C/2022 E3 (ZTF) is 'n langperiodekomeet wat op 2 Maart 2022 deur die Zwicky Transient Facility in Kalifornië, VSA, ontdek is[1] en 'n wentelperiode van 50 000 jaar het. Die komeet het sy perihelium op 12 Januarie 2023 bereik, op 'n afstand van 1,11 AE van die Son af en sy naaste afstand van die Aarde af op 1 Februarie 2023, op 'n afstand van 0,28 AE. Dit was in Januarie uit die Noordelike Halfrond sigbaar en van vroeg Februarie af uit die Suidelike Halfrond.[3] Die komeet het 'n skynbare magnitude van 5 bereik en was in donker, maanlose omstandighede met die blote oog sigbaar.[4][5][6][7]

Kitsfeite Ontdekking, Ontdek deur: ...
C/2022 E3 (ZTF)
Thumb
C/2022 E3 (ZTF) op 27 Januarie 2023.
Ontdekking
Ontdek deur: Zwicky Transient Facility
Ontdekkingsdatum: 2 Maart 2022[1]
Wenteleienskappe
Afelium: ≈2 800 AE[2]
Perihelium: 1,112 AE
Eksentrisiteit: 1,00027
Wentelperiode: ≈50 000 jaar (op pad na Son)[2]
Baanhelling: 109,17°
Volgende perihelium (voorspel): 12 Januarie 2023
Sluit

Waarnemingsgeskiedenis

C/2022 E3 (ZTF) is op 2 Maart 2022 deur die sterrekundiges Bryce Bolin en Frank Masci ontdek met behulp van 'n opname deur die Zwicky Transient Facility (ZTF) in Kalifornië, VSA.[1] Die komeet het toe 'n skynbare magnitude van 17,3 gehad en was sowat 4,3 AE van die Son af. Dit is aanvanklik as 'n asteroïde geïdentifiseer, maar daaropvolgende waarnemings het 'n baie digte koma onthul, wat aangedui het dit is 'n komeet.[1][8]

Teen vroeg November 2022 het die komeet 'n magnitude van 10 bereik en skynbaar stadig in die Noordelike Kroon en Slang inbeweeg terwyl dit parallel met die Aarde beweeg het.[9] Die komeet het toe 'n groen koma, geel stofstert en dowwe ioonstert gehad. Dit was vroeg saans sigbaar en het teen einde November ook soggens sigbaar geword.[10]

Teen 19 Desmber het die komeet 'n groenerige koma, kort en breë stofstert en 'n lang en dowwe ioonstert gehad wat oor 2,5 grade gestrek het.[11] Dit het daarna noordwaarts begin beweeg, deur die Veewagter, Draak en Klein Beer, en 10 grade van Polaris af verby.[10]

Die komeet het op 12 Januarie 2023 sy perihelium bereik, op 'n afstand van 1,11 AE van die Son af, en sy naaste afstand van die Aarde af was op 1 Februarie 2023, op 0,28 AE. Op sy naaste afstand van die Aarde was dit naby die noordelike hemelpool sigbaar[12] en het dit in die Kameelperd gelê.[13] Op 10-11 Februarie het die komeet 1,5 grade van Mars af verbybeweeg en op 13-15 Februarie voor die Hiades-sterreswerm verby.[10]

Thumb
Posisies van die komeet C/2022 E3 (ZTF) aan die naghemel tussen 14 Januarie en 16 Februarie 2023.

Kleur

Die ongewone groen kleur is waarskynlik vanweë die teenwoordigheid van diatomiese koolstof, veral om die komeet se kop.[14] Die C2-molekule straal gewoonlik by infrarooi uit wanneer dit deur die Son se ultravioletstrale opgewek word, maar sy triplettoestand straal by 518 nm uit. Dit word geskep deur die fotolise van organiese materiaal wat van die kern verdamp, en daarom kom die groen in die kop voor, maar nie in die stert nie.[15][16]

Verwysings

Skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.