From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Bengaalse Krieketraad (Engels: Bangladesh Cricket Board, afgekort “BCB”; Bengaals: বাংলাদেশ ক্রিকেট বোর্ড), voorheen bekend as die Bengaalse Krieketbeheerraad (Bangladesh Cricket Control Board, “BCCB”), is die bestuursliggaam wat krieket in Bangladesj beheer. Die beheerliggaam is in 1972 gestig en by die Sher-e-Bangla Nasionale Krieketstadion in Dhaka gesetel. Sedert 2000 verteenwoordig dit Bangladesj by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en sedert 1983 ook by die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC).
Bengaalse Krieketraad | |
---|---|
Kenteken van die Bengaalse Krieketraad | |
Engelse naam | Bangladesh Cricket Board |
Afkorting | BCB |
Bengaalse naam | বাংলাদেশ ক্রিকেট বোর্ড |
Land | Bangladesj |
Sportsoort | Krieket |
Stigting | 1972 |
Lid van | Internasionale Krieketraad |
Aangesluit in | 1977 |
Vastelandse beheerliggaam | Asiatiese Krieketraad |
Voorsitter | Nazmul Hassan Papon |
Hoof- uitvoerende beampte | Nizam Uddin Chowdhury |
Setel | Sher-e-Bangla Nasionale Krieketstadion, Mirpur, Dhaka, Bangladesj |
Amptelike tale | Engels en Bengaals |
Amptelike webwerf | tigercricket.com.bd |
Ná Bangladesj se onafhanklikheid van Pakistan is in 1972 die Bengaalse Krieketraad as die Bengaalse Krieketbeheerraad gestig.[1] In 1977 het hulle ’n geassosieerde lid van die IKR geword en op 26 Junie 2000 ’n volle lid en mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.[2] Daarbenewens was die Bengaalse beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).[3]
Die Bengaalse Krieketraad organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Bangladesj se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Tigers), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Bengaalse Krieketraad verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Bengaalse span.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Bangladesj. Net soos ander krieketlande beskik Bangladesj oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[4] Bangladesj A is die tweede nasionale span van Bangladesj en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Bangladesj is die Nasionale Krieketliga in eersterangse krieket (agt spanne), die Dhaka Premier Division Krieketliga in EDI-krieket (twaalf spanne) en die Bangladesj Premierliga in T20-krieket (sewe spanne).
Die Bengaalse Krieketraad organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die Kampioenetrofee 1998, die Krieketwêreldbeker 2011 (saam met Indië en Sri Lanka) en die T20I-wêreldbeker 2014. Saam met Indië sal Bangladesj ook die Krieketwêreldbeker 2031 aanbied.[5]
Die Bengaalse nasionale krieketspan se bynaam is The Tigers, genoem na die nasionale dier van Bangladesj, die tier.[6] Die Bengaalse Krieketraad se kenteken toon derhalwe ’n tier.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.