Remove ads
5de president van Suid-Afrika From Wikipedia, the free encyclopedia
Matamela Cyril Ramaphosa (gebore 17 November 1952, Soweto) is 'n Suid-Afrikaanse prokureur, gewese vakbondleier, politikus en sakeman, sedert 15 Februarie 2018 die President van Suid-Afrika en sedert 18 Desember 2017 die president van die African National Congress (ANC). Daarbenewens het hy vanaf 10 Februarie 2020 tot 6 Februarie 2021 as president van die Afrika-unie gedien. Ramaphosa was 'n groot figuur in Suid-Afrikaanse nasionale politiek, het daarna 'n prominente figuur in die besigheidsgemeenskap geword, en toe weer teruggekeer na die politiek.
Cyril Ramaphosa | |
Cyril Ramaphosa in 2018 | |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 15 Februarie 2018 | |
Vise | David Mabuza (2018–2023) Paul Mashatile (sedert Maart 2023) |
---|---|
Voorafgegaan deur | Jacob Zuma |
President van die Afrika-unie | |
Ampstermyn 10 Februarie 2020 – 6 Februarie 2021 | |
Voorafgegaan deur | Abdel Fattah el-Sisi |
Opgevolg deur | Félix Tshisekedi |
President van die African National Congress | |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 18 Desember 2017 | |
Vise | Paul Mashatile |
Voorafgegaan deur | Jacob Zuma |
Voorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie | |
Ampstermyn 3 Junie 2014 – 2018 | |
President | Jacob Zuma |
Voorafgegaan deur | Trevor Manuel |
Opgevolg deur | Nkosazana Dlamini-Zuma |
Ampstermyn 26 Mei 2014 – 15 Februarie 2018 | |
President | Jacob Zuma |
Voorafgegaan deur | Kgalema Motlanthe |
Opgevolg deur | David Mabuza |
Adjunkpresident van die African National Congress | |
Ampstermyn 18 Desember 2012 – 18 Desember 2017 | |
President | Jacob Zuma |
Voorafgegaan deur | Kgalema Motlanthe |
Opgevolg deur | David Mabuza |
Sekretaris-generaal van die African National Congress | |
Ampstermyn 1 Maart 1991 – 18 Desember 1997 | |
President | Nelson Mandela |
Voorafgegaan deur | Alfred Baphethuxolo Nzo |
Opgevolg deur | Kgalema Motlanthe |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | 17 November 1952 Soweto, Transvaal, Unie van Suid-Afrika |
Politieke party | African National Congress |
Eggenoot/-note | Hope Ramaphosa (1978–1989, geskei) Nomazizi Mtshotshisa (1991–1993, geskei) Tshepo Motsepe (1996–) |
Kind(ers) | 5 |
Alma mater | Universiteit van Limpopo Universiteit van Suid-Afrika |
Gerespekteer as 'n vaardige en rekeningswaardige onderhandelaar en strateeg, is Ramaphosa beter bekend vir die oprigting van die grootste en magtigste werkersunie in Suid-Afrika – die Nasionale Unie van Mynwerkers van Suid-Afrika (NUMSA) – sowel as vir die kritieke rol wat hy gespeel het, saam met Roelf Meyer van die Nasionale Party, gedurende die onderhandelinge om 'n vreedsame einde te bring aan apartheid en om die land gereed te maak vir die eerste demokratiese verkiesing in April 1994.
Hy is getroud met dokter Tshepo Motsepe, suster van die mynmagnaat Patrice Motsepe, en hulle het vyf kinders.
Alhoewel hy die grootste deel van sy kinderjare in Soweto deurgebring het, het hy in 1971 aan die Mphaphuli Hoërskool in Sibasa, Venda, gematrikuleer. Hy het vervolgens geregistreer om regte aan die Universiteit van die Noorde (Turfloop) te studeer in 1972.
Op universiteit het Ramaphosa betrokke geraak by studentepolitiek, en hy het by die Suid-Afrikaanse Studenteorganisasie (SASO) en die Black People's Convention (BPC) aangesluit. Dit het gelei tot sy arrestasie en gevolglike alleenaanhouding vir elf maande in 1974 ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme, vir sy betrokkenheid in die organisasie van pro-Frelimo byeenkomste. In 1976 is hy weer in hegtenis geneem, en vir ses maande aangehou.
Na sy vrylating het hy 'n regsklerk by 'n Johannesburgse prokureursfirma geword en sy studies voortgesit deur die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), waar hy sy B.Prok.-graad in 1981 behaal het.
Nadat hy sy graad ontvang het, het Ramaphosa by die Raad van Unies van Suid-Afrika (CUSA) aangesluit as regsadviseur. In 1982 het CUSA Ramaphosa gevra om 'n vakbond vir mynwerkers te begin; die nuwe vakbond is in dieselfde jaar gestig, en die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) genoem. Ramaphosa is hierna in Lebowa gearresteer op die aanklag dat hy 'n byeenkoms in Namakgale georganiseer het, of beplan het om dit by te woon, wat verban is deur die plaaslike magistraat.
