by die tyd van geboorte of weens kontak kleintyd met ander mense se bloed is die mees algemene manier waarop hepatitis B opgedoen word in gebiede waar die siekte algemeen voorkom.[1] In gebiede waar die siekte skaars is, is dwelmgebruik en seks die algemeenste maniere van oordrag.[1] In die 1980's het tatoeëring en akupunktuur ook soms tot infeksies gelei, maar dit het minder algemeen geraak namate die sterilisasie van instrumente verbeter het.[5]
Die infeksie kan tussen 30 en 60 dae ná blootstelling gediagnoseer word, gewoonlik met ’n bloedtoets.[1] Die virus is een van vyf hoofoorsake van hepatitis. Die ander is hepatitis A, C, D en E.[6]
hepatitis B kan sedert 1982 met inenting voorkom word.[1][7] Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel inenting binne die eerste dag ná geboorte aan indien moontlik.[1] Dit werk sowat 95% van die tyd.[1] Daar word ook aanbeveel dat alle bloed vir hepatitis B getoets word voor ’n bloedoortapping en kondome gebruik word tydens seks om infeksie te voorkom.[1]
In mense wat chronies siek word, kan antivirale medikasie soos tenofovir of interferon nuttig wees, maar dit is duur.[1] ’n Leweroorplanting is soms nodig in die geval van sirrose.[1]
Sowat ’n derde van die wêreld se bevolking is in die een of ander stadium van hul lewe aangetas, insluitende 343 miljoen wat ’n chroniese infeksie het.[8][1][9] Meer as 750 000 mense sterf jaarliks aan hepatitis B,[1] waarvan 300 000 weens lewerkanker is.[10]
Die siekte is nou net algemeen in Oos-Asië en Afrika suid van die Sahara, waar tussen 5% en 10% van volwassenes ’n chroniese infeksie het.[1] In Europa en Noord-Amerika is die syfer minder as 1%.[1] Navorsing word gedoen na die moontlike vervaardiging van kos met HBV-inenting.[11]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.