Ramaphosa is verkies tot die eerste sekretaris-generaal van die unie, 'n posisie wat hy beklee het tot sy bedanking in Junie 1991, na sy verkiesing as die sekretaris-generaal van die African National Congress. Onder sy leierskap het die unie se lidmaatskap gegroei van 6 000 in 1982 tot 300 000 in 1992 wat dit beheer gegee het oor amper die helfte van die totale swart arbeidsmag in die Suid-Afrikaanse mynbedryf. As sekretaris-generaal het hy ook die mynwerkers in een van die grootste stakings in Suid-Afrikaanse geskiedenis gelei.
In 1985 het NUMSA weggebreek van CUSA en het gehelp in die oprigting van die Congress of South African Trade Unions (COSATU). Toe COSATU aangesluit het by die United Democratic Front (UDF), 'n politieke beweging teen die Nasionale Party regering van P.W. Botha, het Ramaphosa 'n leidende rol gespeel in wat bekend geword het as die Mass Democratic Movement (MDM).
Toe Nelson Mandela vrygelaat is uit die gevangenis, het Ramaphosa op die Nasionale Ontvangskomitee gedien.
Saam met sy verkiesing as die Sekretaris-Generaal van die ANC in 1991 het hy die hoof van die onderhandelingspan van die ANC geword, wat oor die vreedsame oorgang na demokrasie met die Nasionale Party-regering onderhandel het. Na die eerste werklike demokratiese verkiesing in 1994 het Ramaphosa 'n lid van die Parlement geword; en is hy verkies as die Voorsitter van sy Grondwetlike Vergadering (Engels: Constitutional Assembly) op 24 Mei 1994 en het 'n sentrale rol gespeel in die regering van nasionale eenheid.
Nadat hy die wedloop verloor het om die President van Suid-Afrika te word teen Thabo Mbeki, het hy bedank uit sy politieke poste in Januarie 1997 en aangesluit by die private sektor, waar hy die direkteur van die Nuwe Afrika Beleggings Beperk geword het. Nogtans het hy 'n lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC gebly.
Alhoewel hy nie 'n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) is nie, het Ramaphosa verklaar dat hy 'n toegewyde sosialis is.
Sedert 26 Mei 2014 beklee Ramaphosa die amp van Adjunkpresident van Suid-Afrika en sedert 18 Desember 2017 dien hy as die ANC se president.
Op 10 Februarie 2020 het Cyril Ramaphosa die presidentskap van die Afrika-unie oorgeneem en Abdel Fattah el-Sisi in dié amp opgevolg. Op 6 Februarie 2021 is hy deur Félix Tshisekedi uit die Demokratiese Republiek die Kongo opgevolg.
Op 5 Mei 2021 word 'n brief gesirkuleer waarin die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, aandui dat hy Ramaphosa uit die party skors. Volgens die brief hou die skorsing verband met bewerings dat Ramaphosa omkoopgeld gebruik het om sy verkiesing as ANC-president in 2017 te bewerkstellig.[1] Die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, dui egter op sy beurt aan dat Magashule nie by magte is om só 'n brief te skryf nie, aangesien hy self geskors is.[2] In die onmiddellike nadraai van hierdie sage hou Ramaphosa aan om sy take as president van beide Suid-Afrika en die ANC te verrig.
Ramaphosa het in 2004 die pos van die uitvoerende voorsitter van Shanduka Holdings beklee, 'n maatskappy wat hy gestig het om deel te neem in swart ekonomiese bemagtigingstransaksies. Hy was ook voorsitter van Johnnic Holdings, Bidvest Group en die MTN Groep. Sy ander nie-uitvoerende direkteurskappe was Macsteel Holdings, Alexander Forbes, Standard Bank en Medscheme.
Ramaphosa het ere-doktorsgrade ontvang van die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Universiteit van Port Elizabeth, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Noorde, die Universiteit van Lesotho en die Universiteit van Massachusetts. In Oktober 1991 was hy ook 'n besoekende Professor in Regte by Stanford Universiteit.
Ramaphosa het ook in Oktober 1987 die Olof Palme toekenning in Stockholm ontvang.
In sy rol as sakeman was Ramaphosa 'n lid van die Coca-Cola-maatskappy se Internasionale Adviseursraad sowel as die Unilever Afrika Adviseursraad. Hy was ook die eerste adjunk-voorsitter van die Commonwealth Business Council.
Saam met die oud-president van Finland, Martti Ahtisaari, is hy aangewys as 'n inspekteur van die Ierse Republikeinse Lëer (IRL) se ontwapening in Noord-Ierland. Ramaphosa dien ook op die Internasionale Kommissie van Intervensie en Staatsoewereiniteit en is die Ere-Konsulgeneraal vir Ysland in Suid-Afrika.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.